Skrifture
Inleiding


Inleiding

Die Boek van Mormon is ’n boek van heilige skrifture wat vergelyk kan word met die Bybel. Dit is ’n kroniek van God se handelinge met antieke inwoners van die Amerikas en bevat die volheid van die ewigdurende evangelie.

Die boek is geskryf deur baie antieke profete deur die gees van profesie en openbaring. Hulle woorde, geskryf op goue plate, is aangehaal en verkort deur ’n profeet-geskiedskrywer genaamd Mormon. Die kroniek gee ’n verslag van twee groot beskawings. Een het gekom van Jerusalem in 600 v.C. en het daarna verdeel in twee nasies, bekend as die Nefiete en die Lamaniete. Die ander het veel vroeër gekom toe die Here die tale by die Toring van Babel verwar het. Hierdie groep staan bekend as die Jerediete. Na duisende jare was almal vernietig, behalwe die Lamaniete, en hulle is onder die voorvaders van die Amerikaanse Indiane.

Die belangrikste gebeurtenis opgeteken in die Boek van Mormon is die persoonlike bediening van die Here Jesus Christus onder die Nefiete kort na sy opstanding. Dit sit die leerstellings van die evangelie uiteen, omskryf die heilsplan, en lig die mensdom in oor wat hulle moet doen om vrede in hierdie lewe te verkry en ewige heil in die lewe hierna.

Nadat Mormon sy geskrifte voltooi het, het hy sy kroniek aan sy seun, Moroni, oorhandig wat ’n paar van sy eie woorde bygevoeg het en die plate weggebêre het in die Cumora-heuwel. Op 21 September 1823 het dieselfde Moroni, as ’n verheerlikte, herrese wese, verskyn aan die Profeet Joseph Smith en hom onderrig oor die antieke kroniek en die bestemde vertaling in die Engelse taal.

Met verloop van tyd is die plate oorhandig aan Joseph Smith, wat hulle vertaal het deur die gawe en mag van God. Die kroniek word tans uitgegee in vele tale as ’n nuwe en aanvullende getuienis dat Jesus Christus die Seun van die lewende God is en dat almal wat na Hom wil kom en die wette en ordinansies van sy evangelie gehoorsaam, gered mag word.

Betreffende hierdie kroniek het die Profeet Joseph Smith gesê: “Ek het aan die broers gesê dat die Boek van Mormon die mees korrekte van enige boek op aarde is, en die sluitsteen van ons geloof is, en ’n mens sal nader aan God kom deur te hou by die beginsels daarin vervat, as deur enige ander boek.”

Benewens Joseph Smith, het die Here elf ander voorsien om die goue plate te sien vir hulleself en om spesiale getuies te wees van die waarheid en goddelikheid van die Boek van Mormon. Hulle geskrewe getuienisse word hierby ingesluit as “Die Getuienis van Drie Getuies” en “Die Getuienis van Agt Getuies.”

Ons nooi alle mense uit van oralheen om die Boek van Mormon te lees, om in hulle harte die boodskap wat dit bevat te bepeins, en om dan God, die Ewige Vader, in die naam van Christus te vra of die boek waar is. Diegene wat hierdie raad volg en in geloof vra, sal ’n getuienis verkry van die waarheid en goddelikheid daarvan deur die mag van die Heilige Gees. (Sien Moroni 10:3–5.)

Diegene wat hierdie goddelike getuienis ontvang deur die Heilige Gees sal ook te wete kom deur dieselfde mag dat Jesus Christus die Saligmaker van die wêreld is, dat Joseph Smith sy openbaarder en profeet in hierdie laaste dae is, en dat die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae die Here se koninkryk is wat weer eens hervestig is op die aarde, ter voorbereiding van die Tweede Koms van die Messias.