Skrifture
Leer en Verbonde 68


Afdeling 68

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Hiram, Ohio, 1 November 1831, in antwoord op gebed dat die wil van die Here aangaande Orson Hyde, Luke S. Johnson, Lyman E. Johnson, en William E. McLellin bekend gemaak word. Alhoewel ’n gedeelte van hierdie openbaring aan hierdie vier mans gerig was, is baie van die inhoud van toepassing op die hele Kerk. Hierdie openbaring is uitgebrei onder Joseph Smith se leiding toe dit in die 1835-uitgawe van die Doctrine and Covenants [Leer en Verbonde] gepubliseer is.

1–5, Die woorde van die ouderlinge wanneer geïnspireer deur die Heilige Gees is skriftuur; 6–12, Ouderlinge moet preek en doop, en tekens sal ware gelowiges volg; 13–24, Die eersgeborenes onder die seuns van Aäron mag dien as die Presiderende Biskop (dit is, die sleutels hou van presidensie as ’n biskop) onder leiding van die Eerste Presidensie; 25–28, Ouers word gebied om die evangelie te leer aan hulle kinders; 29–35, Die Heiliges moet die Sabbat onderhou, ywerig werk en bid.

1 My dienskneg, Orson Hyde, is geroep deur sy ordinering om die ewigdurende evangelie te verkondig, deur die Gees van die Lewende God, van volk tot volk, en van plek tot plek, in die gemeentes van die bose, in hulle sinagoges, en om te redeneer en alle skrifture uit te lê aan hulle.

2 En, kyk, en sien, dit is ’n voorbeeld vir al diegene wat geordineer is tot hierdie priesterskap, wie se sending vir hulle aangewys is om uit te gaan—

3 En dit is die voorbeeld vir hulle, dat hulle sal spreek soos hulle geïnspireer word deur die Heilige Gees.

4 En wat hulle ook al sal spreek wanneer geïnspireer deur die Heilige Gees sal skriftuur wees, sal die wil van die Here wees, sal die verstand van die Here wees, sal die woord van die Here wees, sal die stem van die Here wees, en die mag van God tot heil.

5 Kyk, dit is die belofte van die Here aan julle, o julle my diensknegte.

6 Daarom, wees blymoedig, en moenie vrees nie, want Ek die Here is met julle, en sal by julle staan; en julle sal getuienis lewer van My, naamlik Jesus Christus, dat Ek die Seun van die lewende God is, dat Ek was, dat Ek is, en dat Ek sal kom.

7 Dit is die woord van die Here aan jou, my dienskneg Orson Hyde, en ook aan my dienskneg Luke Johnson, en aan my dienskneg Lyman Johnson, en aan my dienskneg William E. McLellin, en aan al die getroue ouderlinge van my kerk—

8 Gaan julle na die hele wêreld, preek die evangelie aan elke skepsel, en tree op met die gesag wat Ek julle gegee het, en doop in die Naam van die Vader, en van die Seun, en van die Heilige Gees.

9 En hy wat glo en gedoop word, sal gered word, en hy wat nie glo nie, sal verdoem word.

10 En hy wat glo, sal geseën word met tekens wat volg, net soos dit geskryf is.

11 En aan julle sal dit gegee word om die tekens van die tye te ken, en die tekens van die koms van die Seun van die Mens;

12 En van soveel as wat die Vader getuienis sal lewer, aan julle sal mag gegee word om hulle te verseël tot die ewige lewe. Amen.

13 En nou, aangaande die sake bykomend tot die verbonde en gebooie, hulle is die volgende—

14 Hierna bly oor, op die bepaalde tyd van die Here, ander biskoppe om afgesonder te word vir die kerk, om te dien soos die eerstes;

15 Daarom sal hulle hoëpriesters wees wat waardig is, en hulle sal aangestel word deur die Eerste Presidensie van die Melgisédekse Priesterskap, tensy hulle letterlike afstammelinge is van Aäron.

