Skrifture
Amptelike Verklaring 1


Amptelike Verklaring 1

Die Bybel en die Boek van Mormon leer dat monogamie God se standaard vir die huwelik is tensy Hy andersins verklaar (sien 2 Samuel 12:7–8 en Jakob 2:27, 30). Ná ’n openbaring aan Joseph Smith, is die praktyk van die veelvoudige huwelik ingestel onder Kerklede in die vroeë 1840s (sien afdeling 132). Van die 1860s tot die 1880s het die regering van die Verenigde State wette ingestel wat hierdie godsdienstige praktyk onwettig gemaak het. Hierdie wette is uiteindelik deur die V.S. Hooggeregshof gehandhaaf. Na die ontvangs van openbaring het President Wilford Woodruff die volgende Manifes uitgereik, wat deur die Kerk aanvaar is as gesaghebbend en bindend op 6 Oktober 1890. Dit het gelei tot die einde van die praktyk van die veelvoudige huwelik in die Kerk.

Aan Alle Belanghebbendes

Persberigte wat weens politieke redes van Salt Lake City gestuur is, wat wyd en syd gepubliseer is, te dien effekte dat die Utah-kommissie, in hul onlangse verslag aan die Sekretaris van Binnelandse Sake, beweer dat meervoudige huwelike nog steeds voltrek word en dat veertig of meer sodanige huwelike aangegaan is in Utah sedert Junie verlede jaar of gedurende die afgelope jaar, asook dat die leiers van die Kerk in openbare besprekings geleer het dat die voortsetting van die praktyk van poligamie aangemoedig en aangespoor moet word—

Daarom verklaar ek as President van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae op die plegtigste wyse dat hierdie aanklagte vals is. Ons predik nie poligamie of meervoudige huwelike nie, nóg laat ons toe dat enige persoon hierdie praktyk beoefen, en ek ontken dat nóg veertig nóg enige ander getal meervoudige huwelike gedurende daardie tydperk in ons Tempels of enige ander plek in die Gebied voltrek is.

Een geval is aangemeld waarin die partye beweer dat die huwelik aangegaan is in die Endowment House [Huis van Begiftiging], in Salt Lake City, in die lente van 1889, maar ek was nie in staat om uit te vind wie die seremonie uitgevoer het nie; wat ook al in hierdie saak geskied het was sonder my kennis. As gevolg van hierdie beweerde voorval is die Endowment House, op my bevel, sonder versuim afgebreek.

In soverre wette deur die Kongres uitgevaardig is wat meervoudige huwelike verbied, welke wette beskou word as grondwetlik deur die hof van die laaste toevlug, verklaar ek hierdeur my voorneme om my aan daardie wette te onderwerp, en om my invloed te gebruik by die lede van die Kerk oor wie ek presideer om hulle dieselfde te laat doen.

Daar is niks in my leringe aan die Kerk of in dié van my kollegas, gedurende die aangeduide tyd, wat redelikerwys geïnterpreteer kan word om poligamie te bevorder of aan te moedig nie; en wanneer enige Ouderling van die Kerk taal gebruik het wat skynbaar enige sodanige leerstelling oordra, is hy spoedig vermaan. En nou verklaar ek in die openbaar dat my raad aan die Heiliges van die Laaste Dae is om hulle te weerhou om enige huwelik aan te gaan wat verbied is deur die wette van die land.

Wilford Woodruff

President van die Kerk van Jesus Christus
van die Heiliges van die Laaste Dae.

President Lorenzo Snow het die volgende voorgelê:

“Ek stel voor dat, omdat ons Wilford Woodruff aanvaar as die President van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, en die enigste man op die aarde is op die huidige oomblik wat die sleutels hou van die verseëlende ordinansies, ons hom beskou ten volle gemagtig uit hoofde van sy posisie om die Manifes uit te vaardig wat in ons gehoor gelees is, en wat gedateer is 24 September 1890, en dat as ’n Kerk byeen in Algemene Konferensie, aanvaar ons sy verklaring aangaande meervoudige huwelike as gesaghebbend en bindend.”

Salt Lake City, Utah, 6 Oktober 1890.

Uittreksels uit Drie Toesprake deur
President Wilford Woodruff
Betreffende die Manifes

Die Here sal nooit toelaat dat ek of enige ander man wat staan as President van hierdie Kerk julle op ’n dwaalspoor lei nie. Dit is nie deel van die plan nie. Dit is nie in die verstand van God nie. Indien ek dit sou probeer, sou die Here my uit my plek verwyder, en so sal Hy doen met enige ander man wat die kinders van mense op ’n dwaalspoor probeer lei van die openbarings van God en van hulle plig. (Een en sestigste Sesmaandelikse Algemene Konferensie van die Kerk, Maandag 6 Oktober 1890, Salt Lake City, Utah. Berig in die Deseret Evening News, 11 Oktober 1890, bl. 2.)

