Studiehulp
God, Godheid


God, Godheid

Daar is drie afsonderlike persone in die Godheid, God, die Ewige Vader; sy Seun, Jesus Christus; en die Heilige Gees. Ons glo in elkeen van Hulle (Gel. Art. 1:1). Deur openbaring in die laaste dae leer ons dat die Vader en die Seun tasbare liggame het van vlees en been en dat die Heilige Gees ’n persoon van gees is, sonder vlees en been (L&V 130:22–23). Hierdie drie persone is een in volkome harmonie van doel en leerstellings (Joh. 17:21–23; 2 Ne. 31:21; 3 Ne. 11:27, 36).

God die Vader

Normaalweg word daar verwys na die Vader, of Elohim deur die titel God. Hy word die Vader genoem omdat Hy die vader van ons geeste is (Núm. 16:22; 27:16; Mal. 2:10; Matt. 6:9; Efés. 4:6; Hebr. 12:9). God die Vader is die opperheerser van die heelal. Hy is almagtig (Gén. 18:14; Alma 26:35; L&V 19:1–3), alwetend (Matt. 6:8; 2 Ne. 2:24), en alom teenwoordig deur sy Gees (Ps. 139:7–12; L&V 88:7–13, 41). Die mensdom het ’n spesiale verhouding met God wat die mens afsonder van alle ander geskape dinge: mans en vroue is God se geesteskinders (Ps. 82:6; 1 Joh. 3:1–3; L&V 20:17–18).

Daar is min gevalle opgeteken waar God die Vader aan die mens verskyn of tot hom spreek. Die skrifture sê dat Hy met Adam en Eva gespreek het (Moses 4:14–31) en vir Jesus Christus op verskeie geleenthede voorgestel het (Matt. 3:17; 17:5; Joh. 12:28–29; 3 Ne. 11:3–7). Hy het aan Stéfanus verskyn (Hand. 7:55–56) en aan Joseph Smith (JS—G 1:17). Later het Hy aan beide Joseph Smith en Sidney Rigdon verskyn (L&V 76:20, 23). Aan diegene wat God liefhet en hulleself voor Hom reinig, gun God somtyds die voorreg om vir hulself te sien en te weet dat Hy God is (Matt. 5:8; 3 Ne. 12:8; L&V 76:116–118; 93:1).

God die Seun

Die God wat bekend staan as Jehova is die Seun, Jesus Christus (Jes. 12:2; 43:11; 49:26; 1 Kor. 10:1–4; 1 Tim. 1:1; Openb. 1:8; 2 Ne. 22:2). Jesus werk onder die leiding van die Vader en is in volkome harmonie met Hom. Die hele mensdom is sy broers en susters, want Hy is die oudste van die geesteskinders van Elohim. Sommige skriftuurverwysings verwys na Hom met die woord God. Byvoorbeeld, die skrifture sê dat “God die hemel en die aarde geskape het” (Gén. 1:1), maar dit was eintlik Jesus wat die Skepper was onder leiding van God die Vader (Joh. 1:1–3, 10, 14; Hebr. 1:1–2).

God die Heilige Gees

Die Heilige Gees is ook ’n God en word onder andere die Heilige Gees, die Gees, en die Gees van God genoem. Met behulp van die Heilige Gees kan die mens die wil van God die Vader weet en weet dat Jesus die Christus is (1 Kor. 12:3).