Skrifture
Alma 50


Hoofstuk 50

Moroni versterk die lande van die Nefiete—Hulle bou baie nuwe stede—Oorloë en vernietigings het oor die Nefiete gekom in die dae van hulle boosheid en gruwels—Morianton en sy afvalliges word verslaan deur Teankum—Nefiha sterf, en sy seun Pahoran vul die regterstoel. Ongeveer 72–67 v.C.

1 En nou het dit gebeur dat Moroni nie opgehou het om voorbereidings te tref vir oorlog, of om sy volk te verdedig teen die Lamaniete nie; want hy het sy leërs laat begin met die aanvang van die twintigste jaar van die heerskappy van die regters, dat hulle sou begin om walle van grond op te werp rondom al die stede, dwarsdeur die hele land wat besit is deur die Nefiete.

2 En bo-op hierdie walle van grond het hy hout laat oprig, ja, bouwerke van hout opgebou tot die hoogte van ’n man, rondom die stede.

3 En hy het op daardie bouwerke van hout ’n raam van skerp pale laat oprig, gebou op die hout rondom; en dit was sterk en hoog.

4 En hy het torings laat oprig wat uitgekyk het op daardie bouwerke van skerp pale, en hy het plekke van veiligheid laat bou op daardie torings, dat die klippe en die pyle van die Lamaniete hulle nie kon skaad nie.

5 En hulle was voorberei dat hulle klippe kon afwerp vanaf die bokant daarvan, volgens hulle welbehae en hulle krag, en hom dood wat sou poog om naby die mure van die stad te kom.

6 So het Moroni vestings berei teen die koms van hulle vyande, rondom elke stad in die hele land.

7 En dit het gebeur dat Moroni sy leërs laat uitgaan het in die oostelike wildernis; ja, en hulle het uitgegaan en het al die Lamaniete uitgedryf wat in die oostelike wildernis was in hulle eie lande, wat suid was van die land Zarahemla.

8 En die land Nefi het in ’n reguit rigting gestrek van die oostelike see na die weste.

9 En dit het gebeur dat toe Moroni al die Lamaniete uit die oostelike wildernis verdrywe het, wat noord was van die lande van hulle eie besittings, het hy die inwoners wat in die land Zarahemla en in die land rondom was laat uitgaan in die oostelike wildernis, tot by die grense van die seekus, en die land in besit geneem.

10 En hy het ook leërs geplaas in die suide, op die grense van hulle besittings, en hulle vestings laat oprig sodat hulle hul leërs en hulle mense kon beveilig teen die hande van hulle vyande.

11 En so het hy al die vestings van die Lamaniete in die oostelike wildernis afgesny, ja, en ook in die weste, en hy het die lyn versterk tussen die Nefiete en die Lamaniete, tussen die land Zarahemla en die land Nefi, vanaf die westelike see, wat strek langs die oorsprong van die Sidon-rivier—sodat die Nefiete in besit was van die hele land noordwaarts, ja, en wel die hele land wat noordwaarts was van die land Oorvloed, volgens hulle welbehae.

12 So het Moroni, met sy leërs, wat daagliks toegeneem het vanweë die versekering van beskerming wat sy werke voortgebring het vir hulle, gesoek om die sterkte en die mag van die Lamaniete af te sny van die lande van hulle besittings, sodat hulle geen mag sou hê oor die land van hulle besitting nie.

13 En dit het gebeur dat die Nefiete die fondamente van ’n stad begin het, en hulle het die naam van die stad Moroni genoem; en dit was by die oostelike see; en dit was aan die suide by die grens van die besittings van die Lamaniete.

14 En hulle het ook ’n fondament begin vir ’n stad tussen die stad Moroni en die stad Aäron, wat die grense van Aäron en Moroni verbind het, en hulle het die naam van die stad, of die land, Nefiha genoem.

15 En hulle het ook in dieselfde jaar begin om baie stede te bou in die noorde, een op ’n besondere wyse wat hulle Lehi genoem het, wat in die noorde was by die grense van die seekus.

16 En so het die twintigste jaar geëindig.

17 En in hierdie voorspoedige omstandighede was die volk van Nefi aan die begin van die een en twintigste jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi.

18 En hulle was uitermate voorspoedig, en hulle het uitermate ryk geword; ja, en hulle het vermenigvuldig en sterk geword in die land.

19 En so sien ons hoe barmhartig en regverdig is al die handelinge van die Here, ter vervulling van al sy woorde aan die kinders van mense; ja, ons kan sien dat sy woorde bewaarheid word, ook in hierdie tyd, wat Hy met Lehi gespreek, en gesê het:

20 Geseënd is jy en jou kinders; en hulle sal geseënd wees, in soverre hulle my gebooie sal onderhou, sal hulle voorspoedig wees in die land. Maar onthou, in soverre hulle nie my gebooie sal onderhou nie, sal hulle afgesny word van die teenwoordigheid van die Here.

21 En ons sien dat hierdie beloftes bewaarheid is aan die volk van Nefi; want dit was hulle rusies en hulle twiste, ja, hulle moorde, en hulle geplunder, hulle afgodery, hulle hoererye, en hulle gruwels, wat onder hulleself was, wat oor hulle hul oorloë en hulle vernietiging gebring het.

