Hoofstuk 22
Aäron leer Lamoni se vader aangaande die Skepping, die Val van Adam, en die plan van verlossing deur Christus—Die koning en sy hele huishouding word bekeer—Die verdeling van die land tussen die Nefiete en die Lamaniete word verduidelik. Ongeveer 90–77 v.C.
1 Nou, terwyl Ammon op hierdie wyse die volk van Lamoni voortdurend geleer het, sal ons terugkeer na die kroniek van Aäron en sy broers; want nadat hy vertrek het uit die land Middoni, is hy deur die Gees na die land Nefi gelei, en wel na die huis van die koning wat oor die hele land was, behalwe oor die land Ismael; en hy was die vader van Lamoni.
2 En dit het gebeur dat hy ingegaan het na hom in die koning se paleis, met sy broers, en hom neergebuig het voor die koning, en aan hom gesê het: Kyk, o koning, ons is die broers van Ammon, wat u bevry het uit die gevangenis.
3 En nou, o koning, as u ons lewens sal spaar, sal ons u diensknegte wees. En die koning het aan hulle gesê: Staan op, want ek sal aan julle jul lewens skenk, en ek sal nie toelaat dat julle my diensknegte sal wees nie; maar ek sal aandring dat julle vir my sal preek; want ek was ietwat verontrus in my gemoed vanweë die onselfsugtigheid en die grootheid van die woorde van julle broer Ammon; en ek begeer om die rede te weet hoekom hy nie opgekom het uit Middoni met julle nie.
4 En Aäron het aan die koning gesê: Kyk, die Gees van die Here het hom na ’n ander plek geroep; hy het gegaan na die land Ismael, om die volk van Lamoni te leer.
5 Nou het die koning aan hulle gesê: Wat is dit wat julle gesê het aangaande die Gees van die Here? Kyk, dit is die ding wat my verontrus.
6 En ook, wat is dit wat Ammon gesê het—As u sal bekeer sal u gered word, en as u nie bekeer nie, sal u op die laaste dag verwerp word?
7 En Aäron het hom geantwoord en aan hom gesê: Glo u dat daar ’n God is? En die koning het gesê: Ek weet dat die Amalekiete sê dat daar ’n God is, en ek het aan hulle gegun dat hulle heiligdomme mag bou, sodat hulle hul kan versamel om Hom te aanbid. En as jy nou sê dat daar ’n God is, kyk, ek sal glo.
8 En nou toe Aäron dit gehoor het, het sy hart begin om te jubel, en hy het gesê: Kyk, so waar as wat u leef, o koning, daar is ’n God.
9 En die koning het gesê: Is God daardie Groot Gees wat ons vaders uit die land Jerusalem gebring het?
10 En Aäron het aan hom gesê: Ja, Hy is daardie Groot Gees, en Hy het alle dinge geskape beide in die hemel en op die aarde. Glo u dit?
11 En hy het gesê: Ja, ek glo dat die Groot Gees alle dinge geskape het, en ek begeer dat jy my moet vertel aangaande al hierdie dinge, en ek sal jou woorde glo.
12 En dit het gebeur dat toe Aäron sien dat die koning sy woorde sou glo, het hy begin by die skepping van Adam, en die skrifture gelees aan die koning—hoe God die mens geskape het na sy eie beeld, en dat God hom gebooie gegee het, en dat vanweë oortreding, die mens geval het.
13 En Aäron het aan hom die skrifture uitgelê vanaf die skepping van Adam, en die val van die mens aan hom verduidelik, en hulle vleeslike toestand en ook die plan van verlossing, wat berei is vanaf die grondlegging van die wêreld, deur Christus, vir almal wat ook al sal glo in sy Naam.
14 En aangesien die mens geval het, kon hy niks uit homself verdien nie, maar die lydings en dood van Christus versoen vir hulle sondes, deur geloof en bekering, ensovoorts; en dat Hy die bande van die dood verbreek het, dat die graf geen oorwinning sal hê nie, en dat die angel van die dood opgesluk word in die hoop van heerlikheid; en Aäron het al hierdie dinge uitgelê aan die koning.
15 En dit het gebeur dat nadat Aäron hierdie dinge aan hom uitgelê het, het die koning gesê: Wat moet ek doen dat ek hierdie ewige lewe mag hê waarvan jy gespreek het? Ja, wat moet ek doen dat ek gebore mag word uit God, en dat hierdie goddelose gees uit my bors ontwortel word, en sy Gees ontvang, sodat ek vervul mag word met blydskap, sodat ek nie mag verwerp word op die laaste dag nie? Kyk, het hy gesê, ek sal alles prysgee wat ek besit, ja, ek sal my koninkryk opgee sodat ek hierdie groot vreugde mag ontvang.
16 Maar Aäron het aan hom gesê: As u hierdie ding begeer, as u sal neerbuig voor God, ja, as u sal bekeer van al u sondes, en sal neerbuig voor God, en sy Naam aanroep in geloof, en glo dat u sal ontvang, dan sal u die hoop ontvang wat u begeer.
17 En dit het gebeur dat toe Aäron hierdie woorde gesê het, het die koning op sy knieë neergebuig voor die Here; ja, en het hy selfs plat gelê op die aarde en kragtig uitgeroep, en gesê:
18 O God, Aäron het my vertel dat daar ’n God is; en as daar ’n God is, en as U God is, sal U Uself aan my bekend maak, en ek sal al my sondes weggee om U te ken, en sodat ek opgewek mag word uit die dood, en gered mag word op die laaste dag. En nou toe die koning hierdie woorde gesê het, is hy getref asof hy dood was.
