Skrifture
Leer en Verbonde 138


Afdeling 138

’n Visioen gegee aan President Joseph F. Smith te Salt Lake City, Utah, op 3 Oktober 1918. In sy openingstoespraak by die 89ste halfjaarlikse Algemene Konferensie van die Kerk, op 4 Oktober 1918, het President Smith verklaar dat hy verskeie goddelike mededelings gedurende die afgelope maande ontvang het. Een van hulle, rakende die Saligmaker se besoek aan die geeste van die dode terwyl sy liggaam in die grafkelder was, het President Smith die vorige dag ontvang. Dit is onmiddellik geskryf na die afloop van die konferensie. Op 31 Oktober 1918 is dit voorgelê aan die raadgewers in die Eerste Presidensie, die Raad van die Twaalf en die Patriarg, en dit is eenparig deur hulle aangeneem.

1–10, President Joseph F. Smith bepeins die geskrifte van Petrus en ons Here se besoek aan die geesteswêreld; 11–24, President Smith sien die regverdige dode byeen in die paradys en Christus se bediening onder hulle; 25–37, Hy sien hoe die prediking van die evangelie georganiseer is onder die geeste; 38–52, Hy sien Adam, Eva, en talle van die heilige profete in die geesteswêreld wat hulle geestestoestand voor hulle opstanding as slawerny beskou het; 53–60, Die regverdige dode van hierdie dag sit hulle arbeid voort in die wêreld van geeste.

1 Op die derde Oktober, in die jaar negentienhonderd en agttien, het ek in my kamer gesit en die skrifture bepeins.

2 En terwyl ek nadink oor die groot soenoffer wat gemaak is deur die Seun van God vir die verlossing van die wêreld;

3 En die groot en wonderbaarlike liefde wat geopenbaar is deur die Vader en die Seun deur die koms van die Verlosser na die wêreld;

4 Sodat deur sy versoening, en deur gehoorsaamheid aan die beginsels van die evangelie, die mensdom gered mag word.

5 Terwyl ek aldus besig was, het my gedagtes teruggekeer na die geskrifte van die apostel Petrus, aan die eertydse heiliges wat oraloor versprei is deur Pontus, Galásië, Kappadócië, en ander dele van Asië, waar die evangelie gepredik was na die kruisiging van die Here.

6 Ek het die Bybel oopgemaak en die derde en vierde hoofstukke van die eerste brief van Petrus gelees, en terwyl ek gelees het, was ek grootliks beïndruk, meer as wat ek ooit tevore was, met die volgende gedeeltes:

7 “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, die regverdige vir die onregverdiges, sodat Hy ons tot God mag bring, wat gedood is na die vlees, maar lewend gemaak is deur die Gees;

8 “Deur wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,

9 “Wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;” (1 Petrus 3:18–20.)

10 “Want daarom is die evangelie ook aan die dode verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word volgens die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.” (1 Petrus 4:6.)

11 Terwyl ek hierdie dinge bepeins het wat geskryf is, is die van my begrip geopen, en die Gees van die Here het op my gerus, en ek het die leërskare van die dode gesien, beide klein en groot.

12 En daar was in een plek ’n ontelbare skare van die geeste van die regverdiges byeen, wat getrou was aan die getuienis van Jesus terwyl hulle in sterflikheid gelewe het;

13 En wat ’n offerande geoffer het in die versinnebeelding van die groot offer van die Seun van God, en beproewing gely het in hulle Verlosser se Naam.

14 Al hierdie het die sterflike lewe verlaat, vas in die hoop van ’n heerlike opstanding, deur die genade van God die Vader en sy Eniggebore Seun, Jesus Christus.

15 Ek het gesien dat hulle gevul was met vreugde en blydskap, en het tesame verheug omdat die dag van hulle verlossing op hande was.

16 Hulle was byeen, wagtend op die koms van die Seun van God na die geesteswêreld, om hulle verlossing van die bande van die dood aan te kondig.

17 Hulle slapende stof sou tot sy volmaakte gestalte herstel word, been tot sy been, en die senings en die vlees op hulle, die gees en die liggaam om te herenig om nooit weer geskei te word nie, sodat hulle ’n volheid van vreugde mag ontvang.

18 Terwyl hierdie groot skare gewag en gesels het, en hulle hul verbly het in die uur van hulle verlossing van die kettings van die dood, het die Seun van God verskyn, en bevryding aan die gevangenes verkondig wat getrou was.

