Skrifture
Moses 1


Seleksies uit die
Boek van Moses

’n Uittreksel van die vertaling van die Bybel soos geopenbaar aan Joseph Smith die Profeet, Junie 1830–Februarie 1831.

Hoofstuk 1

(Junie 1830)

God openbaar Homself aan Moses—Moses word getransfigureer—Hy word gekonfronteer deur Satan—Moses sien baie bewoonde wêrelde—Wêrelde sonder tal is geskep deur die Seun—God se werk en heerlikheid is om die onsterflikheid en die ewige lewe van die mens teweeg te bring.

1 Die woorde van God wat hy tot Moses gespreek het op ’n tydstip toe Moses geneem is op ’n uitermate hoë berg,

2 En hy het God van aangesig tot aangesig gesien, en hy het met Hom gespreek, en die heerlikheid van God was op Moses; daarom kon Moses sy teenwoordigheid verduur.

3 En God het tot Moses gespreek, en gesê: Kyk, Ek is die Here God Almagtig, en Eindeloos is my Naam; want Ek is sonder begin van dae of einde van jare; en is dit nie eindeloos nie?

4 En kyk, jy is my seun; daarom, kyk, en Ek sal aan jou die werk van my hande toon; maar nie alles nie, want my werke is sonder einde, en ook my woorde, want hulle hou nooit op nie.

5 Daarom, niemand kan al my werke aanskou nie, tensy hy al my heerlikheid aanskou; en niemand kan al my heerlikheid aanskou en daarna in die vlees op die aarde bly nie.

6 En Ek het ’n taak vir jou, Moses, my seun; en jy is in die gelykenis van my Eniggeborene; en my Eniggeborene is en sal die Saligmaker wees, want Hy is vol genade en waarheid; maar daar is geen ander God naas My nie, en alle dinge is teenwoordig voor My, want Ek ken hulle almal.

7 En nou, kyk, hierdie een ding toon Ek aan jou, Moses, my seun, want jy is in die wêreld, en nou toon Ek dit aan jou.

8 En dit het gebeur dat Moses gekyk het, en die wêreld waarop hy geskape is aanskou het, en Moses het die wêreld aanskou en die eindes daarvan, en al die kinders van mense wat is, en wat geskape was; en oor hulle het hy hom grootliks verbaas en verwonder.

9 En die teenwoordigheid van God het onttrek van Moses, dat sy heerlikheid nie op Moses was nie; en Moses is alleen gelaat. En terwyl hy alleen gelaat is, het hy op die aarde neergeval.

10 En dit het gebeur dat dit vir ’n tydperk van vele ure was voordat Moses weer sy natuurlike krag soos dié van ’n mens ontvang het; en hy het vir homself gesê: Nou, om hierdie rede weet ek dat die mens niks is nie, welke ding ek nooit veronderstel het nie.

11 Maar nou het my eie oë God aanskou; maar nie my natuurlike nie, maar my geestelike oë, want my natuurlike oë kon nie aanskou nie; want ek sou verskroei en gesterwe het in sy teenwoordigheid; maar sy heerlikheid was op my; en ek het sy aangesig aanskou, want ek is voor hom getransfigureer.

12 En dit het gebeur dat toe Moses hierdie woorde gesê het, kyk, Satan het gekom en hom versoek, en gesê: Moses, seun van die mens, aanbid my.

13 En dit het gebeur dat Moses na Satan gekyk en gesê het: Wie is jy? Want kyk, ek is ’n seun van God, na die gelykenis van sy Eniggeborene; en waar is jou heerlikheid dat ek jou moet aanbid?

14 Want kyk, ek kon God nie aanskou tensy sy heerlikheid oor my sou kom nie, en ek voor Hom getransfigureer was. Maar ek kan na jou kyk as ’n natuurlike mens. Is dit nie so nie, waarlik?

15 Prys die Naam van my God, want sy Gees het hom nie algeheel van my onttrek nie, andersins, waar is jou heerlikheid, want dit is duisternis vir my? En ek kan onderskei tussen jou en God; want God het vir my gesê: Aanbid God, want Hom alleen sal jy dien.

16 Gaan weg hiervandaan, Satan; bedrieg my nie; want God het vir my gesê: Jy is na die gelykenis van my Eniggeborene.

17 En Hy het ook aan my gebooie gegee toe Hy tot my uit die brandende bos geroep, en gesê het: Roep na God in die Naam van my Eniggeborene, en aanbid My.

18 En verder het Moses gesê: Ek sal nie ophou om God aan te roep nie, ek het ander dinge om van Hom te vra: want sy heerlikheid was op my, daarom kan ek onderskei tussen Hom en jou. Gaan weg hiervandaan, Satan.

19 En nou, toe Moses hierdie woorde gesê het, het Satan met ’n luide stem uitgeroep, en op die aarde gebulder, en beveel, en het gesê: Ek is die Eniggeborene, aanbid my.

