Skrifture
2 Nefi 10


Hoofstuk 10

Jakob verduidelik dat die Jode hulle God sal kruisig—Hulle sal verstrooi word totdat hulle begin om in Hom te glo—Amerika sal ’n land wees van vryheid waar geen koning sal heers nie—Versoen julleself met God en verkry julle heil deur sy genade. Ongeveer 559–545 v.C.

1 En nou, ek, Jakob, spreek weer met julle, my geliefde broers, aangaande hierdie regverdige tak waarvan ek gespreek het.

2 Want kyk, die beloftes wat ons verkry het, is beloftes aan ons volgens die vlees; daarom, alhoewel dit aan my getoon is dat baie van ons kinders in die vlees sal omkom vanweë ongeloof, desnieteenstaande, God sal barmhartig wees aan baie; en ons kinders sal herstel word, sodat hulle dit kan verkry wat die ware kennis van hul Verlosser hulle sal gee.

3 Daarom, soos ek vir julle gesê het, dit is noodsaaklik dat Christus—want in die laaste nag het die engel met my gespreek dat dit sy naam sou wees—sou kom onder die Jode, onder diegene wat die meer goddelose deel is van die wêreld; en hulle sal Hom kruisig—want dit is nodig vir onse God, en daar is geen ander nasie op aarde wat hulle God sou kruisig nie.

4 Want as die magtige wonderwerke gedoen sou word onder ander nasies, sou hulle bekeer en weet dat Hy hulle God is.

5 Maar as gevolg van priesterliste en ongeregtighede, sal hulle wat in Jerusalem is, hul nekke verhard teen Hom, sodat Hy gekruisig sal word.

6 Daarom, vanweë hul ongeregtighede sal daar vernietigings, hongersnode, pestilensies, en bloedvergieting oor hulle kom; en hulle wat nie vernietig sal word nie, sal verstrooi word onder alle nasies.

7 Maar kyk, so sê die Here God: Wanneer die dag kom dat hulle in My sal glo, dat Ek Christus is, dan het Ek met hulle vaders ’n verbond gesluit dat hulle herstel sal word in die vlees, op die aarde, na die lande van hulle erfenis.

8 En dit sal gebeur dat hulle versamel sal word, uit hulle lang verstrooiing, vanaf die eilande van die see, en uit die vier hoeke van die aarde; en die nasies van die nie-Jode sal groot wees in my oë, sê God, om hulle uit te bring na die lande van hulle erfenis.

9 Ja, die konings van die nie-Jode sal pleegvaders vir hulle wees, en hulle koninginne sal hulle pleegmoeders word; daarom, die beloftes van die Here is groot vir die nie-Jode, want Hy het dit gespreek, en wie kan stry?

10 Maar kyk, hierdie land, sê God, sal ’n land van julle erfenis wees, en die nie-Jode sal geseënd wees in die land.

11 En hierdie land sal ’n land van vryheid wees vir die nie-Jode, en daar sal geen konings op die land wees wat vir die nie-Jode sal opstaan nie.

12 En Ek sal hierdie land versterk teen alle ander nasies.

13 En hy wat stry teen Sion, sal omkom, sê God.

14 Want hy wat ’n koning oprig teen My, sal omkom, want Ek, die Here, die koning van die hemel, sal hulle koning wees, en Ek sal ’n lig vir hulle wees vir ewig, wat my woorde hoor.

15 Daarom, om hierdie rede, dat my verbonde vervul mag word wat Ek gemaak het met die kinders van mense, wat Ek vir hulle sal doen terwyl hulle in die vlees is, moet Ek noodwendig die geheime werke van die duisternis vernietig, en van moorde, en van gruwels.

16 Daarom, hy wat stry teen Sion, beide Jood en nie-Jood, beide slaaf en vryman, beide man en vrou, sal omkom; want dit is hulle wat die hoer van die hele aarde is; want hulle wat nie vir My is nie, is teen My, sê onse God.

17 Want Ek sal my belofte vervul wat Ek gemaak het aan die kinders van mense, wat Ek met hulle sal maak terwyl hulle nog in die vlees is—

18 Daarom, my geliefde broers, so sê onse God: Ek sal jou saad laat ly deur die hand van die nie-Jode; desnieteenstaande, Ek sal die harte versag van die nie-Jode, sodat hulle soos ’n vader vir hulle sal wees; daarom, die nie-Jode sal geseënd wees en gereken word onder die huis van Israel.

19 Daarom, Ek sal hierdie land toewy vir jou saad, en vir hulle wat onder jou saad gereken sal word, vir ewig as die land van hulle erfenis; want dit is ’n uitverkore land, sê God vir my, bo alle ander lande, daarom wil Ek hê dat alle mense wat daarop woon My moet aanbid, sê God.

20 En nou, my geliefde broers, aangesien ons barmhartige God ons so ’n groot kennis gegee het aangaande hierdie dinge, laat ons Hom onthou, en ons sonde aflê, en nie ons koppe laat hang nie, want ons is nie verwerp nie; desnieteenstaande, is ons verdryf uit die land van ons erfenis; maar ons is gelei na ’n beter land, want die Here het die see ons pad gemaak, en ons is op ’n eiland van die see.

21 Maar groot is die beloftes van die Here aan diegene wat op die eilande van die see is; daarom, omdat dit sê eilande, moet daar noodwendig meer wees as hierdie, en hulle word ook bewoon deur ons broers.

22 Want kyk, die Here God het van tyd tot tyd van die huis van Israel weggelei, volgens sy wil en behae. En nou, kyk, die Here onthou hulle almal wat afgebreek is, daarom onthou Hy ons ook.

23 Daarom, verbly julle harte, en onthou dat julle vry is om vir julleself te handel—om die weg te kies van ewigdurende dood, of die weg van die ewige lewe.

24 Daarom, my geliefde broers, versoen julle met die wil van God, en nie met die wil van die duiwel en die vlees nie; en onthou, nadat julle met God versoen is, dat dit slegs in en deur die genade van God is dat julle gered is.

25 Daarom, mag God julle opwek uit die dood deur die krag van die opstanding, en ook uit die ewigdurende dood deur die krag van die versoening, sodat julle ontvang mag word in die ewige koninkryk van God, sodat julle Hom mag loof deur goddelike genade. Amen.