Skrifture
Leer en Verbonde 48


Afdeling 48

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Kirtland, Ohio, 10 Maart 1831. Die Profeet het by die Here navraag gedoen oor die wyse waarop te werk gegaan moes word om grond te verkry vir die vestiging van die Heiliges. Dit was ’n belangrike saak in die lig van die migrasie van lede van die Kerk van die oostelike Verenigde State, in gehoorsaamheid aan die Here se bevel dat hulle moes versamel in Ohio (sien afdelings 37:1–3; 45:64).

1–3, Die Heiliges in Ohio moet hulle grond deel met hulle broers; 4–6, Die Heiliges moet grond koop, ’n stad bou, en die raad van hulle presiderende beamptes volg.

1 Dit is noodsaaklik dat julle vir die huidige tyd moet bly in julle woonplekke, soos dit gepas sal wees.

2 En in soverre julle grond het, sal julle dit deel met die broers uit die ooste.

3 En in soverre julle nie grond het nie, laat hulle vir die huidige tyd koop in daardie streke rondomheen, soos hulle goeddink, want dit is noodsaaklik dat hulle plekke het om te woon vir die huidige tyd.

4 Dit is noodsaaklik dat julle soveel geld spaar as julle kan, en dat julle in regverdigheid alles wat julle kan bekom, sodat julle mettertyd in staat sal wees om grond te koop vir ’n erfenis, selfs die stad.

5 Die plek sal nog nie geopenbaar word nie; maar nadat jul broers gekom het uit die ooste, sal sekere mans aangestel word, en aan hulle sal dit gegee word om die plek te ken, of aan hulle sal dit geopenbaar word.

6 En hulle sal aangestel word om die grond te koop, en om ’n begin te maak om die fondament van die stad te lê; en dan sal julle begin om versamel te word met julle families, elkeen volgens sy familie, volgens sy omstandighede, en soos aan hom toegewys word deur die presidensie en die biskop van die kerk, volgens die wette en gebooie wat julle ontvang het, en wat julle hierna sal ontvang. Dit is so. Amen.