19 En daar het Hy aan hulle die ewigdurende evangelie gepreek, die leerstelling van die opstanding en die verlossing van die mensdom van die val, en van individuele sondes op voorwaardes van bekering.

20 Maar na die bose het Hy nie gegaan nie, en onder die ongoddelikes en die onbekeerdes wat hulleself verontreinig het terwyl in die vlees, was sy stem nie verhef nie;

21 Nóg het die rebelses wat die getuienisse en die waarskuwings van die antieke profete verwerp het sy teenwoordigheid aanskou, nóg sy aangesig gesien.

22 Waar hulle was, het die duisternis geheers, maar onder die regverdiges was daar vrede;

23 En die heiliges het hulle verheug in hulle verlossing, en het die knie gebuig en die Seun van God erken as hulle Verlosser en Redder van die dood en die kettings van die hel.

24 Hulle aangesigte het geblink, en die uitstraling van die teenwoordigheid van die Here het op hulle gerus en hulle het lofliedere tot sy heilige Naam gesing.

25 Ek het my verwonder, want ek het verstaan dat die Saligmaker ongeveer drie jaar in sy bediening deurgebring het onder die Jode en hulle van die huis van Israel, en gepoog het om hulle die ewigdurende evangelie te leer en hulle tot bekering te roep;

26 En tog, nieteenstaande sy magtige werke, en wonderwerke, en verkondiging van die waarheid, met groot mag en gesag, was daar maar slegs ’n paar wat ag geslaan het op sy stem, en hulle verheug het in sy teenwoordigheid, en verlossing vanuit sy hande ontvang het.

27 Maar sy bediening onder diegene wat dood is, was beperk tot die kort tydperk tussen die kruisiging en sy opstanding.

28 En ek het my verwonder oor die woorde van Petrus—waarin hy gesê het dat die Seun van God gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God gewag het in die dae van Noag—en hoe dit moontlik was vir hom om vir daardie geeste te preek en die nodige arbeid te verrig onder hulle in so ’n kort tydperk.

29 En terwyl ek my verwonder, is my oë geopen, en my begrip verlewendig, en het ek besef dat die Here nie persoonlik onder die bose en die ongehoorsames wat die waarheid verwerp het, gegaan het om hulle te leer nie;

30 Maar kyk, van onder die regverdiges, het Hy sy magte georganiseer en boodskappers aangestel, beklee met mag en gesag, en hulle opgedra om uit te gaan en die lig van die evangelie te dra na hulle wat in die duisternis was, en wel aan al die geeste van mense; en so is die evangelie aan die dode gepreek.

31 En die gekose boodskappers het uitgegaan om die aanvaarbare dag van die Here aan te kondig en bevryding te verkondig aan die gevangenes wat gebind was, naamlik aan almal wat sou bekeer van hulle sondes en die evangelie aanvaar.

32 So is die evangelie gepreek aan al diegene wat in hulle sondes gesterwe het, sonder ’n kennis van die evangelie, of in oortreding, omdat hulle die profete verwerp het.

33 Hulle is geloof in God geleer, bekering van sonde, plaasvervangende doop vir die vergifnis van sondes, die gawe van die Heilige Gees deur die oplegging van hande,

34 En alle ander beginsels van die evangelie wat noodsaaklik was vir hulle om te weet om hulleself te kwalifiseer sodat hulle geoordeel mag word volgens die mens in die vlees, maar lewe volgens God in die gees.

35 En so is dit bekendgemaak onder die dode, beide klein en groot, die onregverdiges sowel as die gelowiges, dat verlossing teweeg gebring is deur die offerande van die Seun van God aan die kruis.

36 Aldus is dit bekendgemaak dat ons Verlosser sy tyd gedurende sy verblyf in die wêreld van geeste, deurgebring het met die onderrig en voorbereiding van die getroue geeste van die profete wat van Hom in die vlees getuig het;

37 Sodat hulle die boodskap van verlossing mag oordra na al die dode, na wie Hy nie persoonlik kon gaan nie, vanweë hulle rebelsgesindheid en oortreding, sodat hulle deur die bediening van sy diensknegte ook sy woorde mag hoor.

