Hoofstuk 31
Alma lei ’n sending om die afvallige Zoramiete te hervorm—Die Zoramiete loën Christus, glo in ’n valse begrip van uitverkiesing, en aanbid deur voorgeskrewe gebede—Die sendelinge word vervul met die Heilige Gees—Hul verdrukkinge word verswelg in die vreugde van Christus. Ongeveer 74 v.C.
1 Nou het dit gebeur dat na die einde van Korihor, omdat Alma berig ontvang het dat die Zoramiete die weë van die Here verdraai het, en dat Zoram, wat hulle leier was, die harte van die volk gelei het om neer te buig voor stomme afgode, het sy hart weer begin om siek te word vanweë die ongeregtigheid van die volk.
2 Want dit was die oorsaak van groot droefheid vir Alma om te weet van ongeregtigheid onder sy volk; daarom was sy hart uitermate bedroef vanweë die afskeiding van die Zoramiete van die Nefiete.
3 Nou het die Zoramiete hulleself bymekaargemaak in ’n land wat hulle Antionum genoem het, wat oos was van die land Zarahemla, wat byna aangrensend was aan die seekus, wat suid was van die land Jerson, wat ook gegrens het aan die wildernis aan die suidekant, welke wildernis vol Lamaniete was.
4 Nou het die Nefiete grootliks gevrees dat die Zoramiete vriendskaplike betrekkinge sou hê met die Lamaniete, en dat dit die oorsaak sou wees van groot verlies aan die kant van die Nefiete.
5 En nou, omdat die verkondiging van die woord ’n groot neiging gehad het om die volk te lei om dit te doen wat regverdig was—ja, dit het ’n kragtiger uitwerking gehad op die gemoed van die volk as die swaard, of enigiets anders, wat met hulle gebeur het—daarom het Alma gedink dat dit raadsaam was dat hulle die doeltreffendheid van die woord van God moes toets.
6 Daarom het hy Ammon geneem, en Aäron, en Omner; en Himni het hy gelaat in die kerk in Zarahemla; maar die voornoemde drie het hy met hom geneem, en ook Amulek en Zeesrom, wat by Melek was; en hy het ook twee van sy seuns geneem.
7 Nou, die oudste van sy seuns het hy nie met hom geneem nie, en sy naam was Helaman; maar die name van diegene wat hy saam met hom geneem het, was Sjiblon, en Corianton; en dit is die name van diegene wat saam met hom gegaan het onder die Zoramiete, om aan hulle die woord te preek.
8 Nou was die Zoramiete afvalliges van die Nefiete; daarom het hulle die woord van God aan hulle gepredik gehad.
9 Maar hulle het verval in groot dwalinge, want hulle wou nie die gebooie van God onderhou, en sy insettinge, volgens die wet van Moses nie.
10 Nóg wou hulle die handelinge van die kerk onderhou, om daagliks voort te gaan in gebed en smeking tot God, dat hulle nie in versoeking mag kom nie.
11 Ja, kortom, hulle het die weë van die Here verdraai in baie gevalle; daarom, om hierdie rede het Alma en sy broers die land ingegaan om die woord vir hulle te preek.
12 Nou, toe hulle in die land ingekom het, kyk, tot hulle verbasing het hulle gevind dat die Zoramiete sinagoges gebou het, en dat hulle hulleself bymekaargemaak het op een dag in die week, welke dag hulle die dag van die Here genoem het; en hulle het aanbid op ’n wyse wat Alma en sy broers nooit gesien het nie.
13 Want hulle het ’n plek opgebou gehad in die middel van hulle sinagoge, ’n plek om te staan, wat hoog bo die kop was; en die bopunt daarvan sou net een persoon toelaat.
14 Daarom, wie ook al begeer het om te aanbid, moes opgaan en op die bopunt daarvan staan, en sy hande uitstrek na die hemel, en uitroep met ’n luide stem, en sê:
15 Heilige, heilige God; ons glo dat U God is, en ons glo dat U heilig is, en dat U ’n Gees was, en dat U ’n Gees is, en dat U ’n Gees sal wees vir ewig.
16 Heilige God, ons glo dat U ons van ons broers geskei het; en ons glo nie in die oorlewering van ons broers nie, wat aan hulle oorgelewer is deur die kinderagtigheid van hulle vaders; maar ons glo dat U ons uitverkies het om u heilige kinders te wees; en ook het U dit aan ons bekend gemaak dat daar geen Christus sal wees nie.
17 Maar U is dieselfde gister, vandag en vir ewig; en U het ons uitverkies dat ons gered mag word, terwyl almal rondom ons uitverkies is om deur u toorn in die hel gewerp te word; vir welke heiligheid, o God, ons U dank; en ons dank U ook dat U ons uitverkies het, sodat ons nie weggelei word agter die dwase oorleweringe van ons broers nie, wat hulle vasbind tot ’n geloof in Christus, wat hulle harte lei om ver van U af te dwaal, ons God.