Dit maak nie saak wie lewe of sterwe nie, of wie geroep word om hierdie Kerk te lei nie, hulle moet dit lei deur die inspirasie van Almagtige God. Indien hulle dit nie op daardie wyse doen nie, kan hulle dit hoegenaamd nie doen nie. …

Ek het onlangs verskeie openbarings gehad, en baie belangrikes vir my, en ek sal vir julle vertel wat die Here vir my gesê het. Laat my toe om julle gedagtes te vestig op wat die manifes genoem word. …

Die Here het vir my gesê om die Heiliges van die Laaste Dae ’n vraag te vra, en Hy het ook vir my gesê dat indien hulle sou luister na wat ek vir hulle gesê het en die vraag wat aan hulle gestel is, beantwoord het deur die Gees en mag van God, sou hulle almal dieselfde antwoord gee, en hulle sou almal dieselfde glo met betrekking tot hierdie saak.

Die vraag is dit: Wat is die wysste koers vir die Heiliges van die Laaste Dae om te volg—om aan te hou om te poog om meervoudige huwelike te leef, met die wette van die nasie daarteen en die teenstand van sestig miljoen mense, en ten koste van die konfiskering en verlies van al die Tempels, en die staking van al die ordinansies daarin, beide vir die lewendes en die dode, en die gevangeneming van die Eerste Presidensie en Twaalf en die hoofde van families in die Kerk, en die konfiskering van die persoonlike besittings van die mense (alles wat vanself dié praktyk sal beëindig); of, nadat ons gedoen en gely het deur ons getrouheid aan hierdie beginsel om die praktyk te beëindig en aan die wet te onderwerp, en sodoende die Profete, Apostels en vaders by die huis laat bly, sodat hulle die volk kan onderrig en na die pligte van die Kerk omsien, en ook die Tempels in die hande van die Heiliges laat, sodat hulle kan omsien na die ordinansies van die Evangelie, beide vir die lewendes en die dode?

Die Here het deur visioen en openbaring aan my getoon presies wat sou plaasvind indien ons nie hierdie praktyk staak nie. Indien ons dit nie gestaak het nie, sou julle geen nut gehad het vir … enige van die mans in hierdie tempel te Logan nie; want al die ordinansies sou gestaak word regdeur die land Sion. Verwarring sou heers regdeur Israel en talle mans sou gevangenes gemaak word. Hierdie ramp sou oor die hele Kerk gekom het en ons sou verplig gewees het om die praktyk te staak. Die vraag is nou of dit op hierdie wyse gestaak moet word, of op die wyse wat die Here aan ons geopenbaar het, en ons Profete en Apostels en vaders vry manne gelaat word, en die tempels in die hande van die volk, sodat die dode verlos mag word. ’n Groot aantal is alreeds deur hierdie volk verlos van die gevangenis in die geesteswêreld, en sal die werk voortgaan of gestaak word? Dit is die vraag wat ek voor die Heiliges van die Laaste Dae lê. Julle moet vir julleself oordeel. Ek wil hê dat julle dit vir julleself moet beantwoord. Ek sal dit nie beantwoord nie; maar ek sê vir julle dat dit presies die toestand is waarin ons as ’n volk sou wees indien ons nie die koers gevolg het wat ons wel gedoen het nie.

… ek het presies gesien wat sou gebeur indien daar nie iets gedoen word nie. Ek het hierdie gees oor my gehad vir ’n lang tydperk. Maar ek wil dit sê: Ek sou al die tempels uit ons hande laat gaan het; ek sou self gevangenis toe gegaan het, en toegelaat het dat elke ander man daarheen gaan, indien die God van die hemel my nie gebied het om te doen wat ek wel gedoen het nie; en toe die uur kom, wat ek gebied was om dit te doen, was alles vir my duidelik. Ek het voor die Here gegaan, en ek het dit geskryf wat die Here my aangesê het om te skryf…

Ek laat dit met julle, vir julle om te oordink en te oorweeg. Die Here is besig om met ons te werk. (Cache Penkonferensie, Logan, Utah, Sondag 1 November 1891. Berig in die Deseret Weekly, 14 November 1891.)

Nou sal ek vir julle vertel wat aan my geopenbaar is en wat die Seun van God verrig het in hierdie ding. … Al hierdie dinge sou gebeur het, soos God Almagtig lewe, indien daardie Manifes nie gegee is nie. Daarom het die Seun van God geneigd gevoel om daardie ding aan die Kerk en die wêreld voor te lê vir doeleindes van sy eie verstand. Die Here het die vestiging van Sion beveel. Hy het die voltooiing van hierdie tempel beveel. Hy het beveel dat die heil van die lewendes en die dode in hierdie valleie van die berge gegee moet word. En Almagtige God het verorden dat die Duiwel dit nie sou verydel nie. Indien julle dit kan verstaan, is dit ’n sleutel daartoe. (Uit ’n toespraak tydens die sesde sessie van die toewyding van die Salt Lake-tempel, April 1893. Getikte Verslag van Toewydingsdienste, Argiewe, Departement van Kerkgeskiedenis, Salt Lake City, Utah.)