Studiehulp
JSV, Jesaja 29


JSV, Jesaja 29:1–8. Vergelyk Jesaja 29:1–8

Die boodskappe wat vroeër in Jerusalem gepredik is deur antieke profete, sal in die laaste dae verkondig word deur die Boek van Mormon, wat “uit die grond” voortgekom het.

1 Wee Áriël, Áriël, die stad waar Dawid gewoon het! Voeg jaar by jaar; laat hulle offers bring.

2 Tog sal Ek Áriël benoud maak, en daar sal swarigheid en droefheid wees; want so het die Here vir my gesê, Dit sal oor Áriël kom;

3 Dat Ek die Here ’n laer sal opslaan teen haar rondomheen, en haar beleër met ’n skans en ek sal forte teen haar oprig.

4 En sy sal neergebring word, en sal spreek uit die grond, en haar spraak sal laag wees uit die stof; en haar stem sal wees soos dié van ’n geestesbesweerder, uit die grond, en haar spraak sal fluister uit die stof.

5 Voorts sal die skare van haar vreemdelinge wees soos klein stof, en die menigte van die verskriklikes sal wees soos kaf wat wegwaai; ja, dit sal in ’n oomblik wees, skielik.

6 Want hulle sal besoek word deur die Here van die Leërskare met donderweer, en met aardbewing en groot geraas, met storm en stormwind, en die vlam van verterende vuur.

7 En die skare van al die nasies wat teen Áriël stry, en wel almal wat teen haar en haar wapens stry en haar benoud maak, sal soos ’n droom van ’n nagvisioen wees.

8 Ja, dit sal vir hulle wees en wel soos vir ’n honger man wat droom, en kyk hy eet, maar hy word wakker en sy siel is leeg; of soos vir ’n dors man wat droom, en kyk, hy drink, maar hy word wakker, en kyk, hy is swak, en sy siel dors. Ja, net so sal die skare wees van al die nasies wat teen berg Sion stry.