Studiehulp
Sendbriewe van Paulus


Sendbriewe van Paulus

Veertien boeke in die Nuwe Testament wat oorspronklike briewe was wat geskryf is deur die Apostel Paulus aan lede van die Kerk. Hulle kan soos volg in groepe verdeel word:

1 en 2 Thessalonícense (50–51 n.C.)

Paulus het vanuit Korinte die sendbriewe aan die Thessaloniërs geskryf gedurende sy tweede sendingreis. Sy werk in Thessaloníka word beskryf in Handelinge 17. Hy wou na Thessaloníka terugkeer, maar was nie daartoe in staat gewees nie (1 Thes. 2:18). Hy het daarom vir Timótheüs gestuur om die bekeerlinge op te beur en om aan hom verslag te lewer oor hoe hulle gevorder het. Die eerste sendbrief is die resultaat van sy dankbaarheid oor Timótheüs se terugkeer. Die tweede sendbrief is ’n kort tydjie daarna geskryf.

1 en 2 Korinthiërs, Galásiërs, Romeine (55–57 n.C.)

Paulus het die sendbriewe aan die Korinthiërs geskryf gedurende sy derde sendingreis om vrae te beantwoord en om wanorde reg te stel onder die Heiliges in Korinte.

Die sendbrief aan die Galásiërs is moontlik aan baie Kerkeenhede geskryf dwarsdeur Galasië. Sommige lede van die Kerk was besig om die evangelie te versaak ten gunste van die Joodse wet. In hierdie brief het Paulus die doel van die wet van Moses en die waarde van ’n geestelike godsdiens verduidelik.

Paulus het die sendbrief aan die Romeine geskryf vanaf Korinte, gedeeltelik om die Romeinse Heiliges voor te berei vir ’n besoek wat hy gehoop het om aan hulle te bring. Hierdie brief herbevestig ook die leerstellings wat deur sommige Jode betwis is wat tot die Christendom bekeer het.

Filippense, Kolossense, Efésiërs, Filémon, Hebreërs (60–62 n.C.)

Paulus het hierdie sendbriewe geskryf terwyl hy die eerste keer in Rome in die gevangenis was.

Paulus het die sendbrief aan die Filippense geskryf hoofsaaklik om sy dankbaarheid en toegeneentheid aan die Heiliges in Filíppi te toon en om hulle op te beur weens die teleurstelling van sy lang slawerny.

Paulus het die sendbrief aan die Kolossense geskryf as gevolg van ’n berig dat die Heiliges in Kolossense besig was om ernstig af te dwaal. Hulle het geglo dat volmaaktheid net deur noulettende nakoming van uiterlike ordinansies kom in plaas van die ontwikkeling van Christelike eienskappe.

Die Sendbrief aan die Efésiërs is van groot belang want dit bevat Paulus se leringe aangaande die Kerk van Christus.

Die brief aan Filémon is ’n persoonlike brief oor Onésimus, ’n slaaf wat sy meester, Filémon, beroof het en na Rome weggeloop het. Paulus het vir Onésimus teruggestuur na sy meester met die brief met die versoek dat Onésimus vergewe moes word.

Paulus het die sendbrief aan die Hebreërs aan Joodse lede van die Kerk geskryf om hulle te oorreed dat die wet van Moses vervul is in Christus en dat die evangeliese wet van Christus dit vervang het.

1 en 2 Timótheüs, Titus (64–65 n.C.)

Paulus het hierdie sendbriewe geskryf nadat hy die eerste keer vrygelaat is uit die gevangenis in Rome.

Paulus het na Éfese gereis waar hy vir Timótheüs agtergelaat het om die ontwikkeling van sommige vorme van spekulasie stop te sit, met die bedoeling om later terug te keer. Hy het sy eerste sendbrief aan Timótheüs geskryf, miskien vanuit Macedónië, om hom raad te gee en aan te moedig om sy plig te vervul.

Paulus het die sendbrief aan Titus geskryf gedurende ’n tydperk waarin hy nie in die gevangenis was nie. Hy het moontlik Kreta besoek waar Titus gedien het. Die brief handel hoofsaaklik oor ’n regverdige leefwyse en dissipline binne die Kerk.

Paulus het sy tweede sendbrief aan Timótheüs geskryf terwyl hy vir die tweede keer in die gevangenis was, kort voor Paulus se marteling. Hierdie sendbrief bevat Paulus se laaste woorde en toon die wonderlike moed en vertroue waarmee hy die dood tegemoet gegaan het.