Skrifture
Leer en Verbonde 97


Afdeling 97

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Kirtland, Ohio, 2 Augustus 1833. Hierdie openbaring handel spesifiek oor die sake van die Heiliges in Sion, Jackson-distrik, Missouri, in antwoord op die Profeet se navraag by die Here oor inligting. Lede van die Kerk in Missouri was op hierdie tydstip onderworpe aan hewige vervolging en was, op 23 Julie 1833, genoodsaak om ’n ooreenkoms te onderteken om die Jackson-distrik te verlaat.

1–2, Talle van die Heiliges in Sion (Jackson-distrik, Missouri) word geseën vanweë hulle getrouheid; 3–5, Parley P. Pratt word geprys vir sy arbeid in die skool in Sion; 6–9, Diegene wat hul verbonde onderhou, word aanvaar deur die Here; 10–17, ’n Huis moet gebou word in Sion waarin die reines van hart God sal sien; 18–21, Sion is die reines van hart; 22–28, Sion sal die Here se gésel ontwyk as sy getrou is.

1 Voorwaar Ek sê vir julle my vriende, Ek spreek met julle met my stem, naamlik die stem van my Gees, sodat Ek aan julle my wil mag toon aangaande julle broers in die land Sion, talle van wie waarlik nederig is en ywerig soek om wysheid te leer en om die waarheid te vind.

2 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, geseënd is diegene, want hulle sal verkry; want Ek, die Here, toon barmhartigheid aan al die sagmoediges, en teenoor almal wie Ek ook al wil, sodat Ek geregverdig mag wees wanneer Ek hulle tot oordeel sal bring.

3 Kyk, Ek sê vir julle, aangaande die skool in Sion, Ek, die Here, het ’n welbehae dat daar ’n skool in Sion moet wees, en ook met my dienskneg Parley P. Pratt, want hy bly in My.

4 En in soverre hy voortgaan om in My te bly, sal hy voortgaan om te presideer oor die skool in die land Sion totdat Ek aan hom ander gebooie sal gee.

5 En Ek sal hom seën met ’n menigvuldigheid van seëninge in die uitlegging van alle skrifture en verborgenhede ter opbouing van die skool, en van die kerk in Sion.

6 En aan die res van die skool, is Ek, die Here, gewillig om barmhartigheid te betoon; nietemin, daar is diegene wat noodwendig getugtig moet word, en hulle werke sal bekendgemaak word.

7 Die byl word teen die wortel van die bome gelê; en elke boom wat nie goeie vrugte voortbring nie, sal afgekap word en in die vuur gewerp word. Ek, die Here, het dit gespreek.

8 Voorwaar, Ek sê vir julle, al diegene onder hulle wat hulle harte ken is eerlik, en is gebroke, en hulle geeste verslae, en is gewillig om hul verbonde te onderhou deur te offer—ja, elke opoffering wat Ek, die Here, sal gebied—hulle word ontvang deur My.

9 Want Ek, die Here, sal hulle laat voortbring net soos ’n baie vrugbare boom wat geplant is in ’n goeie land, by ’n suiwer stroom, wat veel kosbare vrugte oplewer.

10 Voorwaar Ek sê vir julle, dat dit my wil is dat ’n huis gebou moet word vir My in die land Sion, volgens die voorbeeld wat Ek julle gegee het.

11 Ja, laat dit spoedig gebou word, deur die tiendeheffing van my volk.

12 Kyk, dit is die tiende en die offer wat Ek die Here, van hulle hande vereis, sodat daar ’n huis gebou mag word vir My vir die heil van Sion—

13 Vir ’n plek van danksegging vir alle heiliges, en vir ’n plek van onderrig vir al diegene wat geroep word tot die werk van die bediening in al hulle onderskeie roepings en ampte.

14 Sodat hulle vervolmaak mag word in die begrip van hulle bediening, in teorie, in beginsel, en in leer, in alle dinge betreffende die koninkryk van God op die aarde, die sleutels van welke koninkryk aan julle toegeken is.

15 En in soverre my volk ’n huis bou vir My in die Naam van die Here, en nie toelaat dat enigiets onrein daar binnekom nie, dat dit nie verontreinig word nie, sal my heerlikheid daarop heers;

16 Ja, en my teenwoordigheid sal daar wees, want Ek sal daar ingaan, en al die reines van hart wat daar sal ingaan, sal God sien.

17 Maar indien dit verontreinig word, sal Ek nie daar ingaan nie, en my heerlikheid sal nie daar wees nie; want Ek sal nie in onheilige tempels ingaan nie.

18 En nou, kyk, indien Sion hierdie dinge doen, sal sy voorspoedig wees, en haarself versprei en baie heerlik word, baie groot en baie vreeslik.

19 En die nasies van die aarde sal haar eer, en sal sê: Sekerlik is Sion die stad van ons God en sekerlik kan Sion nie val nie, nóg beweeg word uit haar plek, want God is daar, en die hand van die Here is daar;

20 En Hy het deur die krag van sy mag gesweer om haar redding en haar hoë toring te wees.

21 Daarom, voorwaar, so sê die Here, laat Sion haar verbly, want dit is Siondie reines van hart; daarom, laat Sion haar verbly, terwyl al die bose sal treur.

22 Want kyk, en sien, wraak kom spoediglik oor die goddelose soos die warrelwind; en wie sal dit ontkom?

23 Die Here se gésel sal deurtrek by dag en by nag, en die gerug daarvan sal alle volke verskrik; ja, dit sal nie teruggehou word tot die Here kom nie;

24 Want die verontwaardiging van die Here is ontvlam teen hulle gruwels en al hulle goddelose werke.

25 Nietemin, Sion sal ontvlug indien sy al die dinge onderhou wat Ek haar ook al gebied het.

26 Maar as sy dit nie onderhou wat Ek haar gebied het nie, sal Ek haar besoek volgens al haar werke, met sware verdrukkings, met die pes, met plae, met die swaard, met wraak, met verterende vuur.

27 Nietemin, laat dit hierdie een keer gelees word in haar ore, dat Ek, die Here, haar offerande aangeneem het; en indien sy nie meer sondig nie, sal geen van hierdie dinge oor haar kom nie.

28 En Ek sal haar seën met seëninge, en ’n menigvuldigheid van seëninge oor haar vermenigvuldig, en op haar nageslagte vir ewig en ewig, sê die Here julle God. Amen.