Skrifture
Inleiding


Inleiding

Die Leer en Verbonde is ’n versameling van goddelike openbarings en geïnspireerde verklarings gegee vir die vestiging en beheer van die koninkryk van God op die aarde in die laaste dae. Alhoewel die meeste van die afdelings gerig is aan die lede van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, is die boodskappe, waarskuwings, en vermanings tot voordeel van die hele mensdom en bevat ’n uitnodiging aan alle mense oraloor om die stem van die Here Jesus Christus te hoor, sprekende tot hulle vir hulle stoflike welsyn en hulle ewigdurende heil.

Die meeste van die openbarings in hierdie samestelling is ontvang deur Joseph Smith Jr., die eerste profeet en president van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae. Ander is gegee deur sommige van sy opvolgers in die Presidensie (sien opskrifte van L&V 135, 136, en 138, en Amptelike Verklarings 1 en 2).

Die boek van die Leer en Verbonde is een van die standaardwerke van die Kerk saam met die Heilige Bybel, die Boek van Mormon, en die Pêrel van Groot Waarde. Die Leer en Verbonde is egter uniek aangesien dit nie ’n vertaling is van ’n antieke dokument nie, maar is van moderne oorsprong en is deur God deur sy gekose profete gegee vir die herstelling van hierdie heilige werk en die vestiging van die koninkryk van God op die aarde in hierdie dae. In die openbarings hoor ’n mens die tere maar ferm stem van die Here Jesus Christus, sprekende opnuut in die tydvak van die volheid van tye; en die werk wat hierin begin is, is voorbereidend tot sy Tweede Koms ter vervulling van en in ooreenstemming met die woorde van al die heilige profete sedert die wêreld begin het.

Joseph Smith Jr. is gebore op 23 Desember 1805, in Sharon, Windsor-distrik, Vermont. Gedurende sy vroeë lewe het hy saam met sy familie verhuis na die huidige Manchester, in westelike New York. Dit was terwyl hy daar gewoon het in die lente van 1820, toe hy veertien jaar oud was, dat hy sy eerste visioen ervaar het waarin hy deur God, die Ewige Vader, en sy Seun Jesus Christus persoonlik besoek is. Hy is in hierdie visioen gesê dat die ware Kerk van Jesus Christus wat in Nuwe Testamentiese tye gevestig was, en wat die volheid van die evangelie bedien het, nie langer op die aarde was nie. Ander goddelike openbarings het gevolg waarin hy deur talle engele geleer is; dit is aan hom getoon dat God ’n spesiale werk vir hom gehad het om op die aarde te doen en dat die Kerk van Jesus Christus op die aarde deur hom herstel sou word.

Na ’n tydperk was Joseph Smith deur goddelike bystand in staat gestel om die Boek van Mormon te vertaal en te publiseer. In die tussentyd is hy en Oliver Cowdery tot die Aäroniese Priesterskap geordineer deur Johannes die Doper in Mei 1829 (sien L&V 13), en kort daarna is hulle ook geordineer tot die Melgisédekse Priesterskap deur die antieke Apostels Petrus, Jakobus en Johannes (sien L&V 27:12). Ander ordinerings het gevolg waarin priesterskapsleutels deur Moses, Elía, Elías, en vele antieke profete toegeken is (sien L&V 110; 128:18, 21). Hierdie ordinerings was, in der waarheid, ’n herstelling van goddelike gesag aan die mens op die aarde. Op 6 April 1830 het die Profeet Joseph Smith onder hemelse leiding die Kerk georganiseer, en dus is die ware Kerk van Jesus Christus weer eens werksaam as ’n instelling onder die mens, met gesag om die evangelie te onderrig en die ordinansies van heil te bedien. (Sien L&V 20 en die Pêrel van Groot Waarde, Joseph Smith—Geskiedenis 1.)

Hierdie heilige openbarings is ontvang in antwoord op gebed, in tye van behoefte, en het ontstaan uit werklike lewensituasies betreffende regte mense. Die Profeet en sy kollegas het goddelike leiding gesoek, en hierdie openbarings bewys dat hulle dit ontvang het. In die openbarings sien ons die herstelling en ontvouing van die evangelie van Jesus Christus en die inlui van die tydvak van die volheid van tye. Die weswaartse beweging van die Kerk van New York en Pennsilvanië na Ohio, na Missouri, na Illinois, en uiteindelik na die Groot Bekken van westelike Amerika en die sware beproewings van die Heiliges in hul poging om Sion op die aarde op te bou in moderne tye word ook in hierdie openbarings bekendgemaak.