19 En dit het gebeur dat sy diensknegte gehardloop en die koningin alles vertel wat met die koning gebeur het. En sy het ingekom na die koning; en toe sy hom sien lê asof hy dood was, en ook Aäron en sy broers staan asof hulle die oorsaak was van sy val, was sy kwaad vir hulle, en beveel dat haar diensknegte, of die diensknegte van die koning, hulle moes neem en hulle doodmaak.
20 Nou het die diensknegte die oorsaak gesien van die koning se val, daarom het hulle nie gedurf om hulle hande op Aäron en sy broers te lê nie; en hulle het gepleit by die koningin, en gesê: Hoekom beveel u dat ons hierdie manne moet doodmaak, terwyl kyk, een van hulle magtiger is as ons almal? Daarom sal ons voor hulle val.
21 Nou toe die koningin die vrees van die diensknegte sien, het sy ook begin om uitermate te vrees, dat daar een of ander boosheid oor haar sou kom. En sy het haar diensknegte beveel dat hulle moes gaan en al die volk roep, sodat hulle Aäron en sy broers mag doodmaak.
22 Nou toe Aäron die vasberadenheid van die koningin sien, het hy, omdat hy die hardheid van die harte van die volk geken het, gevrees dat ’n skare bymekaar sou kom, en dat daar ’n groot twis en ’n oproer onder hulle sou wees; daarom het hy sy hand uitgesteek en die koning opgelig van die grond, en aan hom gesê: Staan. En hy het gestaan op sy voete, en sy krag ontvang.
23 Nou, dit is gedoen in die teenwoordigheid van die koningin en baie van die diensknegte. En toe hulle dit sien, was hulle grootliks verbaas, en het begin om te vrees. En die koning het vorentoe gekom, en vir hulle begin onderrig. En hy het hulle onderrig in soverre dat sy hele huishouding bekeer is tot die Here.
24 Nou was daar ’n skare bymekaar vergader as gevolg van die bevel van die koningin, en daar het begin om groot murmurerings onder hulle te wees vanweë Aäron en sy broers.
25 Maar die koning het opgestaan onder hulle en hulle onderrig. En hulle is gekalmeer teenoor Aäron en diegene wat saam met hom was.
26 En dit het gebeur dat toe die koning sien dat die volk gekalmeer is, het hy Aäron en sy broers laat opstaan in die midde van die skare, en dat hulle die woord moes preek aan hulle.
27 En dit het gebeur dat die koning ’n aankondiging gestuur het dwarsdeur die land, onder al sy mense wat in sy hele land was, wat in al die streke rondom was, wat selfs aangrensend aan die see was, aan die oostekant en aan die westekant, en wat geskei was van die land Zarahemla deur ’n smal strook van wildernis, wat gestrek het van die see oos tot by die see wes, en rondomheen op die grense van die seekus, en die grense van die wildernis wat aan die noordekant was by die land Zarahemla, deur die grense van Manti, by die oorsprong van die Sidon-rivier, wat strek van die ooste na die weste—en so is die Lamaniete en die Nefiete geskei.
28 Nou, die luiste gedeelte van die Lamaniete het in die wildernis gewoon, en het in tente gewoon; en hulle was versprei deur die wildernis aan die weste, in die land Nefi; ja, en ook aan die westekant van die land Zarahemla, by die grense van die seekus, en aan die westekant in die land Nefi, in die plek van hulle vaders se eerste erfenis, en dus aangrensend aan die seekus.
29 En ook was daar baie Lamaniete aan die oostekant by die seekus, waarheen die Nefiete hulle verdrywe het. En dus is die Nefiete byna omsingel deur die Lamaniete; nogtans het die Nefiete besit geneem van al die noordelike dele van die land aangrensend aan die wildernis, by die oorsprong van die Sidon-rivier, van die ooste na die weste, rondomheen aan die wildernis se kant; aan die noordekant, totdat hulle by die land gekom het wat hulle Oorvloed genoem het.
30 En dit het gegrens aan die land wat hulle Verlatenheid genoem het, omdat dit so ver noordwaarts was dat dit in die land gekom het wat bevolk en verwoes was, van wie se beendere ons gespreek het, wat ontdek is deur die volk van Zarahemla, want dit was die plek waar hulle eerste geland het.
31 En hulle het vandaar opgekom in die suidelike wildernis. Daarom is die land aan die noordekant genoem Verlatenheid, en die land aan die suidekant is genoem Oorvloed, en dit was die wildernis wat gevul is met allerlei wilde diere van elke soort, ’n gedeelte waarvan gekom het van die land noordwaarts vir voedsel.
32 En nou, dit was net die afstand van ’n dag en ’n half se reis vir ’n Nefiet, op die grenslyn tussen Oorvloed en die land Verlatenheid, van die oostelike tot die westelike see; en dus is die land Nefi en die land Zarahemla byna omring deur water, en daar was ’n smal landengte tussen die land noordwaarts en die land suidwaarts.
33 En dit het gebeur dat die Nefiete die land Oorvloed bewoon het, en wel van die oostelike tot by die westelike see, en so het die Nefiete in hul wysheid, met hulle wagte en hul leërs, die Lamaniete ingeperk in die suide, sodat hulle daardeur nie meer besittings in die noorde kon hê nie, sodat hulle nie die land noordwaarts kon oorstroom nie.
34 Daarom kon die Lamaniete nie meer besittings hê nie behalwe in die land Nefi, en die wildernis rondomheen. Nou dit was wysheid in die Nefiete—omdat die Lamaniete ’n vyand was van hulle, wou hulle nie hul onderdrukking toelaat aan elke kant nie, en ook sodat hulle ’n land mag hê waarheen hulle mag vlug, volgens hul begeertes.
35 En nou ek, nadat ek dit gesê het, keer weer terug na die kroniek van Ammon en Aäron, Omner en Himni, en hulle broers.