16 En as hulle letterlike afstammelinge is van Aäron, het hulle ’n wetlike reg tot die biskopsamp, indien hulle die eersgeborenes onder die seuns van Aäron is;

17 Want die eersgeborene hou die reg van presidensie oor hierdie priesterskap, en die sleutels of gesag daarvan.

18 Geen man het ’n wetlike reg tot hierdie amp, om die sleutels van hierdie priesterskap te hou, tensy hy ’n letterlike afstammeling en eersgeborene van Aäron is.

19 Maar, omdat ’n hoëpriester van die Melgisédekse Priesterskap gesag het om op te tree in al die mindere ampte, mag hy optree in die amp van biskop wanneer geen letterlike afstammeling van Aäron gevind kan word nie, mits hy geroep en afgesonder word en geordineer word tot hierdie mag, onder die hande van die Eerste Presidensie van die Melgisédekse Priesterskap.

20 En ’n letterlike afstammeling van Aäron, ook, moet aangewys word deur hierdie Presidensie, en waardig bevind word, en gesalf, en geordineer word onder die hande van hierdie Presidensie, anders is hulle nie wettiglik gemagtig om op te tree in hulle priesterskap nie.

21 Maar, op grond van die dekreet aangaande hulle reg op die priesterskap wat oorgaan van vader tot seun, mag hulle hul salwing opeis indien hulle op enige stadium hul afstamming kan bewys, of dit bepaal deur openbaring van die Here onder die hande van die bogenoemde Presidensie.

22 En verder, geen biskop of hoëpriester wat afgesonder sal word vir hierdie bediening sal verhoor word of veroordeel word vir enige misdaad nie, tensy dit voor die Eerste Presidensie van die kerk is;

23 En in soverre hy skuldig bevind word voor hierdie Presidensie, deur getuienis wat nie weerlê kan word nie, sal hy veroordeel word;

24 En as hy bekeer, sal hy vergewe word, volgens die verbonde en gebooie van die kerk.

25 En verder, in soverre ouers kinders het in Sion, of in enige van haar penne wat georganiseer is, wat hulle nie onderrig om die leer te verstaan van bekering, geloof in Christus die Seun van die lewende God, en van doop en die gawe van die Heilige Gees deur die oplegging van hande, wanneer agt jaar oud nie, rus die sonde op die hoofde van die ouers.

26 Want dit sal ’n wet wees vir die inwoners van Sion, of in enige van haar penne wat georganiseer is.

27 En hulle kinders sal gedoop word vir die vergifnis van hulle sondes wanneer agt jaar oud, en die oplegging van hande ontvang.

28 En hulle sal ook hulle kinders leer om te bid, en opreg te wandel voor die Here.

29 En die inwoners van Sion sal ook die Sabbatdag gedenk om dit te heilig.

30 En die inwoners van Sion sal ook hulle arbeid onthou, in soverre hulle aangestel word om te arbei, in alle getrouheid; want die luiaard sal in herinnering gebring word voor die Here.

31 Nou, Ek, die Here, het nie ’n welbehae in die inwoners van Sion nie, want daar is luiaards onder hulle; en hulle kinders word ook groot in boosheid; hulle soek ook nie in alle erns na die rykdomme van die ewigheid nie, maar hul oë is vol hebsug.

32 Hierdie dinge behoort nie so te wees nie, en moet weggedoen word onder hulle; daarom, laat my dienskneg Oliver Cowdery hierdie woorde oordra aan die land Sion.

33 En ’n gebod gee Ek aan hulle—dat hy wat nie sy gebede doen voor die Here op die geleë tyd nie, laat hom in herinnering gebring word voor die regter van my volk.

34 Hierdie woorde is waar en getrou; daarom, oortree hulle nie, nóg neem daarvan weg.

35 Kyk, Ek is Alfa en Omega, en Ek kom spoedig. Amen.