Verskeie van die vroeëre afdelings het te make met die vertaling en publikasie van die Boek van Mormon (sien afdelings 3, 5, 10, 17 en 19). Sommige latere afdelings weerspieël die werk van die Profeet Joseph Smith wat die geïnspireerde vertaling van die Bybel gemaak het, waartydens vele van die groot leerstellige afdelings ontvang is (sien, byvoorbeeld, afdelings 37, 45, 73, 76, 77, 86, 91 en 132, waarvan elkeen een of ander direkte verband het met die Bybelvertaling).

In die openbarings word die leerstellings van die evangelie uiteengesit met verduidelikings oor sulke fundamentele sake soos die aard van die Godheid, die oorsprong van die mens, die realiteit van Satan, die doel van sterflikheid, die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid, die behoefte aan bekering, die werkinge van die Heilige Gees, die ordinansies en handelinge wat betrekking het op heil, die lot van die aarde, die toekomstige toestande van die mens ná die Opstanding en die Oordeel, die ewigheid van die huweliksverwantskap, en die ewige aard van die familie. Bykomend word die geleidelike ontvouing van die administratiewe struktuur van die Kerk getoon deur die roeping van biskoppe, die Eerste Presidensie, die Raad van die Twaalf, en die Sewentig en die vestiging van ander presiderende ampte en kworums. Ten slotte, die getuienis wat gegee word van Jesus Christus—sy goddelikheid, sy majesteit, sy volmaaktheid, sy liefde, en sy verlossende krag—maak hierdie boek van groot waarde vir die menslike familie en “vir die Kerk van meer waarde as die rykdomme van die hele Aarde” (sien opskrif van L&V 70).

Die openbarings was oorspronklik opgeteken deur Joseph Smith se skrywers en Kerklede het entoesiasties handgeskrewe kopieë met mekaar gedeel. Om ’n meer permanente rekord te skep, het die skrywers spoedig hierdie openbarings in manuskrip-verslagboeke gekopieer wat Kerkleiers gebruik het in die voorbereiding van die openbarings vir publikasie. Joseph en die vroeë Heiliges het die openbarings beskou soos die Kerk: lewend, dinamies, en onderworpe aan verfyning deur bykomende openbaring. Hulle het ook besef dat onbewustelike foute waarskynlik ontstaan het in die proses om die openbarings te kopieer en voor te berei vir publikasie. Dus het ’n Kerkkonferensie in 1831 vir Joseph Smith gevra om daardie “foute en onjuisthede reg te stel wat hy deur die Heilige Gees mag ontdek.”

Nadat die openbarings hersien en reggestel is, het Kerklede in Missouri begin om ’n boek te publiseer getiteld A Book of Commandments for the Government of the Church of Christ [’n Boek van Gebooie vir die Beheer van die Kerk van Christus], wat baie van die Profeet se vroeë openbarings bevat het. Hierdie eerste poging om die openbarings te publiseer is egter beëindig toe ’n bende die Heiliges se drukkery in Jackson-distrik op 20 Julie 1833 vernietig het.

Nadat hy van die vernietiging van die Missouri-drukkery verneem het, het Joseph Smith en ander Kerkleiers voorbereidings begin tref om die openbarings in Kirtland, Ohio te publiseer. Om weer eens foute reg te stel, bewoording te verduidelik, en melding te maak van ontwikkelings in Kerkleerstellings en organisasie, het Joseph Smith toesig gehou oor die redigering van die teks van sommige openbarings vir publikasie in 1835 as die Doctrine and Covenants of the Church of the Latter Day Saints [Leer en Verbonde van die Kerk van die Heiliges van die Laaste Dae]. Joseph Smith het ’n ander uitgawe van die Leer en Verbonde gemagtig, wat slegs maande na die Profeet se martelaarskap in 1844 gepubliseer is.