22 En diegene wat getrou was in die onderhouding van die gebooie van die Here is te alle tye verlos, terwyl duisende van hulle goddelose broers tot slawerny toegewys is, óf om te vergaan deur die swaard, óf om te kwyn in ongeloof en te vermeng met die Lamaniete.

23 Maar kyk, daar was nooit ’n gelukkiger tyd onder die volk van Nefi nie, vanaf die dae van Nefi, as in die dae van Moroni, ja, en wel in hierdie tyd, in die een en twintigste jaar van die heerskappy van die regters.

24 En dit het gebeur dat die twee en twintigste jaar van die heerskappy van die regters ook in vrede geëindig het; ja, en ook die drie en twintigste jaar.

25 En dit het gebeur dat aan die begin van die vier en twintigste jaar van die heerskappy van die regters, sou daar ook vrede onder die volk van Nefi gewees het, as dit nie was vir ’n twis wat plaasgevind het onder hulle aangaande die land Lehi, en die land Morianton, wat gestrek het tot by die grense van Lehi nie; beide waarvan aan die grense van die seekus was.

26 Want kyk, die mense wat die land Morianton besit het, het ’n deel geëis van die land Lehi; daarom het daar ’n hete twis begin ontstaan onder hulle, in soverre dat die volk van Morianton wapens opgeneem het teen hulle broers, en hulle was vasberade om hulle te dood deur die swaard.

27 Maar kyk, die mense wat die land Lehi besit het, het na die kamp van Moroni gevlug, en by hom om hulp gepleit; want kyk, hulle was nie verkeerd nie.

28 En dit het gebeur dat toe die volk van Morianton, wat aangevoer is deur ’n man wie se naam Morianton was, vind dat die volk van Lehi na Moroni se kamp gevlug het, was hulle uitermate bevrees dat die leër van Moroni op hulle sou afkom en hulle vernietig.

29 Daarom, Morianton het dit in hulle harte gelê dat hulle moes vlug na die land wat noordwaarts was, wat oordek was met groot massas water, en besit neem van die land wat noordwaarts was.

30 En kyk, hulle sou hierdie plan uitgevoer het, (wat ’n rede sou gewees het om te betreur) maar kyk, Morianton, omdat hy ’n man was van veel hartstog, daarom was hy vertoornd op een van sy diensmaagde, en hy het haar aangeval en haar baie geslaan.

31 En dit het gebeur dat sy gevlug het, en oorgekom het na die kamp van Moroni, en aan Moroni alle dinge vertel het omtrent die saak, en ook omtrent hulle voornemens om na die land noordwaarts te vlug.

32 Nou kyk, die mense wat in die land Oorvloed was, of eerder Moroni, het gevrees dat hulle sou ag slaan op die woorde van Morianton en verenig met sy volk, en so sou hy besit verkry van daardie dele van die land, wat ’n fondament sou lê vir ernstige gevolge onder die volk van Nefi, ja, welke gevolge sou lei tot die omverwerping van hulle vryheid.

33 Daarom het Moroni ’n leër gestuur, met hulle kamp, om die volk van Morianton voor te keer, om hulle vlug na die land noordwaarts te stop.

34 En dit het gebeur dat hulle hul nie gekeer het totdat hulle by die grense van die land Verlatenheid gekom het nie; en daar het hulle hul voorgekeer, by die smal pas wat gelei het langs die see na die land noordwaarts, ja, langs die see, aan die westekant en aan die oostekant.

35 En dit het gebeur dat die leër wat deur Moroni gestuur is, wat aangevoer is deur ’n man wie se naam Teankum was, die mense van Morianton teëgekom het; en so hardkoppig was die mense van Morianton, (omdat hulle aangevuur is deur sy boosheid en sy vleiende woorde) dat ’n veldslag begin het tussen hulle, waarin Teankum vir Morianton gedood en sy leër verslaan het, en hulle gevange geneem het, en teruggekeer het na die kamp van Moroni. En so het die vier en twintigste jaar van die heerskappy van die regters geëindig oor die volk van Nefi.

36 En so is die volk van Morianton teruggebring. En nadat hulle ’n verbond gesluit het om die vrede te bewaar, is hulle herstel tot die land Morianton, en ’n vereniging het plaasgevind tussen hulle en die volk van Lehi; en hulle is ook herstel tot hul grond.

37 En dit het gebeur dat in dieselfde jaar dat vrede herstel is aan die volk van Nefi, dat Nefiha, die tweede hoofregter gesterwe het, en hy het die regterstoel met volkome opregtheid voor God gevul.

38 Nogtans het hy geweier dat Alma besit neem van daardie kronieke en daardie dinge wat deur Alma en sy vaders geag is om hoogheilig te wees; daarom het Alma hulle oorgedra aan sy seun, Helaman.

39 Kyk, dit het gebeur dat die seun van Nefiha aangestel is om die regterstoel te vul, in die plek van sy vader; ja, hy is aangestel as hoofregter en goewerneur oor die volk, met ’n eed en heilige ordinansie om regverdig te oordeel, en om die vrede te bewaar en die vryheid van die volk, en om aan hulle hul heilige voorregte te gun om die Here hulle God te aanbid, ja, om die saak van God te ondersteun en te handhaaf al sy dae, en om die bose te bring tot die geregtigheid ooreenkomstig hulle misdaad.

40 Nou kyk, sy naam was Pahoran. En Pahoran het die stoel van sy vader gevul, en het sy heerskappy begin aan die einde van die vier en twintigste jaar, oor die volk van Nefi.