Skrifture
3 Nefi 29


Hoofstuk 29

Die verskyning van die Boek van Mormon is ’n teken dat die Here begin het om Israel bymekaar te maak en sy verbonde te vervul—Diegene wat sy openbaringe en gawes van die laaste dae verwerp, sal vervloek word. Ongeveer 34–35 n.C.

1 En nou kyk, ek sê vir julle dat wanneer die Here dit sal goeddink, in sy wysheid, dat hierdie woorde tot die nie-Jode sal kom volgens sy woord, dan mag julle weet dat die verbond wat die Vader gesluit het met die kinders van Israel, aangaande hulle herstelling tot die lande van hulle erfenis, alreeds begin om vervul te word.

2 En julle mag weet dat die woorde van die Here, wat gespreek is deur die heilige profete, sal alles vervul word; en julle hoef nie te sê dat die Here sy koms vertraag tot die kinders van Israel nie.

3 En julle hoef julle nie te verbeel in julle harte dat die woorde wat gespreek is tevergeefs is nie, want kyk, die Here sal sy verbond onthou wat Hy gesluit het met sy volk van die huis van Israel.

4 En wanneer julle hierdie woorde sal sien verskyn onder julle, dan hoef julle nie langer die handelinge van die Here te versmaai nie, want die swaard van sy geregtigheid is in sy regterhand; en kyk, op daardie dag, as julle sy handelinge sal versmaai, sal Hy veroorsaak dat dit julle gou inhaal.

5 Wee hom wat die handelinge van die Here versmaai; ja, wee hom wat die Christus sal loën en sy werke!

6 Ja, wee hom wat die openbaringe van die Here sal loën, en wat sal sê dat die Here nie langer deur openbaring werk nie, of deur profesie, of deur gawes, of deur tonge, of deur genesings, of deur die mag van die Heilige Gees nie!

7 Ja, en wee hom wat op daardie dag sal sê, om gewin te verkry, dat daar geen wonderwerk verrig kan word deur Jesus Christus nie; want hy wat dit doen sal word soos die seun van die verderf, vir wie daar geen barmhartigheid is nie, volgens die woord van Christus!

8 Ja, en julle hoef nie langer die Jode te spot nie, nóg te versmaai, nóg belaglik te maak, nóg enige van die oorblyfsels van die huis van Israel; want kyk, die Here onthou sy verbond met hulle, en Hy sal aan hulle doen volgens dit wat Hy gesweer het.

9 Daarom, julle hoef nie te veronderstel dat julle die regterhand van die Here na links kan draai, sodat Hy nie oordeel mag uitvoer ter vervulling van die verbond wat Hy met die huis van Israel gesluit het nie.