Skrifture
Leer en Verbonde 27


Afdeling 27

Openbaring gegee aan Joseph Smith die Profeet, te Harmony, Pennsilvanië, Augustus 1830. Ter voorbereiding van ’n godsdienstige byeenkoms waartydens die nagmaal van brood en wyn bedien sou word, het Joseph wyn gaan verkry. Hy is deur ’n hemelse boodskapper ontmoet en het hierdie openbaring ontvang, ’n gedeelte waarvan geskryf is op daardie tydstip, en die res die daaropvolgende September. Water word nou gebruik in plaas van wyn in die nagmaaldienste van die Kerk.

1–4, Die embleme wat gebruik moet word wanneer van die nagmaal gebruik word, word uiteengesit; 5–14, Christus en sy diensknegte van alle tydvakke moet van die nagmaal gebruik; 15–18, Trek die volle wapenrusting van God aan.

1 Luister na die stem van Jesus Christus, julle Here, julle God, en julle Verlosser, wie se woord lewend en kragtig is.

2 Want, kyk, Ek sê vir julle, dat dit nie saak maak wat julle sal eet of wat julle sal drink wanneer julle van die nagmaal gebruik nie, solank julle dit doen met ’n oog enkel gerig op my heerlikheid—en onthou voor die Vader my liggaam wat neergelê is vir julle, en my bloed wat gestort is vir die vergifnis van julle sondes.

3 Daarom gee Ek ’n gebod aan julle, dat julle nóg wyn nóg sterk drank sal koop van julle vyande.

4 Daarom, julle sal niks gebruik tensy dit vars gemaak is onder julle nie; ja in hierdie my Vader se koninkryk wat opgebou sal word op die aarde.

5 Kyk, dit is wysheid in My; daarom, verwonder nie, want die uur kom dat Ek sal drink van die vrug van die wingerdstok met julle op die aarde, en met Moroni, wat Ek aan jou gestuur het om die Boek van Mormon te openbaar, bevattende die volheid van my ewigdurende evangelie, aan wie Ek die sleutels van die kroniek van die stok van Efraim toevertrou het.

6 En ook met Elías, aan wie Ek die sleutels toevertrou het om die herstelling te weeg te bring van alle dinge wat gespreek is deur die mond van al die heilige profete sedert die wêreld begin het, aangaande die laaste dae;

7 En ook Johannes die seun van Sagaría, welke Sagaría hy (Elías) besoek het en belowe het dat hy ’n seun sou hê, en sy naam moes Johannes wees, en hy sou vervul wees met die gees van Elías;

8 Welke Johannes Ek aan julle gestuur het, my diensknegte, Joseph Smith. Jr., en Oliver Cowdery, om julle te ordineer tot die eerste priesterskap wat julle ontvang het, sodat julle geroep en geordineer mag word net soos Aäron;

9 En ook Elía, aan wie Ek die sleutels toevertrou het van die mag om die harte van die vaders tot die kinders te keer, en die harte van die kinders tot die vaders, sodat die hele aarde nie getref mag word met ’n vloek nie.

10 En ook met Josef en Jakob, en Isak, en Abraham, julle vaders, deur wie die beloftes voortduur;

11 En ook met Mígael, of Adam, die vader van almal, die prins van almal, die oue van dae;

12 En ook met Petrus, en Jakobus, en Johannes, wat Ek na julle gestuur het, deur wie Ek julle geordineer het en julle bevestig het om apostels te wees, en spesiale getuies van my Naam, en om die sleutels van julle bediening te dra en van dieselfde dinge wat Ek aan hulle geopenbaar het.

13 Aan wie Ek die sleutels van my koninkryk toevertrou het, en ’n tydvak van die evangelie vir die laaste tye; en vir die volheid van tye, waarin Ek alle dinge sal versamel in een, beide wat in die hemel is, en wat op die aarde is;

14 En ook met al diegene wat my Vader My gegee het uit die wêreld.

15 Daarom, hef op julle harte en verbly julle, en omgord julle lendene, en neem op julle my volle wapenrusting, sodat julle die bose dag kan weerstaan, nadat julle alles gedoen het, sodat julle staande mag bly.

16 Staan, derhalwe, met julle lendene omgord met die waarheid, met die borsplaat van regverdigheid aan, en julle voete geskoei met die voorbereiding van die evangelie van vrede, wat Ek my engele gestuur het om aan julle toe te vertrou.

17 En neem die skild van geloof waarmee julle al die vurige pyle van die bose sal kan blus;

18 En neem die helm van heil, en die swaard van my Gees, wat Ek sal uitstort oor julle, en my woord wat Ek aan julle openbaar, en wees verenig rakende alle dinge wat julle ook al van my vra, en wees getrou totdat Ek kom, en julle sal opgeneem word, sodat waar Ek is julle ook sal wees. Amen.