Die vroeë Heiliges van die Laaste Dae het die openbarings gekoester as boodskappe van God. Op een geleentheid laat in 1831, het verskeie ouderlinge van die Kerk ’n plegtige getuienis gelewer dat die Here aan hulle siele getuienis gelewer het van die waarheid van die openbarings. Hierdie getuienis was gepubliseer in die 1835-uitgawe van die Leer en Verbonde as die geskrewe getuienis van die Twaalf Apostels:

Getuienis van die
Twaalf Apostels betreffende die Waarheid van die
Boek van die Leer en Verbonde

Die Getuienis van die Getuies van die Boek van die Here se Gebooie, welke gebooie Hy aan sy Kerk gegee het deur Joseph Smith, Jr., wat aangestel is deur die stem van die Kerk vir hierdie doel:

Ons voel, daarom, gewillig om getuienis te lewer aan die wêreld van die mensdom, aan elke skepsel op die aangesig van die aarde, dat die Here aan ons siele getuienis gelewer het, deur die Heilige Gees wat op ons uitgestort is, dat hierdie gebooie deur die inspirasie van God gegee is, en is voordelig vir alle mense, en is inderdaad waar.

Ons gee hierdie getuienis aan die wêreld, met die Here as ons helper; en dit is deur die genade van God die Vader, en sy Seun, Jesus Christus, dat ons toegelaat word om hierdie voorreg te hê om hierdie getuienis aan die wêreld te lewer, waarin ons ons uitermate verbly, altyd biddend tot die Here dat die kinders van mense daardeur mag baat.

Die name van die Twaalf was:

  • Thomas B. Marsh

  • David W. Patten

  • Brigham Young

  • Heber C. Kimball

  • Orson Hyde

  • William E. McLellin

  • Parley P. Pratt

  • Luke S. Johnson

  • William Smith

  • Orson Pratt

  • John F. Boynton

  • Lyman E. Johnson

In daaropvolgende uitgawes van die Leer en Verbonde is bykomende openbarings of ander sake van belang bygevoeg, soos ontvang en aanvaar deur bevoegde samekomste of konferensies van die Kerk. Die 1876-uitgawe, voorberei deur Ouderling Orson Pratt onder leiding van Brigham Young, het die openbarings kronologies gerangskik en nuwe opskrifte met geskiedkundige inleidings verskaf.

Beginnende met die 1835-uitgawe was ’n reeks van sewe teologiese lesse ook ingesluit; hulle was getitel die Lectures on Faith [Lesings oor Geloof]. Hulle was voorberei vir gebruik in die Skool van die Profete in Kirtland, Ohio, vanaf 1834 tot 1835. Alhoewel van waarde vir leerstellings en onderrig, is hierdie lesings weggelaat van die Leer en Verbonde sedert die 1921-uitgawe aangesien hulle nie as openbarings aan die hele Kerk gegee of voorgelê is nie.

In die 1981 Engelse uitgawe van die Leer en Verbonde, is drie dokumente vir die eerste keer ingesluit. Dit is afdelings 137 en 138, wat die grondbeginsels van heil vir die dode uiteensit; en Amptelike Verklaring 2, wat aankondig dat alle waardige manlike lede van die Kerk geordineer mag word tot die Priesterskap sonder voorbehoud van ras of kleur.

Elke nuwe uitgawe van die Leer en Verbonde het vorige foute reggestel en nuwe inligting bygevoeg, veral in die geskiedkundige afdelings van die afdelingsopskrifte. Die huidige uitgawe verfyn datums en plekname verder en maak ander korreksies. Hierdie veranderings is gemaak om die materiaal in ooreenstemming te bring met die mees akkurate geskiedkundige inligting. Ander spesiale eienskappe van hierdie nuutste uitgawe sluit in hersiene kaarte wat die hoof aardrykskundige liggings waar die openbarings ontvang is, aantoon, plus verbeterde foto’s van Kerkhistoriese liggings, kruisverwysings, afdelingsopskrifte, en inhoudsopsommings, almal wat bedoel is om lesers te help om te verstaan en hulle te verbly in die boodskap van die Here soos gegee in die Leer en Verbonde. Inligting vir die afdelingsopskrifte is geneem uit die Manuskripgeskiedenis van die Kerk en die gepubliseerde History of the Church [Geskiedenis van die Kerk] (daar word gesamentlik na hulle verwys in die opskrifte van Joseph Smith se geskiedenis) en die Joseph Smith Papers [Joseph Smith-dokumente].