18 En verder dank ons U, o God, dat ons ’n uitverkore en ’n heilige volk is. Amen.
19 Nou het dit gebeur dat nadat Alma en sy broers en sy seuns hierdie gebede gehoor het, was hulle bomate verbaas.
20 Want kyk, elke mens het opgegaan en dieselfde gebede gedoen.
21 Nou, die plek is deur hulle Rameümptom genoem, wat, as dit vertaal word, die heilige platform is.
22 Nou, van hierdie platform af het hulle gedoen, elke mens, dieselfde gebed aan God, en hul God gedank dat hulle deur Hom uitverkies is, en dat Hy hulle nie weggelei het agter die oorleweringe van hulle broers aan nie, en dat hulle harte nie weggesteel was om te glo in dinge wat moes kom, waarvan hulle niks geweet het nie.
23 Nou, nadat die mense almal op hierdie wyse hulle dank betuig het, het hulle teruggekeer na hul huise, en nooit weer van hulle God gespreek totdat hulle weer by die heilige platform versamel het nie, om dank te betuig volgens hulle wyse.
24 Nou toe Alma dit sien, was sy hart bedroef; want hy het gesien dat hulle ’n goddelose en wederstrewige volk was; ja, hy het gesien dat hulle harte gerig was op goud, en op silwer, en op alle soorte mooi dinge.
25 Ja, en hy het ook gesien dat hulle harte verhewe was tot groot roem, in hulle hoogmoed.
26 En hy het sy stem verhef tot die hemel, en uitgeroep, en gesê: O, hoe lank, o Here, sal U toelaat dat u diensknegte hier benede sal woon in die vlees, om sulke groot boosheid te aanskou onder die kinders van mense?
27 Kyk, o God, hulle roep tot U, en tog is hulle harte opgeneem deur hulle hoogmoed. Kyk, o God, hulle roep tot U met hulle monde, terwyl hulle opgeblase is, en wel tot verwaandheid toe, met die ydele dinge van die wêreld.
28 Kyk, o my God, hulle kosbare kleding, en hulle ringetjies, en hulle armbande, en hulle ornamente van goud, en al hulle kosbare dinge waarmee hulle versier is; en kyk, hulle harte is op hulle gesteld, en tog roep hulle tot U en sê—Ons dank U, o God, want ons is ’n uitverkore volk vir U, terwyl andere sal vergaan.
29 Ja, en hulle sê dat U dit aan hulle bekend gemaak het dat daar geen Christus sal wees nie.
30 O Here God, hoe lank sal U toelaat dat sulke boosheid en ontrouheid onder hierdie volk sal wees? O Here, sal U my krag gee, sodat ek my swakhede mag verduur. Want ek is swak, en sulke boosheid onder hierdie volk pynig my siel.
31 O Here, my hart is uitermate bedroef; sal U my siel vertroos in Christus. O Here, sal U aan my gun dat ek krag mag hê, dat ek hierdie verdrukkinge met geduld sal verduur wat oor my sal kom, vanweë die ongeregtigheid van hierdie volk.
32 O Here, sal U my siel vertroos, en aan my welslae gee, en ook my medearbeiders, wat by my is—ja, Ammon, en Aäron, en Omner, en ook Amulek en Zeesrom, en ook my twee seuns—ja, en wel al hierdie sal U vertroos, o Here. Ja, sal U hulle siele vertroos in Christus.
33 Sal U aan hulle gun, dat hulle krag mag hê, dat hulle hul verdrukkinge mag verduur wat oor hulle sal kom vanweë die ongeregtighede van hierdie volk.
34 O Here, sal U aan ons gee dat ons welslae mag hê om hulle weer na U te bring in Christus.
35 Kyk, o Here, hulle siele is kosbaar, en baie van hulle is ons broers; daarom, gee aan ons, o Here, krag en wysheid dat ons hierdie, ons broers, weer na U mag bring.
36 Nou het dit gebeur dat toe Alma hierdie woorde gesê het, dat hy sy hande geplaas het op al diegene wat by hom was. En kyk, toe hy sy hande op hulle geplaas het, is hulle vervul met die Heilige Gees.
37 En daarna het hulle hulself van mekaar geskei, die een van die ander, en hulle was nie besorg oor wat hulle sou eet, of wat hulle sou drink, of wat hulle sou aantrek nie.
38 En die Here het vir hulle voorsien sodat hulle nie sou honger ly, nóg dors word; ja, en Hy het ook krag vir hulle gegee, sodat hulle geen soort verdrukking sou ly nie, behalwe as dit verswelg is in die vreugde van Christus. Nou dit was volgens die gebed van Alma; en dit omdat hy in geloof gebid het.