20 En dit het gebeur dat Moses uitermate begin vrees het; en terwyl hy begin vrees, het hy die bitterheid van die hel gesien. Nietemin, toe hy God aangeroep het, het hy krag ontvang, en hy het beveel, en gesê: Gaan weg van my, Satan, want slegs hierdie een God sal ek aanbid, wat die God van heerlikheid is.

21 En nou het Satan begin om te bewe, en die aarde het geskud; en Moses het krag ontvang, en God aangeroep, en gesê: In die Naam van die Eniggeborene, gaan weg hiervandaan, Satan.

22 En dit het gebeur dat Satan met ’n luide stem uitgeroep het, met geween en geweeklaag, en ’n gekners van tande; en hy het daarvandaan weggegaan, naamlik van die teenwoordigheid van Moses, sodat hy hom nie aanskou het nie.

23 En nou van hierdie ding het Moses getuienis gelewer; maar vanweë boosheid is dit nie te vinde onder die kinders van mense nie.

24 En dit het gebeur dat toe Satan vertrek het van die teenwoordigheid van Moses, dat Moses sy oë opgehef het na die hemel, gevul met die Heilige Gees, wat getuienis lewer van die Vader en die Seun;

25 En roepende op die Naam van God, het hy weer sy heerlikheid aanskou, want dit was op hom; en hy het ’n stem gehoor, wat sê: Geseënd is jy Moses, want Ek, die Almagtige, het jou gekies, en jy sal sterker gemaak word as vele waters; want hulle sal jou bevel gehoorsaam asof jy God was.

26 En kyk, Ek is met jou, en wel tot die einde van jou dae; want jy sal my volk verlos van slawerny, naamlik Israel my gekose.

27 En dit het gebeur, dat terwyl die stem nog gespreek het, Moses sy oë rondomheen laat kyk en die aarde aanskou het, ja, naamlik dit alles, en daar was nie ’n deeltjie daarvan wat hy nie aanskou het nie, en het dit onderskei deur die Gees van God.

28 En hy het ook die inwoners daarvan aanskou, en daar was nie ’n siel wat hy nie aanskou het nie; en hy het hulle onderskei deur die Gees van God; en hulle getalle was groot, en wel ontelbaar soos die sand van die see.

29 En hy het baie lande aanskou; en elke land is aarde genoem, en daar was inwoners op die aangesig daarvan.

30 En dit het gebeur dat Moses God aangeroep, en gesê het: Vertel my, ek bid u, waarom is hierdie dinge so, en waardeur het U hulle gemaak?

31 En kyk, die heerlikheid van die Here was op Moses, sodat Moses in die teenwoordigheid van God gestaan het, en met Hom gespreek het van aangesig tot aangesig. En die Here God het vir Moses gesê: Vir my eie doel het Ek hierdie dinge gemaak. Hier is wysheid en dit bly in My.

32 En deur die woord van my mag het Ek hulle geskape, wat my Eniggebore Seun is, wat vol genade en waarheid is.

33 En wêrelde sonder tal het Ek geskape; en Ek het hulle ook geskape vir my eie doel; en deur die Seun het Ek hulle geskape, wat my Eniggeborene is.

34 En die eerste mens van alle mense het Ek Adam genoem, wat baie is.

35 Maar slegs ’n verslag van hierdie aarde en die inwoners daarvan gee Ek aan julle. Want kyk, daar is vele wêrelde wat verbygegaan het deur die woord van my mag. En daar is vele wat nou bestaan, en ontelbaar is hulle vir die mens; maar alle dinge word deur my getel, want hulle is myne en Ek ken hulle.

36 En dit het gebeur dat Moses met die Here gespreek, en gesê het: Wees barmhartig teenoor u dienskneg, o God, en vertel vir my aangaande hierdie aarde, en die inwoners daarvan, en ook die hemele, en dan sal u dienskneg tevrede wees.

37 En die Here God het met Moses gespreek, en gesê: Die hemele, hulle is talryk, en hulle kan nie getel word deur die mens nie; maar hulle is getel deur My, want hulle is myne.

38 En soos een aarde sal verbygaan, en die hemele daarvan, net so sal ’n ander kom; en daar is geen einde aan my werke nie, nóg aan my woorde.

39 Want kyk, dit is my werk en my heerlikheid—om die onsterflikheid en die ewige lewe van die mens teweeg te bring.

40 En nou, Moses, my seun, wil Ek met jou spreek aangaande hierdie aarde waarop jy staan; en jy sal die dinge skryf wat Ek sal spreek.

41 En op ’n dag wanneer die kinders van mense my woorde as niks sal beskou nie en vele daarvan van die boek wat jy sal skryf, wegneem, kyk Ek sal ’n ander soos jy opwek; en hulle sal weer te vinde wees onder die kinders van mense—onder soveel as wat sal glo.

42 (Hierdie woorde is gespreek tot Moses op die berg, die naam waarvan nie bekend sal wees onder die kinders van mense nie. En nou is hulle tot jou gespreek. Moenie hulle aan enigeen toon behalwe hulle wat glo nie. Dit is so. Amen.)