Skrifture
Leer en Verbonde 30


Afdeling 30

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan David Whitmer, Peter Whitmer Jr., en John Whitmer, te Fayette, New York, September 1830, na die driedaagse konferensie te Fayette, maar voor die ouderlinge van die kerk uiteengegaan het. Oorspronklik was hierdie materiaal gepubliseer as drie openbarings; dit is gekombineer in een afdeling deur die Profeet vir die 1835 uitgawe van die Leer en Verbonde.

1–4, David Whitmer word getugtig omdat hy nie ywerig gedien het nie; 5–8, Peter Whitmer Jr. moet Oliver Cowdery vergesel op ’n sending aan die Lamaniete; 9–11, John Whitmer word geroep om die evangelie te preek.

1 Kyk, Ek sê vir jou, David, dat jy die mense gevrees het en nie op My staatgemaak het vir krag soos jy moes nie.

2 Maar jou verstand was ingestel op die dinge van die aarde meer as op die dinge van my, jou Maker, en die bediening waartoe jy geroep is; en jy het nie ag geslaan op my Gees, en op diegene wat oor jou gestel is nie, maar is oorreed deur diegene wat Ek nie gebied het nie.

3 Daarom, jy is oorgelaat om vir jouself navraag te doen by My, en die dinge wat jy ontvang het te bepeins.

4 En jou tuiste sal wees by jou vader se huis, totdat Ek jou verdere gebooie gee. En jy moet jou toewy aan die bediening in die kerk, en voor die wêreld, en in die streke rondomheen. Amen.

5 Kyk, Ek sê vir jou Peter, dat jy jou reis sal onderneem met jou broer Oliver; want die tyd het gekom dat dit raadsaam is in My dat jy jou mond sal open om my evangelie te verkondig; daarom, vrees nie, maar slaan ag op die woorde en raad van jou broer, wat hy jou sal gee.

6 En jy moet verdruk wees in al sy verdrukkings, en altyd jou hart ophef na My in gebed en geloof, vir sy en jou verlossing; want Ek het aan hom krag gegee om my kerk op te bou onder die Lamaniete.

7 En niemand het Ek aangestel om raadgewer bo hom te wees in die kerk nie, aangaande kerklike sake, behalwe sy broer, Joseph Smith, Jr.

8 Daarom, slaan ag op hierdie dinge en wees ywerig om my gebooie te onthou, en jy sal geseën word tot die ewige lewe. Amen.

9 Kyk, Ek sê vir jou, my dienskneg John, dat jy van hierdie tyd af sal begin om my evangelie te verkondig, soos met die stem van ’n trompet.

10 En jou arbeid sal wees by jou broer Philip Burroughs se huis, en in daardie streek rondom, ja, waar jy ook al gehoor kan word, totdat Ek jou gebied om hiervandaan te vertrek.

11 En al jou arbeid sal in Sion wees, met jou hele siel, van nou af; ja, jy sal altyd jou mond open aangaande my saak, en nie vrees wat mense kan doen nie, want Ek is met jou. Amen.