Studiehulp
Samuel, Ou Testamentiese Profeet


Samuel, Ou Testamentiese Profeet

Samuel, seun van Élkana en Hanna, is gebore in antwoord op sy moeder se gebed (1 Samuel 1). As ’n kind is hy in Eli, hoëpriester by die Tabernakel van Silo (1 Sam. 2:11; 3:1), se sorg geplaas. Die Here het vir Samuel op ’n jong ouderdom geroep om ’n profeet te word (1 Sam. 3). Na Eli se dood het Samuel die groot profeet en rigter van Israel geword en het wet, orde en gereelde godsdienstige aanbidding in die land herstel (1 Sam. 4:15–18; 7:3–17).

1 Sam. 28:5–20 bevat ’n verslag oor Samuel wat teruggebring is uit die dode deur die heks van En-Dor op Koning Saul se versoek. Dit kon nie ’n visioen van God gewees het nie, omdat ’n heks of ’n ander geestelike medium nie ’n profeet kan beïnvloed om op sy of haar versoek te verskyn nie.

Die boeke van 1 en 2 Samuel

In sommige Bybels is die boeke van 1 en 2 Samuel een boek. In andere is hulle twee boeke. Die boeke dek ’n tydperk van ongeveer 130 jaar, vanaf die geboorte van Samuel tot net voor die dood van Koning Dawid.

Die boek van 1 Samuel

Hoofstukke 1–3 beskryf dat die Here Eli se gesin vervloek en gestraf het, en vir Samuel as hoëpriester en rigter geroep het. Hoofstukke 4–6 vertel hoe die ark van die verbond in die hande van die Filistyne geval het. Hoofstukke 7–8 teken Samuel se waarskuwings aan oor valse gode en goddelose konings. Hoofstukke 9–15 beskryf Saul se kroning en sy heerskappy as koning. Hoofstukke 16–31 bevat die geskiedenis van Dawid en sy magsverkryging—Samuel het Dawid, wat vir Góliat gedood het, gesalf. Saul het vir Dawid gehaat, maar Dawid het geweier om Saul dood te maak alhoewel hy geleentheid gehad het om dit te doen.

Die boek van 2 Samuel

Die boek bevat die besonderhede van die heerskappy van Dawid as koning van Juda en uiteindelik van die hele Israel. Hoofstuk 1–4 handel oor ’n lang stryd tussen die volgelinge van Dawid, nadat hy deur Juda gekroon is, en die volgelinge van Saul. Hoofstuk 5–10 toon hoe Dawid magtig geword het in baie lande. Hoofstuk 11–21 toon die afname van Dawid se geestelike krag as gevolg van sy sondes en die rebellie binne sy eie familie. Hoofstuk 22–24 beskryf Dawid se pogings om hom met die Here te versoen.