Skrifture
Leer en Verbonde 11


Afdeling 11

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan sy broer Hyrum Smith, te Harmony, Pennsilvanië, Mei 1829. Hierdie openbaring is ontvang deur die Urim en Tummim in antwoord op Joseph se smeekbede en navraag. Joseph Smith se geskiedenis sinspeel daarop dat hierdie openbaring ontvang is na die herstelling van die Aäroniese Priesterskap.

1–6, Arbeiders in die wingerd sal heil verkry; 7–14, Soek wysheid, verkondig bekering, vertrou op die Gees; 15–22, Onderhou die gebooie en bestudeer die woord van die Here; 23–27, Verloën nie die gees van openbaring en profesie nie; 28–30, Diegene wat Christus ontvang, word die seuns van God.

1 ’n Groot en wonderbaarlike werk is aan die kom onder die kinders van mense.

2 Kyk, Ek is God; gee gehoor aan my woord, wat lewend en kragtig is, skerper as ’n tweesnydende swaard, om vanmekaar te skei beide gewrigte en murg; daarom gee gehoor aan my woord.

3 Kyk, die veld is wit, gereed vir die oes; daarom, wie ook al begeer om te oes, laat hom sy sekel insteek met sy mag, en oes terwyl die dag duur, dat hy mag opgaar vir sy siel ewigdurende heil in die koninkryk van God.

4 Ja, wie ook al sy sekel wil insteek en oes, hy word geroep deur God.

5 Daarom, as julle My vra, sal julle ontvang; as julle klop sal dit vir julle oopgemaak word.

6 Nou, omdat jy gevra het, kyk, Ek sê vir jou, onderhou my gebooie, en soek om die saak van Sion voort te bring en te vestig.

7 Moenie vir rykdom soek nie maar vir wysheid, en kyk, die verborgenhede van God sal ontvou word vir julle, en dan sal julle ryk gemaak word. Kyk, hy wat die ewige lewe het is ryk.

8 Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, net soos jy van My begeer, so sal dit vir jou gedoen word; en as jy begeer, sal jy die middel wees om veel goed te doen in hierdie geslag.

9 Verkondig niks behalwe bekering aan hierdie geslag nie. Onderhou my gebooie, en help om my werk voort te bring, volgens my gebooie, en jy sal geseën word.

10 Kyk, jy het ’n gawe, of jy sal ’n gawe hê as jy van My begeer in geloof, met ’n eerlike hart, en glo in die krag van Jesus Christus, of in my krag wat spreek tot jou;

11 Want, kyk, dit is Ek wat spreek; kyk, Ek is die lig wat skyn in die duisternis, en deur my krag gee Ek hierdie woorde aan jou.

12 En nou, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, plaas jou vertroue in daardie Gees wat lei om goed te doen—ja, om billik te handel, om nederig te wandel, om regverdiglik te oordeel; en dit is my Gees.

13 Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, Ek sal van my Gees aan jou meedeel, wat jou verstand sal verlig, wat jou siel sal vul met vreugde;

14 En dan sal jy weet, of hierdeur sal jy weet, alle dinge wat jy ook al van My begeer, wat betrekking het op die dinge van regverdigheid, in geloof en glo in My dat jy sal ontvang.

15 Kyk, Ek gebied jou dat jy nie moet veronderstel dat jy geroep is om te preek totdat jy geroep word nie.

16 Wag ’n bietjie langer, tot jy my woord sal hê, my rots, my kerk, en my evangelie sodat jy vir seker my leer mag ken.

17 En dan, kyk, volgens jou begeertes, ja, naamlik volgens jou geloof sal dit aan jou gedoen word.

18 Onderhou my gebooie; swyg; beroep jou op my Gees;

19 Ja, kleef aan My met jou hele hart, sodat jy behulpsaam kan wees om daardie dinge aan die lig te bring waarvan gespreek is—ja, die vertaling van my werk; wees geduldig totdat jy dit voltooi het.

20 Kyk, dit is jou werk, om my gebooie te onderhou, ja met al jou mag, verstand en krag.

21 Moenie streef om my woord te verkondig nie, maar streef eers om my woord te verkry, en dan sal jou tong losgemaak word; dan, as jy begeer, sal jy my Gees hê en my woord, ja, die krag van God tot die oortuiging van mense.

22 Maar nou, swyg; bestudeer my woord wat uitgegaan het onder die kinders van mense, en ook, bestudeer my woord wat te voorskyn sal kom onder die kinders van mense, of dit wat nou vertaal word, ja, tot jy alles verkry het wat Ek sal gee aan die kinders van mense in hierdie geslag, en dan sal alle dinge daartoe bygevoeg word.

23 Kyk, jy is Hyrum, my seun; soek die koninkryk van God, en alle dinge sal daaraan bygevoeg word ooreenkomstig dit wat regverdig is.

24 Bou op my rots, wat my evangelie is;

25 Verloën nie die gees van openbaring nie, nóg die gees van profesie, want wee hom wat hierdie dinge verloën;

26 Daarom, bewaar in jou hart tot die tyd wat in my wysheid is dat jy sal uitgaan.

27 Kyk, Ek spreek tot almal wat goeie begeertes het, en hul sekels ingesteek het om te oes.

28 Kyk, Ek is Jesus Christus, die Seun van God. Ek is die lewe en die lig van die wêreld.

29 Ek is Hy wat na my eie gekom het, en my eie het My nie ontvang nie;

30 Maar voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, dat soveel as wat my ontvang, aan hulle sal Ek krag gee om die seuns van God te word, naamlik aan hulle wat in my Naam glo. Amen.