Skrifture
Leer en Verbonde 99


Afdeling 99

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan John Murdock, 29 Augustus 1832, te Hiram, Ohio. Vir meer as ’n jaar het John Murdock die evangelie gepredik terwyl sy kinders—moederloos ná die dood van sy vrou, Julia Clapp, in April 1831—by ander families in Ohio gewoon het.

1–8, John Murdock word geroep om die evangelie te verkondig, en diegene wat hom aanvaar, aanvaar die Here en sal barmhartigheid verkry.

1 Kyk, so sê die Here aan my dienskneg John Murdock—jy is geroep om na die oostelike streke te gaan van huis tot huis, van dorp tot dorp, en van stad tot stad, om my ewigdurende evangelie te verkondig aan die inwoners daarvan, te midde van vervolging en boosheid.

2 En wie jou aanvaar, aanvaar My; en jy sal krag hê om my woord te verkondig deur die betonings van my Heilige Gees.

3 En wie jou aanvaar soos ’n klein kindjie, aanvaar my koninkryk; en geseënd is hulle, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

4 En wie ook al jou verwerp, sal verwerp word deur my Vader en sy huis; en jy sal jou voete reinig in die verborge plekke langs die pad as ’n getuienis teen hulle.

5 En kyk, en sien, Ek kom spoedig om te oordeel, om almal te oortuig van hulle goddelose dade wat hulle teen My gepleeg het, soos dit geskrywe is van My in die volume van die boek.

6 En nou, voorwaar Ek sê vir jou, dat dit nie raadsaam is dat jy moet gaan totdat daar voorsien is vir jou kinders, en hulle liefderik opgestuur is na die biskop van Sion nie.

7 En na ’n paar jaar, as jy dit van My begeer, mag jy ook opgaan na die goeie land, om jou erfenis te besit.

8 Andersins sal jy voortgaan om my evangelie te verkondig tot jy geneem word. Amen.