Skrifture
Leer en Verbonde 64


Afdeling 64

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan die ouderlinge van die Kerk te Kirtland, Ohio, 11 September 1831. Die Profeet was besig om voor te berei om na Hiram, Ohio te trek om sy werk aan die vertaling van die Bybel voort te sit, wat tersyde gestel is terwyl hy in Missouri was. ’n Groep broers wat gebied is om te reis na Sion (Missouri) was ywerig besig om voorbereidings te tref om in Oktober te vertrek. Op hierdie besige tydstip is die openbaring ontvang.

1–11, Die Heiliges word gebied om mekaar te vergewe, sodat die groter sonde nie in hulle bly nie; 12–22, Die onbekeerdes moet voor die Kerk gebring word; 23–25, Hy wat tiendes betaal, sal nie verbrand word by die koms van die Here nie; 26–32, Die Heiliges word gewaarsku teen skuld; 33–36, Die rebelses sal afgesny word van Sion; 37–40, Die Kerk sal die nasies oordeel; 41–43, Sion sal floreer.

1 Kyk, so sê die Here julle God vir julle, o julle ouderlinge van my kerk, slaan ag julle en hoor, en ontvang my wil aangaande julle.

2 Want voorwaar Ek sê vir julle, Ek wil dat julle die wêreld sal oorwin; daarom sal Ek ontferming hê oor julle.

3 Daar is diegene onder julle wat gesondig het; maar voorwaar Ek sê, vir hierdie een keer, vir my eie heerlikheid en vir die heil van siele, het Ek julle jul sondes vergewe.

4 Ek sal barmhartig wees teenoor julle, want Ek het aan julle die koninkryk gegee.

5 En die sleutels van die verborgenhede van die koninkryk sal nie van my dienskneg Joseph Smith, Jr., geneem word deur die wyse wat Ek aangestel het terwyl hy lewe nie, in soverre hy my ordinansies gehoorsaam.

6 Daar is diegene wat geleentheid teen hom gesoek het sonder oorsaak;

7 Nietemin, hy het gesondig; maar voorwaar Ek sê vir julle, Ek, die Here, vergewe sondes van diegene wat hulle sondes voor My bely en vergifnis vra, wat nie gesondig het tot die dood nie.

8 My dissipels, in dae van ouds, het rede teen mekaar gesoek en mekaar nie vergewe in hulle harte nie; en vanweë hierdie kwaad is hulle verdruk en swaar gekasty.

9 Daarom, Ek sê vir julle, dat julle mekaar behoort te vergewe; want hy wat nie sy broer sy oortredings vergewe nie, staan veroordeel voor die Here; want daar bly in hom die groter sonde.

10 Ek, die Here, sal vergewe wie Ek wil vergewe, maar van julle word dit vereis dat julle alle mense sal vergewe.

11 En julle behoort in julle harte te sê—laat God oordeel tussen my en jou, en jou beloon volgens jou dade.

12 En hy wat nie bekeer van sy sondes nie, en hulle nie bely nie, sal julle voor die kerk bring, en met hom doen soos die skriftuur aan julle aandui, hetsy deur gebod of deur openbaring.

13 En dit sal julle doen sodat God verheerlik mag word—nie omdat julle nie vergewe nie, omdat julle nie ontferming het nie, maar sodat julle geregverdig mag word in die oë van die wet, sodat julle nie teen Hom wat julle wetgewer is, sondig nie—

14 Voorwaar Ek sê, om hierdie rede sal julle hierdie dinge doen.

15 Kyk, Ek, die Here, was vertoornd op hom wat my dienskneg Ezra Booth was, en ook my dienskneg Isaac Morley, want hulle het nie die wet onderhou nie, nóg die gebod;

16 Hulle het die kwade gesoek in hulle harte, en Ek, die Here, het my Gees weerhou. Hulle het daardie dinge waarin daar geen kwaad was nie as kwaad veroordeel; nietemin, Ek het my dienskneg Isaac Morley vergewe.

17 En ook my dienskneg Edward Partridge, kyk, hy het gesondig, en Satan soek om sy siel te vernietig; maar wanneer hierdie dinge bekend gemaak word aan hulle, en hulle bekeer van die kwade, dan sal hulle vergewe word.

