Skrifture
Leer en Verbonde 24


Afdeling 24

Openbaring gegee aan Joseph Smith die Profeet en Oliver Cowdery, te Harmony, Pennsilvanië, Julie 1830. Alhoewel minder as vier maande verloop het sedert die organisasie van die Kerk, het vervolging intens geword, en die leiers moes veiligheid soek in gedeeltelike afsondering. Die volgende drie openbarings is op hierdie tydstip gegee om hulle te versterk, te bemoedig en te onderrig.

1–9, Joseph Smith word geroep om skrifture te vertaal, te preek, en uit te lê; 10–12, Oliver Cowdery word geroep om die evangelie te preek; 13–19, Die wet word geopenbaar met betrekking tot wonderwerke, vervloekings, afskud van stof van mense se voete en om te reis sonder beurs of reissak.

1 Kyk, jy is geroep en gekies om die Boek van Mormon te skryf, en tot my bediening; en Ek het jou opgehef uit jou verdrukkings, en het jou raad gegee, sodat jy verlos is van al jou vyande, en jy is verlos van die magte van Satan en van die duisternis!

2 Nietemin, jy is nie sonder verontskuldiging in jou oortredings nie; nietemin, gaan heen en sondig nie meer nie.

3 Verheerlik jou amp; en nadat jy jou landerye gesaai en hulle beveilig het, gaan spoediglik na die kerk wat in Colesville, Fayette, en Manchester is, en hulle sal jou onderhou, en Ek sal hulle seën beide geestelik en stoflik;

4 Maar as hulle jou nie ontvang nie, sal Ek oor hulle ’n vervloeking stuur in plaas van ’n seëning.

5 En jy sal voortgaan om God aan te roep in my Naam, en die dinge skryf wat jou gegee sal word deur die Trooster, en alle skrifture uitlê aan die kerk.

6 En dit sal jou op daardie oomblik gegee word wat jy moet spreek en skryf, en hulle sal dit hoor, of Ek sal aan hulle ’n vervloeking stuur in plaas van ’n seëning.

7 Want jy sal al jou diens wy aan Sion; en hierin sal jy krag hê.

8 Wees geduldig in verdrukkings, want jy sal vele hê; maar verduur hulle, want, sien, Ek is met jou, tot aan die einde van jou dae.

9 En in stoflike arbeid sal jy nie krag hê nie, want dit is nie jou roeping nie. Gee aandag aan jou roeping en jy sal dít ontvang wat jy nodig sal hê om jou amp te verheerlik, en om alle skrifte uit te lê, en hou aan met die oplegging van hande en die bevestiging van die kerke.

10 En jou broer Oliver sal voortgaan om my Naam uit te dra voor die wêreld, en ook aan die kerk. En hy moet nie veronderstel dat hy genoeg kan sê oor my saak nie; en sien, Ek is met hom tot die einde.

11 In My sal hy heerlikheid hê, en nie in homself nie, hetsy in swakheid of krag, hetsy in bande of vry;

12 En ten alle tye, en in alle plekke, sal hy sy mond open en my evangelie verkondig soos met die stem van ’n trompet, beide dag en nag. En Ek sal aan hom krag gee soos dit nie onder mense bekend is nie.

13 Vra nie vir wonderwerke nie, tensy Ek julle sal gebied, behalwe die uitwerping van duiwels, genesing van die siekes en teen giftige slange, en teen dodelike giwwe;

14 En hierdie dinge sal julle nie doen nie, tensy dit van julle verlang word deur hulle wat dit begeer, sodat die skrifture vervul mag word; want julle sal doen volgens dit wat geskryf is.

15 En watter plek julle ook al sal binnegaan, en hulle ontvang julle nie in my Naam nie, sal julle ’n vervloeking laat in plaas van ’n seëning, deur die stof van julle voete af te skud teen hulle as ’n getuienis, en julle voete reinig langs die pad.

16 En dit sal gebeur dat wie ook al hulle hande op julle sal lê met geweld, sal julle hulle gebied om geslaan te word in my Naam; en, kyk, Ek sal hulle slaan volgens julle woorde, in my eie bepaalde tyd.

17 En wie ook al jou na die gereg sal neem, sal deur die gereg vervloek word.

18 En jy sal geen beurs of reissak, nóg stawwe, nóg twee kledingstukke, saamneem, want die kerk sal aan jou gee wat jy benodig op die presiese uur vir voedsel en vir kleding, en vir skoene en vir geld, en vir reissak.

19 Want jy is geroepe om my wingerd te snoei met ’n magtige snoeiing, ja, waarlik vir die laaste keer; ja, en ook al diegene wat jy geordineer het, en hulle sal alles doen volgens hierdie wyse. Amen.