Skrifture
Helaman 11


Hoofstuk 11

Nefi oorreed die Here om hulle oorlog te vervang met ’n hongersnood—Baie mense vergaan—Hulle bekeer, en Nefi pleit by die Here vir reën—Nefi en Lehi ontvang baie openbaringe—Die Gadianton-rowers vestig hulleself in die land. Ongeveer 20–6 v.C.

1 En nou het dit gebeur in die twee en sewentigste jaar van die heerskappy van die regters dat die twiste toegeneem het, in soverre dat daar oorloë was dwarsdeur die hele land onder die hele volk van Nefi.

2 En dit was hierdie geheime bende van rowers wat hierdie werk van vernietiging en boosheid voortgesit het. En hierdie oorlog het daardie hele jaar geduur; en in die drie en sewentigste jaar het dit ook geduur.

3 En dit het gebeur dat in dié jaar het Nefi tot die Here geroep, en gesê:

4 O, Here, moenie toelaat dat hierdie volk vernietig sal word deur die swaard nie; maar o Here, laat daar eerder ’n hongersnood wees in die land, om hulle aan te spoor om die Here hulle God te onthou, en miskien sal hulle bekeer en tot U keer.

5 En so is dit gedoen, volgens die woorde van Nefi. En daar was ’n groot hongersnood oor die land, onder die hele volk van Nefi. En so in die vier en sewentigste jaar het die hongersnood voortgeduur, en die werk van vernietiging deur die swaard het opgehou maar het hewig geword deur hongersnood.

6 En hierdie werk van vernietiging het ook voortgeduur in die vyf en sewentigste jaar. Want die aarde is getref sodat dit droog was, en het nie graan opgelewer in die seisoen van graan nie; en die hele aarde is getref, naamlik onder die Lamaniete sowel as onder die Nefiete, sodat hulle getref is dat hulle vergaan het in duisende in die meer goddelose dele van die land.

7 En dit het gebeur dat die volk gesien het dat hulle op die punt was om om te kom van hongersnood, en hulle het begin om die Here hulle God te onthou; en hulle het begin om die woorde van Nefi te onthou.

8 En die volk het begin om te pleit by hulle hoofregters en hulle leiers, dat hulle aan Nefi moes sê: Kyk, ons weet dat jy ’n man van God is, en daarom, roep tot die Here ons God dat Hy hierdie hongersnood van ons afwend, sodat al die woorde wat jy gespreek het aangaande ons vernietiging nie vervul word nie.

9 En dit het gebeur dat die regters aan Nefi gesê het, volgens die woorde wat begeer was. En dit het gebeur dat toe Nefi sien dat die volk bekeer het, en hulle verootmoedig het in ’n roukleed, het hy weer tot die Here geroep, en gesê:

10 O Here, kyk, hierdie volk bekeer hulle; en hulle het die bende van Gadianton weggevee van onder hulle in soverre dat hulle uitgewis is, en hulle het hul geheime planne verberg in die aarde.

11 Nou, o Here, vanweë hierdie hulle ootmoed, sal U u toorn afwend, en laat u toorn bevredig word in die vernietiging van daardie goddelose manne wat U alreeds vernietig het.

12 O Here, sal U u toorn afwend, ja, u vurige toorn, en gee dat hierdie hongersnood mag ophou in hierdie land.

13 O Here, sal U ag slaan op my, en gee dat dit gedoen mag word volgens my woorde, en reën stuur op die aangesig van die aarde, dat sy haar vrug mag voortbring, en haar graan in die seisoen van graan.

14 O Here, U het ag geslaan op my woorde toe ek gesê het, Laat daar ’n hongersnood wees, sodat die pestilensie van die swaard mag ophou; en ek weet dat U sal, ook op hierdie tyd, ag slaan op my woorde, want U het gesê dat: As hierdie volk bekeer, sal Ek hulle spaar.

15 Ja, o Here, en U sien dat hulle bekeer het, vanweë die hongersnood en die pestilensie en die vernietiging wat oor hulle gekom het.

16 En nou, o Here, sal U u toorn afwend, en weer probeer om te sien of hulle U nie sal dien nie? En indien wel, o Here, kan U hulle seën volgens u woorde wat U gesê het.

17 En dit het gebeur dat in die ses en sewentigste jaar het die Here sy toorn afgewend van die volk, en gegee dat reën sou val op die aarde, in soverre dat dit haar vrugte voortgebring het in die seisoen van haar vrugte. En dit het gebeur dat dit haar graan voortgebring het in die seisoen van haar graan.

18 En kyk, die volk het gejubel en God verheerlik, en die hele aangesig van die land was gevul met vreugde; en hulle het nie meer gesoek om Nefi te vernietig nie, maar hulle het hom geag as ’n groot profeet, en ’n man van God, aan wie groot mag en gesag gegee is deur God.