18 En nou, voorwaar, Ek sê dit is raadsaam in My dat my dienskneg Sidney Gilbert, na ’n paar weke, sal terugkeer na sy sake, en tot sy agentskap in die land Sion;

19 En dit wat hy gesien en gehoor het, mag bekendgemaak word aan my dissipels, sodat hulle nie vergaan nie. En om hierdie rede het Ek hierdie dinge gespreek.

20 En verder, Ek sê vir julle, sodat my dienskneg Isaac Morley nie versoek mag word bo dit wat hy in staat is om te verdra nie, en julle raadgee tot julle nadeel, het Ek ’n gebod gegee dat sy plaas verkoop moet word.

21 Ek wil nie dat my dienskneg Frederick G. Williams sy plaas moet verkoop nie, want, Ek, die Here, wil ’n vesting behou in die land Kirtland, vir ’n tydperk van vyf jaar, waarin Ek nie die goddelose sal omvergooi nie, sodat Ek daardeur sommiges mag red.

22 En na daardie dag, sal Ek, die Here, niemand skuldig ag wat met ’n ope hart opgaan na die land Sion; want Ek, die Here, vereis die harte van die kinders van mense.

23 Kyk, nou word dit vandag genoem tot die koms van die Seun van die Mens, en voorwaar dit is ’n dag van opoffering, en ’n dag vir die tiendeheffing van my volk; want hy wat ’n tiende gee, sal nie verbrand word by sy koms nie.

24 Want na vandag kom die verbranding—dit is, sprekende volgens die wyse van die Here—want voorwaar Ek sê, môre sal al die hoogmoediges en diegene wat boosheid pleeg soos stoppels wees; en Ek sal hulle verbrand, want Ek is die Here van die Leërskare; en Ek wil niemand spaar wat in Babilon bly nie.

25 Daarom, as julle My glo, sal julle arbei terwyl dit vandag genoem word.

26 En dit is nie raadsaam dat my diensknegte Newel K. Whitney en Sidney Gilbert hulle winkel en hul besittings hier moet verkoop nie; want dit is nie wysheid nie tot die res van die kerk, wat in hierdie plek bly, sal opgaan na die land Sion.

27 Kyk, dit word gesê in my wette, of verbied, om in die skuld te raak by julle vyande;

28 Maar kyk, dit word nie op enige tydstip gesê dat die Here nie sal neem wanneer hy wil, en betaal soos Hy goeddink nie.

29 Daarom, aangesien julle agente is, is julle in diens van die Here; en wat julle ook al doen volgens die wil van die Here, is die Here se saak.

30 En hy het julle aangestel om te voorsien vir sy heiliges in hierdie laaste dae, sodat hulle ’n erfenis mag ontvang in die land Sion.

31 En kyk, Ek, die Here, verklaar aan julle, en my woorde is seker en sal nie faal nie, dat hulle dit sal verkry.

32 Maar alle dinge moet geskied op hulle tyd.

33 Daarom, moenie moeg word om goed te doen nie, want julle lê die fondament van ’n groot werk. En vanuit klein dingetjies gaan dit wat groot is voort.

34 Kyk, die Here vereis die hart en ’n gewillige verstand; en die gewilliges en gehoorsames sal die goeie van die land Sion eet in hierdie laaste dae.

35 En die rebelses sal afgesny word vanuit die land Sion, en sal weggestuur word, en sal nie die land beërwe nie.

36 Want, voorwaar, Ek sê dat die rebelses nie van die bloed van Efraim is nie, daarom sal hulle uitgepluk word.

37 Kyk, Ek, die Here, het my kerk gemaak in hierdie laaste dae soos ’n regter, sittende op ’n heuwel, of in ’n hoë plek, om die nasies te oordeel.

38 Want dit sal gebeur dat die inwoners van Sion alle dinge sal oordeel betreffende Sion.

39 En leuenaars en huigelaars sal deur hulle bewys word, en hulle wat nie apostels en profete is nie sal bekend wees.

40 En selfs die biskop, wat ’n regter is, en sy raadgewers, indien hulle nie getrou is in hul rentmeesterskappe nie, sal veroordeel word, en ander sal in hulle plek geplant word.

41 Want, kyk, Ek sê vir julle dat Sion sal floreer, en die heerlikheid van die Here sal oor haar wees;

42 En sy sal ’n vaandel wees vir die volk, en daar sal na haar kom vanuit elke nasie onder die hemel.

43 En die dag sal kom wanneer die nasies van die aarde sal bewe vanweë haar, en sal vrees vanweë haar verskriklikes. Die Here het dit gespreek. Amen.