38 Onder die groot en magtiges wat versamel was in hierdie buitengewone groot samekoms van die regverdiges was Vader Adam, die Oue van Dae en vader van almal,

39 En ons wonderlike Moeder Eva, met vele van haar getroue dogters wat deur die eeue gelewe het en die ware en lewende God aanbid het.

40 Abel, die eerste martelaar, was daar, en sy broer Set, een van die magtiges, wat na die presiese gelykenis van sy vader, Adam, was.

41 Noag, wat waarskuwing gegee het oor die vloed; Sem, die groot hoëpriester; Abraham, die vader van die gelowiges; Isak, Jakob, en Moses, die groot wetgewer van Israel;

42 En Jesaja, wat deur profesie verklaar het dat die Verlosser gesalf is om die gebrokenes van hart te verbind, om bevryding te verkondig aan die gevangenes, en die gevangenis te open vir hulle wat gebonde was, was ook daar.

43 En verder, Eségiël, wat in ’n visioen die groot vallei van droë beendere getoon is, wat met vlees beklee sou word, om weer voort te kom in die opstanding van die dode, lewende siele;

44 Daniël, wat die vestiging van die koninkryk van God in die laaste dae vooruitgesien en voorspel het om nooit weer vernietig te word nie, nóg aan ander volke gegee te word;

45 Elía, wat met Moses was op die Berg van Transfigurasie;

46 En Maleági, die profeet wat getuig het van die koms van Elía—van wie Moroni ook met die Profeet Joseph Smith gespreek het, en verklaar het dat hy sou kom voor die inluiding van die groot en vreeslike dag van die Here—was ook daar.

47 Die Profeet Elía moes die beloftes wat aan hulle vaders gemaak is in die harte van die kinders plant,

48 Wat die groot werk wat in die tempels van die Here gedoen moet word in die tydvak van die volheid van tye voorafskadu, vir die verlossing van die dode, en die verseëling van die kinders aan hulle ouers, sodat die hele aarde nie getref word met ’n vloek en volkome verwoes word by sy koms nie.

49 Hulle almal en vele meer, naamlik die profete wat onder die Nefiete gewoon en getuig het van die koms van die Seun van God, het gemeng in die buitengewoon groot samekoms en op hulle bevryding gewag,

50 Want die dode het die lang afwesigheid van hulle geeste van hulle liggame as ’n slawerny beskou.

51 Húlle het die Here onderrig, en hulle mag gegee om uit te kom, na sy opstanding van die dood, om sy Vader se koninkryk binne te gaan, om daar gekroon te word met onsterflikheid en die ewige lewe,

52 En sal dan voortgaan met hulle arbeid soos beloof deur die Here, en deelgenote wees van alle seëninge wat teruggehou is vir diegene wat Hom liefhet.

53 Die Profeet Joseph Smith, en my vader Hyrum Smith, Brigham Young, John Taylor, Wilford Woodruff, en ander uitnemende geeste wat teruggehou is om na vore te kom in die volheid van tye om deel te neem in die grondlegging van die groot werk van die laaste dae.

54 Insluitende die bou van tempels en die verrigting van ordinansies daarin vir die verlossing van die dode, was ook in die geesteswêreld.

55 Ek het waargeneem dat hulle ook onder die adellikes en grotes was wat in die begin gekies is om heersers te wees in die Kerk van God.

56 Selfs voor hulle gebore was, het hulle, saam met vele andere hulle eerste lesse in die wêreld van geeste ontvang en was voorberei om na vore te kom in die bepaalde tyd van die Here om te arbei in sy wingerd vir die heil van die siele van mense.

57 Ek het waargeneem dat die getroue ouderlinge van hierdie tydvak, wanneer hulle vertrek van die sterflike lewe, hulle arbeid voortsit deur die prediking van die evangelie van bekering en verlossing, deur die offer van die Eniggebore Seun van God, onder diegene wat in die duisternis en onder die slawerny van sonde verkeer in die groot wêreld van die geeste van die dode.

58 Die dode wat bekeer sal verlos word deur gehoorsaamheid aan die ordinansies van die huis van God,

59 En nadat hulle die prys betaal het vir hulle oortredings, en rein gewas is, sal hulle ’n loon ooreenkomstig hulle werke ontvang, want hulle is erfgename van heil.

60 Aldus is die visioen van die verlossing van die dode aan my geopenbaar, en ek lewer getuienis, en ek weet dat die verslag waar is, deur die seën van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus, dit is so. Amen.