Studiehulp
Nefi, Seun van Nefi, Seun van Helaman


Nefi, Seun van Nefi, Seun van Helaman

Een van die twaalf Nefitiese dissipels wat deur die herrese Jesus Christus in die Boek van Mormon gekies is (3 Ne. 1:2–3; 19:4). Hierdie profeet het kragtig gebid tot die Here in belang van sy volk. Nefi het die stem van die Here gehoor (3 Ne. 1:11–14). Nefi is ook deur engele besoek, het duiwels uitgedryf, het sy broer uit die dood opgewek en het ’n getuienis gegee wat nie betwyfel kon word nie (3 Ne. 7:15–19; 19:4). Nefi het die skriftuurlike kroniek bygehou (3 Ne. 1:2–3).

Die boek van 3 Nefi

’n Boek wat geskryf is deur Nefi, seun van Nefi, in die Boek van Mormon. Hoofstukke 1–10 toon die vervulling van die profesieë aangaande die koms van die Here. Die teken van Christus se geboorte is gegee; die volk het bekeer, maar toe het hulle teruggekeer na goddeloosheid. Uiteindelik het storms, aardbewings, hewige storms en groot vernietiging die dood van Christus aangekondig. Hoofstukke 11–28 teken Christus se koms na die Amerikas aan. Dit is die middelpunt van die boek van 3 Nefi. Baie van Christus se woorde is soortgelyk aan sy preke wat aangeteken is in die Bybel (byvoorbeeld Matt. 5–7 en 3 Ne. 12–14). Hoofstukke 29–30 is Mormon se woorde aan die nasies van die laaste dae.

Die boek van 4 Nefi

Hierdie boek het net nege en veertig verse, almal in een hoofstuk, tog dek dit byna driehonderd jaar van Nefitiese geskiedenis (34–321 n.C.). Verskillende geslagte van skrywers, insluitende Nefi, het bygedra tot die kroniek. Verse 1–19 vertel dat ná die herrese Christus se besoek al die Nefiete en Lamaniete bekeer is tot die evangelie. Vrede, liefde en harmonie het geheers. Die drie Nefitiese dissipels wat Christus toegelaat het om te vertoef op die aarde tot sy Tweede Koms (3 Ne. 28:4–9) het die mense gedien. Nefi het die kroniek nagelaat aan sy seun, Amos. Verse 19–47 is die kroniek van Amos se bediening (84 jaar) en dié van sy seun, Amos (112 jaar). In 201 n.C. het hoogmoed probleme begin veroorsaak onder die volk wat hulleself in klasse verdeel het en valse kerke begin het vir gewin (4 Ne. 1:24–34).

Die laaste verse van 4 Nefi toon dat die volk weer teruggekeer het na goddeloosheid (4 Ne. 1:35–49). In 305 n.C. het Amos, die seun van Amos, gesterf en sy broer Ammaron het al die heilige kronieke weggebêre vir veilige bewaring. Later het Ammaron die kronieke aan Mormon toevertrou wat baie gebeurtenisse opgeteken het aangaande sy eie leeftyd en hulle toe verkort het (Morm. 1:2–4).