19 En kyk, Lehi, sy broer, was hom nie in die geringste agter wat betref dinge met betrekking tot regverdigheid nie.

20 En so het dit gebeur dat die volk van Nefi weer begin het om voorspoedig te wees in die land, en het begin om hulle puinhope op te bou, en het begin om te vermenigvuldig en te versprei, totdat hulle die hele aangesig van die land bedek het, beide aan die noordekant en aan die suidekant, vanaf die see wes na die see oos.

21 En dit het gebeur dat die ses en sewentigste jaar in vrede geëindig het. En die sewe en sewentigste jaar het begin in vrede; en die kerk het oral oor die aangesig van die hele land versprei; en die grootste gedeelte van die volk, beide die Nefiete en die Lamaniete, het aan die kerk behoort; en hulle het uitermate groot vrede gehad in die land; en so het die sewe en sewentigste jaar geëindig.

22 En ook het hulle vrede gehad in die agt en sewentigste jaar, behalwe vir ’n paar twiste aangaande die punte van die leerstelling wat neergelê is deur die profete.

23 En in die nege en sewentigste jaar het daar begin om baie onenigheid te wees. Maar dit het gebeur dat Nefi en Lehi, en baie van hulle broers wat geweet het van die ware punte van die leerstelling, omdat hulle daagliks baie openbaringe gehad het, daarom het hulle vir die volk gepreek, in soverre dat hulle ’n einde gemaak het aan hulle onenigheid in daardie selfde jaar.

24 En dit het gebeur dat in die tagtigste jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi, was daar ’n sekere aantal van die afvalliges van die volk van Nefi, wat enkele jare vantevore oorgegaan het na die Lamaniete, en op hulleself die naam van Lamaniete geneem het, en ook ’n sekere aantal wat werklike afstammelinge van die Lamaniete was, omdat hulle tot toorn opgestook is deur hulle, of deur daardie afvalliges, daarom het hulle begin met ’n oorlog teen hulle broers.

25 En hulle het moord en roof gepleeg; en daarna het hulle teruggetrek in die berge in, en in die wildernis en geheime plekke in, en hulle sou wegkruip sodat hulle nie ontdek kon word nie, en het daagliks ’n toevoeging tot hulle getalle ontvang, in soverre dat daar afvalliges was wat uitgegaan het na hulle.

26 En so, met die tyd, ja, selfs binne die tydperk van nie baie jare nie, het hulle ’n uitermate groot bende rowers geword; en hulle het al die geheime planne van Gadianton nagespoor; en so het hulle rowers van Gadianton geword.

27 Nou kyk, hierdie rowers het groot verwoesting aangerig, ja, en wel tot groot vernietiging onder die volk van Nefi, en ook onder die volk van die Lamaniete.

28 En dit het gebeur dat dit noodsaaklik was dat daar ’n einde gemaak moes word aan hierdie werk van vernietiging; daarom het hulle ’n leër van sterk manne die wildernis in gestuur, en op die berge, om hierdie bende rowers op te spoor, en om hulle te vernietig.

29 Maar kyk, dit het gebeur dat in daardie selfde jaar is hulle teruggedryf, tot in hulle eie lande. En so het die tagtigste jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi geëindig.

30 En dit het gebeur dat aan die begin van die een en tagtigste jaar het hulle weer uitgegaan teen hierdie bende van rowers, en het baie vernietig; en hulle is ook besoek met baie vernietiging.

31 En hulle was weer verplig om terug te keer uit die wildernis en uit die berge na hulle eie lande, vanweë die uitermate grootheid van die getalle van daardie rowers wat die berge en die wildernis vervuil het.

32 En dit het gebeur dat hierdie jaar so geëindig het. En die rowers het steeds toegeneem en sterk geword, in soverre dat hulle al die leërs van die Nefiete geminag het, en ook van die Lamaniete; en hulle het groot vrees laat kom oor die volk op die hele aangesig van die land.

33 Ja, want hulle het baie dele van die land besoek, en het groot verwoesting aan hulle aangerig; ja, het baie doodgemaak, en het ander weggevoer in slawerny die wildernis in, ja, en meer in besonder hulle vroue en hulle kinders.

34 Nou, hierdie groot boosheid, wat oor die volk gekom het vanweë hulle ongeregtigheid, het hulle weer opgewek ter gedagtenis aan die Here hulle God.

35 En so het die een en tagtigste jaar van die heerskappy van die regters geëindig.

36 En in die twee en tagtigste jaar het hulle weer begin om die Here hulle God te vergeet. En in die drie en tagtigste jaar het hulle begin om sterk toe te neem in ongeregtigheid. En in die vier en tagtigste jaar het hulle nie hulle weë verander nie.

37 En dit het gebeur in die vyf en tagtigste jaar het hulle sterker en sterker geword in hulle hoogmoed, en in hulle boosheid; en so het hulle weer ryp geword vir vernietiging.

38 En so het die vyf en tagtigste jaar geëindig.