Studiehulp
JSV, Matthéüs 7


JSV, Matthéüs 7:1–2. Vergelyk Matthéüs 7:1–2

Moenie onregverdig oordeel nie.

1 Nou, hierdie is die woorde wat Jesus sy dissipels geleer het wat hulle aan die volk moes sê.

2 Moenie onregverdig oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie; maar oordeel regverdige oordeel.

JSV, Matthéüs 7:4–8. Vergelyk Matthéüs 7:3–5

Jesus leer sy dissipels om die skrifgeleerdes, Fariseërs, priesters en Leviete te konfronteer vanweë hulle huigelary.

4 En verder, julle sal vir hulle sê, Waarom is dit dat jy die splinter wat in jou broer se oog is, sien, maar die balk wat in jou eie oog is merk jy nie op nie?

5 Of hoe wil jy vir jou broer sê, Laat my die splinter uit jou oog haal, en kan nie die balk in jou eie oog sien nie?

6 En Jesus het vir sy dissipels gesê, Sien julle die skrifgeleerdes, en die Fariseërs, en die priesters, en die Leviete? Hulle onderrig in hulle sinagoges, maar hulle onderhou nie die wet nóg die gebooie; en almal het van die weg afgedwaal; en verkeer onder sonde.

7 Gaan julle en sê vir hulle, Waarom leer julle die mense die wet en die gebooie, terwyl julle self die kinders van korrupsie is?

8 Sê vir hulle, Julle huigelaars, haal eers die balk uit jou eie oog, en dan sal jy duidelik sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.

JSV, Matthéüs 7:9–11. Vergelyk Matthéüs 7:6

Jesus leer sy dissipels om bekering te preek en om nie die verborgenhede van die koninkryk met die wêreld te deel nie.

9 Gaan julle die wêreld in en sê vir almal, Bekeer, want die koninkryk van die hemel het naby julle gekom.

10 En die verborgenhede van die koninkryk sal julle vir julself hou; want dit is nie gepas om dít wat heilig is aan die honde te gee nie; nog werp julle jul pêrels voor die varke, sodat hulle dit nie onder hul voete vertrap nie.

11 Want die wêreld kan nie dít ontvang wat julleself nie in staat is om te aanvaar nie; daarom sal julle nie julle pêrels aan hulle gee nie, sodat hulle nie omdraai en julle verskeur nie.

JSV, Matthéüs 7:12–17. Vergelyk Matthéüs 7:7–8

Jesus leer sy dissipels dat die Vader openbaring gee aan almal wat vra.

12 Sê vir hulle, Vra vir God; vra, en dit sal aan jou gegee word; soek en jy sal vind; klop, en dit sal vir jou oopgemaak word.

13 Want elkeen wat vra, ontvang; en hy wat soek sal vind; en vir hom wat klop, sal dit oopgemaak word.

14 En toe sê sy dissipels vir Hom, Hulle sal vir ons sê, Ons is regverdig, en het nie nodig dat enigeen ons moet leer nie. God, weet ons, het Moses gehoor en sommige van die profete; maar ons wil Hy nie hoor nie.

15 En hulle sal sê, Ons het die wet vir ons heil, en dit is voldoende vir ons.

16 Toe antwoord Jesus, en sê vir sy dissipels, So sal julle vir hulle sê,

17 Watter mens onder julle, wat ’n seun het, en wat buite staan, en sal sê, Vader, maak oop u huis sodat ek mag inkom en saam met u ’n maaltyd nuttig, sal nie sê nie, Kom binne, my seun; want myne is joune, en joune is myne?