Skrifture
Alma 29


Hoofstuk 29

Alma begeer om bekering uit te roep met die geesdrif van ’n engel—Die Here gee leraars aan alle nasies—Alma roem in die Here se werk en in die sukses van Ammon en sy broers. Ongeveer 76 v.C.

1 O, dat ek ’n engel was, en die wens van my hart kon hê, dat ek mag uitgaan en spreek met die trompet van God, met ’n stem om die aarde te skud, en bekering te roep tot elke volk!

2 Ja, ek sou aan elke siel verkondig, soos met die stem van die donder, bekering en die plan van verlossing, dat hulle moet bekeer en na ons God kom, sodat daar nie meer droefheid op die hele aangesig van die aarde mag wees nie.

3 Maar kyk, ek is ’n mens, en sondig in my wens; want ek behoort tevrede te wees met die dinge wat die Here aan my toegeken het.

4 Ek behoort nie in my begeertes die onwrikbare bevel van ’n regverdige God te verander nie, want ek weet dat Hy aan die mense volgens hulle begeerte gun, of dit tot die dood of tot die lewe is; ja, ek weet dat Hy aan die mense toeken, ja, aan hulle bevele beveel wat onveranderlik is, volgens hul wil of hulle tot heil of tot vernietiging is.

5 Ja, en ek weet dat goed en kwaad voor alle mense gekom het; hy wat die goeie nie van die kwaad ken nie, is sonder skuld; maar hy wat goed en kwaad ken, aan hom word dit gegee volgens sy begeertes, of hy goed of kwaad begeer, lewe of dood, vreugde of berou van die gewete.

6 Nou, siende dat ek hierdie dinge weet, waarom sou ek meer begeer as om die werk uit te voer waartoe ek geroep is?

7 Waarom sou ek begeer dat ek ’n engel is, dat ek kon spreek met al die eindes van die aarde?

8 Want kyk, die Here gun aan alle nasies, van hulle eie nasie en tong, om sy woord te onderrig, ja, in wysheid, alles wat Hy goeddink dat hulle moet hê; daarom sien ons dat die Here raad gee in wysheid, volgens dit wat regverdig en waar is.

9 Ek ken dit wat die Here my gebied het, en ek roem daarin. Ek roem nie in myself nie, maar ek roem in dit wat die Here my gebied het; ja, en dit is my roem, dat ek miskien ’n werktuig mag wees in die hande van God om een of ander siel tot bekering te bring; en dit is my vreugde.

10 En kyk, wanneer ek baie van my broers waarlik berouvol sien, en dat hulle na die Here hulle God kom, dan word my siel vervul met vreugde; dan onthou ek wat die Here vir my gedoen het, ja, en wel dat Hy my gebed verhoor het; ja, dan onthou ek sy barmhartige arm wat Hy na my uitgestrek het.

11 Ja, en ek onthou ook die slawerny van my vaders; want ek weet vir seker dat die Here hulle verlos het uit slawerny, en hierdeur sy kerk gestig het; ja, die Here God, die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob, het hulle verlos uit slawerny.

12 Ja, ek het altyd die slawerny van my vaders onthou; en daardie selfde God wat hulle verlos het uit die hande van die Egiptenare, het hulle verlos uit slawerny.

13 Ja, en daardie selfde God het sy kerk onder hulle gestig; ja, en daardie selfde God het my geroep met ’n heilige roeping, om die woord aan hierdie volk te preek, en het my veel welslae gegee, waardeur my vreugde vol is.

14 Maar ek verheug my nie net in my eie welslae nie, maar my vreugde is meer vol vanweë die welslae van my broers, wat na die land Nefi opgegaan het.

15 Kyk, hulle het uitermate gearbei, en het baie vrug voortgebring; en hoe groot sal hulle beloning nie wees nie!

16 Nou, as ek dink aan die welslae van hierdie broers van my, word my siel weggevoer, en wel tot die skeiding daarvan van die liggaam, as’t ware, so groot is my vreugde.

17 En nou, mag God aan hierdie, my broers, gun dat hulle mag sit in die koninkryk van God; ja, en ook al diegene wat die vrugte is van hulle arbeid dat hulle nie meer mag uitgaan nie, maar dat hulle Hom mag loof vir ewig. En mag God gun dat dit gedoen mag word volgens my woorde, net soos ek gespreek het. Amen.