Skrifture
2 Nefi 23


Hoofstuk 23

Die vernietiging van Babilon is ’n voorafskaduwing van die vernietiging by die Tweede Koms—Dit sal ’n dag wees van toorn en wraak—Babilon (die wêreld) sal val vir ewig—Vergelyk Jesaja 13. Ongeveer 559–545 v.C.

1 Die las van Babilon wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het.

2 Hef op ’n banier op die hoë berg, verhef die stem na hulle, wink met die hand, dat hulle mag ingaan deur die poorte van die edeles.

3 Ek het my geheiligdes gebied, Ek het ook my magtiges geroep, want my toorn is nie op hulle wat jubel in my verhewenheid nie.

4 Die geraas van die menigtes in die berge is soos van ’n groot volk, ’n oproerige geraas van die koninkryke van nasies wat saamgebring is, die Here van die Leërskare versamel die skares van die stryd.

5 Hulle kom van ’n ver land, van die einde van die hemel af, ja, die Here, en die wapens van sy verontwaardiging om die hele land te verwoes.

6 Huil julle, want die dag van die Here is op hande; dit kom as ’n vernietiging van die Almagtige.

7 Daarom sal alle hande slap word, en elke mensehart sal smelt.

8 En hulle sal verskrik wees; krampe en verdriet sal hulle aangryp; hulle sal verbaas wees die een teenoor die ander; hulle gesigte sal wees soos vlamme.

9 Kyk, die dag van die Here kom, wreed, beide met toorn en heftige woede, om die aarde ’n woesteny te maak; en Hy sal die sondaars daarvan vernietig.

10 Want die sterre van die hemel en die sterrebeelde daarvan sal nie hulle lig gee nie; die son sal verduister wees by sy opgang, en die maan sal haar lig nie laat skyn nie.

11 En Ek sal die wêreld straf vanweë boosheid, en die goddelose vanweë hulle ongeregtigheid; Ek sal die trots van die hoogmoedige laat ophou, en die hoogmoed van die verskriklikes beëindig.

12 Ek sal ’n mens kosbaarder maak as fyn goud; selfs ’n mens as die goue wig van Ofir.

13 Daarom, Ek sal die hemele skud, en die aarde sal wyk uit haar plek, in die toorn van die Here van die Leërskare, en op die dag van sy heftige toorn.

14 En dit sal wees soos die gejaagde reebok, en soos ’n skaap wat niemand opneem nie, en hulle sal elkeen draai na sy eie volk, en elkeen vlug na sy eie land.

15 Elkeen wat hoogmoedig is, sal deurboor word; ja, en elkeen wat verbind is met die goddelose sal val deur die swaard.

16 Hulle kinders sal ook verpletter word voor hulle oë; hul huise sal geplunder en hul vroue onteer word.

17 Kyk, Ek sal die Mede aanhits teen hulle, wat silwer en goud nie sal ag nie, nóg sal hulle behae daarin hê.

18 Hulle boë sal ook die seuns in stukke breek; en hulle sal geen deernis hê vir die vrug van die moederskoot nie; hulle oë sal kinders nie spaar nie.

19 En Babilon, die heerlikste van koninkryke, die skoonheid van die Chaldeërs se voortreflikheid, sal wees soos toe God Sodom en Gomorra verdelg het.

20 Dit sal nooit weer bewoon word nie, nóg sal dit bewoon word van geslag tot geslag: nóg sal die Arabier daar tent opslaan; nóg sal herders hulle vee daar laat rus.

21 Maar wilde diere van die woestyn sal daar lê; en hulle huise sal vol droewige gediertes wees; en uile sal daar woon en saters sal daar ronddans.

22 En die wilde diere van die eilande sal huil in hulle verlate huise, en drake in hul aangename paleise; en haar tyd is naby om te kom, en haar dag sal nie verleng word nie. Want Ek sal haar spoedig vernietig; ja, want Ek sal barmhartig wees teenoor my volk, maar die bose sal vergaan.