Hoofstuk 26
Ammon roem in die Here—Die gelowiges word versterk deur die Here en word kennis gegee—Deur geloof mag mense duisende siele tot bekering bring—God het alle mag en begryp alle dinge. Ongeveer 90–77 v.C.
1 En nou, hierdie is die woorde van Ammon aan sy broers, wat die volgende sê: My broers en my broeders, kyk, ek sê vir julle, watter groot rede het ons om ons te verheug; want kon ons veronderstel het, toe ons uit die land Zarahemla vertrek het, dat God aan ons sulke groot seëninge sou gegun het?
2 En nou, ek vra, watter groot seëninge het Hy aan ons geskenk? Kan julle sê?
3 Kyk, ek antwoord vir julle; want ons broers, die Lamaniete, was in die duisternis, ja, en wel in die donkerste afgrond, maar kyk, hoe baie van hulle is gebring om die wonderlike lig van God te aanskou! En dit is die seëning wat aan ons geskenk is, dat ons werktuie gemaak is in die hande van God om hierdie groot werk teweeg te bring.
4 Kyk, duisende van hulle verheug hulle, en is ingebring in die kudde van God.
5 Kyk, die veld was ryp, en geseënd is julle, want julle het die sekel ingesteek, en het geoes met julle mag, ja, die hele dag lank het julle gearbei; en sien die aantal van julle gerwe! En hulle sal ingebring word in die skure, sodat hulle nie vermors word nie.
6 Ja, hulle sal nie platgeslaan word deur die storm op die laaste dag nie, ja, nóg sal hulle deur die warrelwinde verstrooi word; maar wanneer die storm kom, sal hulle bymekaar gemaak word in hulle plek, sodat die storm nie kan deurdring tot hulle nie, ja, nóg sal hulle deur hewige winde gedryf word waarheen die vyand ook al begeer om hulle te dra.
7 Maar kyk, hulle is in die hande van die Here van die oes, en hulle is syne; en Hy sal hulle opwek op die laaste dag.
8 Prys die Naam van ons God; laat ons sing tot sy lof, ja, laat ons dank gee aan sy heilige Naam, want Hy werk regverdigheid vir ewig.
9 Want as ons nie opgekom het uit die land Zarahemla nie, sou hierdie, ons innig geliefde broers, wat ons so innig liefgehad het, nog steeds ontstig gewees het met haat teenoor ons, ja, en hulle sou ook vreemdelinge gewees het voor God.
10 En dit het gebeur dat toe Ammon hierdie woorde gesê het, het sy broer Aäron hom bestraf, en gesê: Ammon, ek vrees dat jou vreugde jou weglei tot roem.
11 Maar Ammon het aan hom gesê: Ek roem nie in my eie krag of in my eie wysheid nie; maar kyk, my vreugde is vol, ja, my hart loop oor van vreugde; en ek sal my verbly in my God.
12 Ja, ek weet dat ek niks is nie, wat my krag betref, is ek swak; daarom sal ek nie roem in myself nie, maar ek sal roem in my God, want in sy krag kan ek alle dinge doen; ja, kyk, baie magtige wonderwerke het ons verrig in hierdie land, waarvoor ons sy Naam vir ewig sal loof.
13 Kyk, hoeveel duisende van ons broers het Hy losgemaak van die pyne van die hel; en hulle word gebring om verlossende liefde te sing, en dit vanweë die krag van sy woord wat in ons is; daarom, het ons nie groot rede om ons te verheug nie?
14 Ja, ons het rede om Hom te loof vir ewig, want Hy is die Allerhoogste God, en Hy het ons broers losgemaak van die kettings van die hel.
15 Ja, hulle was omring deur ewigdurende duisternis en vernietiging; maar kyk, Hy het hulle ingebring in sy ewigdurende lig, ja, tot ewigdurende heil; en hulle word omring deur die ongeëwenaarde volheid van sy liefde; ja, en ons was werktuie in sy hande om hierdie groot en wonderbaarlike werk te doen.
16 Daarom, laat ons roem, ja, ons sal roem in die Here; ja, ons sal ons verheug, want ons vreugde is vol; ja, ons sal ons God prys vir ewig. Kyk, wie kan te veel roem in die Here? Ja, wie kan te veel sê van sy groot krag, en van sy barmhartigheid, en van sy lankmoedigheid teenoor die kinders van mense? Kyk, ek sê vir julle, ek kan nie die kleinste deel beskryf van wat ek voel nie.
17 Wie kon veronderstel dat ons God so barmhartig kon gewees het om ons weg te ruk uit ons aaklige, sondige en besoedelde toestand?
18 Kyk, ons het in toorn uitgegaan, met magtige dreigemente om sy kerk te vernietig.
19 O dan, hoekom het Hy ons nie oorgelewer tot ’n vreeslike vernietiging nie, ja, hoekom het Hy nie die swaard van sy geregtigheid op ons laat val, en ons verdoem tot ewige wanhoop nie?
20 O, my siel, vlug as’t ware by die gedagte. Kyk, Hy het nie sy geregtigheid uitgeoefen op ons nie, maar in sy groot barmhartigheid het Hy ons oor daardie ewigdurende kloof van dood en ellende gebring, en wel tot die heil van ons siele.
21 En nou, kyk, my broers, watter natuurlike mens is daar wat hierdie dinge weet? Ek sê vir julle, daar is niemand wat hierdie dinge weet nie, behalwe die bekeerdes.
