Studiehulp
Lukas


Lukas

Die skrywer van die Evangelie van Lukas en die boek Handelinge in die Nuwe Testament en ’n sendingmetgesel van Paulus. Hy is uit Griekse ouers gebore en het as geneesheer gepraktiseer (Kol. 4:14). Lukas het ’n goeie opvoeding gehad. Hy het homself geïdentifiseer as ’n metgesel van die Apostel Paulus toe hy by Paulus in Troas aangesluit het (Hand. 16:10–11). Lukas was ook saam met Paulus by Filippi ten tye van Paulus se laaste reis na Jerusalem (Hand. 20:6) en die twee was saam tot hulle aankoms in Rome. Lukas was ook saam met Paulus gedurende sy tweede Romeinse gevangenisneming (2 Tim. 4:11). Volgens oorlewering het hy as ’n martelaar gesterf.

Die Evangelie van Lukas

’n Verslag wat Lukas geskryf het van Jesus Christus en sy aardse bediening. Die boek van die Handelinge van die Apostels is ’n voortsetting van die Evangelie van Lukas. Lukas het ’n goedgeskrewe verslag van Jesus se sending nagelaat waarin hy Jesus as die Saligmaker van beide Jood en nie-Jood voorstel. Hy het baie geskryf omtrent Jesus se leringe en dade. In Lukas kry ons die enigste verslae van die besoeke van Gabriël aan Sagaría en Maria (Lk. 1); die besoeke van die herders aan die baba Jesus (Lk. 2:8–18); Jesus by die tempel op ouderdom twaalf (Lk. 2:41–52); die aanstelling en uitstuur van die sewentig (Lk. 10:1–24); Jesus wat bloed sweet (Lk. 22:44); Jesus se gesprek met die misdadiger aan die kruis (Lk. 23:39–43); en Jesus wat vis en heuning eet na sy Opstanding (Lk. 24:42–43).

Vir ’n lys van gebeure in die Saligmaker se lewe wat in die Evangelie van Lukas beskryf word, sien Ooreenstemming van die Evangelies in die bylae.