Studiehulp
JSV, Matthéüs 21


JSV, Matthéüs 21:33. Vergelyk Matthéüs 21:32–33

Die mens moet bekeer alvorens hy in Christus kan glo.

33 Want hy wat nie Johannes geglo het aangaande My nie kan My nie glo nie, tensy hy eers bekeer.

JSV, Matthéüs 21:47–56. Vergelyk Matthéüs 21:45–46

Jesus verklaar dat Hy die hoof-hoeksteen is. Die evangelie word aan die Jode en die nie-Jode aangebied. Die bose sal vernietig word wanneer Jesus terugkeer.

47 En toe die owerpriesters en Fariseërs sy gelykenisse gehoor het, het hulle begryp dat Hy van hulle gespreek het.

48 En hulle het onder mekaar gesê, Sal hierdie man dink dat Hy alleen hierdie groot koninkryk kan vernietig? En hulle was toornig op Hom.

49 Maar toe hulle gepoog het om hulle hande op Hom te lê, het hulle die skare gevrees, omdat hulle verneem het dat die skare Hom vir ’n profeet gehou het.

50 En nou het sy dissipels na Hom gekom en Jesus het vir hulle gesê, Verwonder julle jul oor die woorde van die gelykenis wat Ek tot hulle gespreek het?

51 Voorwaar, Ek sê vir julle, Ek is die steen, en daardie bose verwerp My.

52 Ek is die hoeksteen. Hierdie Jode sal op My val en sal gebreek word.

53 En die koninkryk van God sal van hulle geneem word en sal aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring; (bedoelende die nie-Jode.)

54 Daarom, op wie hierdie steen ook al sal val, dit sal hom tot poeier maal.

55 En wanneer die Heer van die wingerd kom, sal hy al die ellendige, goddelose mense vernietig, en sal sy wingerd weer verhuur aan ander landbouers, naamlik in die laaste dae, wat vir hom die vrugte in hulle seisoene sal teruggee.

56 En toe verstaan hulle die gelykenis wat Hy tot hulle gespreek het, dat die nie-Jode ook vernietig sou word wanneer die Here sal neerdaal uit die hemel om te heers in sy wingerd, wat die aarde en die bewoners daarvan is.