22 Ja, hy wat bekeer en geloof beoefen, en goeie werke voortbring, en aanhoudend bid sonder ophou—aan sulkes is dit gegee om die verborgenhede van God te ken; ja aan sulkes sal dit gegee word om dinge te openbaar wat nog nooit geopenbaar is nie; ja, en dit sal gegee word aan sulkes om duisende siele tot bekering te bring, net soos dit aan ons gegee is om hierdie, ons broers, tot bekering te bring.
23 Nou onthou julle, my broers, dat ons aan ons broers in die land Zarahemla gesê het, ons gaan op na die land Nefi, om te preek vir ons broers, die Lamaniete, en hulle het spottend vir ons gelag?
24 Want hulle het aan ons gesê: Veronderstel julle dat julle die Lamaniete kan bring tot die kennis van die waarheid? Veronderstel julle dat julle die Lamaniete kan oortuig van die onjuistheid van die oorleweringe van hulle vaders, aangesien hulle so ’n hardnekkige volk is; wie se harte behae geskep het in bloedvergieting; wie se dae deurgebring is in die ergste ongeregtigheid; wie se weë die weë was van ’n oortreder van die begin af? Nou my broers, julle onthou dat dit hulle woorde was.
25 En bowendien het hulle gesê: Laat ons wapens opneem teen hulle, sodat ons hulle en hulle ongeregtigheid vernietig uit die land, voordat hulle ons oorweldig en ons vernietig.
26 Maar kyk, my geliefde broers, ons het die wildernis binnegekom, nie met die voorneme om ons broers te vernietig nie, maar met die voorneme dat ons miskien ’n paar van hulle siele mag red.
27 Nou toe ons harte bedruk was, en ons wou terugkeer, kyk, die Here het ons vertroos, en gesê: Gaan onder julle broers, die Lamaniete, en verduur met geduld julle verdrukkinge, en Ek sal aan julle welslae gee.
28 En nou, kyk, ons het gekom, en was onder hulle gewees; en ons was geduldig in ons lyding, en ons het elke ontbering gely; ja, ons het gereis van huis tot huis, en staatgemaak op die barmhartigheid van die wêreld—nie alleen op die barmhartigheid van die wêreld nie, maar op die barmhartigheid van God.
29 En ons het hulle huise binnegegaan en hulle geleer, en ons het hulle geleer op hulle strate; ja, en ons het hulle geleer op hulle heuwels; en ons het ook hulle tempels binnegegaan en hulle sinagoges en hulle geleer; en ons is uitgewerp, en bespot, en bespoeg, en geslaan op ons wange; en ons is gestenig, en gevang en vasgebind met sterk toue, en in die gevangenis gewerp; en deur die krag en die wysheid van God is ons weer bevry.
30 En ons het allerlei verdrukkinge gely, en dit alles, sodat ons miskien die middel mag wees om die een of ander siel te red; en ons het veronderstel dat ons vreugde vol sou wees as ons miskien die middel kon wees om sommiges te red.
31 Nou kyk, ons kan kyk en die vrugte sien van ons arbeid; en is hulle min? Ek sê vir julle, Nee, hulle is baie; ja, en ons kan getuig van hulle opregtheid, vanweë hulle liefde teenoor hulle broers en ook teenoor ons.
32 Want kyk, hulle sou eerder hulle lewens opoffer as om selfs die lewe van hulle vyand te neem; en hulle het hulle wapens van oorlog diep begrawe in die aarde, vanweë hulle liefde teenoor hulle broers.
33 En nou kyk, ek sê vir julle, was daar ooit so ’n groot liefde in die hele land? Kyk, ek sê vir julle, Nee, daar was nie, selfs nie onder die Nefiete nie.
34 Want kyk, hulle sou nie wapens opneem teen hulle broers; hulle sou nie toelaat dat hulle self gedood word nie. Maar kyk hoe baie van hulle het hul lewens neergelê; en ons weet dat hulle na hul God gegaan het, vanweë hulle liefde en vanweë hulle haat vir sonde.
35 Nou het ons nie rede om ons te verbly nie? Ja, ek sê vir julle, daar was nooit mense wat so ’n groot rede gehad het om hulle te verbly as ons nie, sedert die wêreld begin het; ja, en my vreugde lei my weg en wel tot roem in my God; want Hy het alle krag, alle wysheid, en alle begrip; Hy begryp alle dinge, en Hy is ’n barmhartige Wese, en wel tot heil, tot diegene wat sal bekeer en glo in sy Naam.
36 Nou as dit roem is, net so sal ek roem; want dit is my lewe en my lig, my vreugde en my heil, en my verlossing van ewigdurende wee. Ja, prys die Naam van my God, wat gedagtig was aan hierdie volk, wat ’n tak is van die boom van Israel, en verlore was van sy stam in ’n vreemde land; ja, sê ek, prys die Naam van my God, wat gedagtig was aan ons, swerwers in ’n vreemde land.
37 Nou, my broers, ons sien dat God gedagtig is aan elke volk, in watter land hulle ook al mag wees; ja, Hy tel sy volk, en sy innerlike ontferming is oor die hele aarde. Nou dit is my vreugde, en my groot danksegging; ja, en ek sal dank gee aan my God vir ewig. Amen.