Studiehulp
Dawid


Dawid

’n Koning van voortydse Israel in die Ou Testament.

Dawid was ’n seun van Isai van die stam van Juda. Hy was ’n dapper jong man wat ’n leeu, ’n beer en die Filistynse reus Góliat doodgemaak het (1 Sam. 17). Dawid is gekies en gesalf om koning van Israel te wees. Net soos Saul was hy in sy volwasse lewe skuldig aan ernstige misdade, maar anders as Saul, was hy in staat tot opregte berou. Hy was daarom in staat om vergifnis te ontvang, behalwe vir die moord van Uria (L&V 132:39). Sy lewe kan ingedeel word in vier dele: (1) by Betlehem, waar hy ’n skaapwagter was (1 Sam. 16–17); (2) by die hof van koning Saul (1 Sam. 18:1–19:18); (3) as ’n vlugteling (1 Sam. 19:18–31:13; 2 Sam. 1); (4) as koning oor Juda by Hebron (2 Sam. 2–4), en later as koning oor die hele Israel (2 Sam. 5–24; 1 Kon. 1:1–2:11).

Dawid se sonde van egbreuk met Bátseba is gevolg deur ’n aantal ongelukke wat die laaste twintig jaar van sy lewe bederf het. Die volk in geheel was voorspoedig gedurende sy heerskappy, maar Dawid self het gely onder die nagevolge van sy sondes. Daar was aanhoudende gesinsvetes, wat, in die geval van Absalom en Adónia, geëindig het in openlike rebellie. Hierdie insidente is ’n vervulling van die vloek deur Natan die profeet oor Dawid vanweë sy sonde (2 Sam. 12:7–13).

Ten spyte van hierdie rampspoed was Dawid se heerskappy die briljantste in Israel se geskiedenis want (1) hy het die stamme tot een nasie verenig, (2) hy het onbetwisbare besit van die land verseker, (3) hy het die regering gebaseer op die ware geloof sodat die wil van God die wet van Israel was. Om hierdie redes is Dawid se heerskappy later beskou as die nasie se goue eeu en is ’n sinnebeeld van die glorieryker eeu wanneer die Messias sou kom (Jes. 16:5; Jer. 23:5; Eség. 37:24–28).

Dawid se lewe illustreer die noodsaaklikheid vir alle mense om in regverdigheid te volhard tot die einde toe. As ’n jong man is daar gesê dat hy ’n man was na die Here se hart (1 Sam. 13:14); as ’n man het hy deur die Gees gespreek en het baie openbaringe gehad. Maar hy het ’n swaar prys betaal vir sy ongehoorsaamheid aan die gebooie van God (L&V 132:39).