Liahona
Voed Jou Siel met Gereelde Gebed
April 2024


“Voed Jou Siel met Gereelde Gebed,” Liahona, Apr. 2024

Maandelikse Liahona-boodskap, April 2024

Voed Jou Siel met Gereelde Gebed

Ons het die geestelike voeding nodig om met ons Hemelse Vader te kommunikeer, ʼn seëning wat oral en altyd tot ons beskikking is.

Beeld
Enos bid

Foto van akteur wat Enos vertolk deur Matthew Reier

Ons het almal al honger gevoel. Hongerpyne is die liggaam se manier om ons te vertel dat dit voeding nodig het. En wanneer ons honger is, weet ons wat ons moet doen—eet.

Ons gees het ook maniere om ons te laat weet wanneer ons geestelike voeding nodig het. Maar dit blyk dat dit vir ons makliker is om geestelike honger eenvoudig te ignoreer as fisiese honger.

Net soos daar baie soorte kos is wat ons kan eet as ons honger is, is daar verskillende dinge wat ons kan doen om ons geestelike honger te stil. Ons kan ons byvoorbeeld “verlustig in die woorde van Christus” (2 Nefi 32:3) in die skrifture en deur die woorde van profete. Ons kan gereeld kerk bywoon en die nagmaal gebruik (sien Leer en Verbonde 59:9). Ons kan God en sy kinders dien (Mosia 2:17).

Maar daar is ʼn ander bron van geestelike voeding tot ons beskikking te alle tye, in elke oomblik van ons lewens, ongeag ons omstandighede. Ons kan altyd met Hemelse Vader kommunikeer deur gebed.

“My Siel het Gehonger”

Terwyl die profeet Enos wilde diere in die woud gejag het, het hy gedink aan “die woorde wat [hy] [sy] vader dikwels hoor spreek het aangaande die ewige lewe, en die vreugde van die heiliges.” Hierdie woorde “het diep in [sy] hart ingesink” (Enos 1:3).

Omdat Enos in hierdie geestelike gemoedstoestand was, het hy ʼn sterk behoefte gehad: “My siel het gehonger,” het hy gesê (Enos 1:4; beklemtoning bygevoeg).

Wat het Enos gedoen toe hy hierdie geestelike honger, hierdie behoefte aan geestelike voeding gevoel het? “Ek het neergekniel voor my Maker,” het hy gesê, “en ek het tot Hom geroep in magtige gebed en smeking vir my eie siel” (Enos 1:4).

Só groot was Enos se geestelike honger dat hy “die hele dag lank gebid het … en toe die nag kom, het [hy] steeds [sy] stem hoog verhef sodat dit die hemele bereik het” (Enos 1:4). Uiteindelik het God sy gebed verhoor en sy sondes vergewe. Enos het gevoel hoe sy skuld weggevee word. Maar sy geestelike voeding het nie daar geëindig nie.

Hy het geleer van die krag van geloof in Jesus Christus, en hy het sy hele siel uitgestort ten behoewe van sy volk—selfs sy vyande. Hy het verbonde met die Here gesluit en beloftes van Hom verkry. En ná Enos se magtige gebed het hy onder sy volk rondgegaan en geprofeteer en getuig van die dinge wat hy gehoor en gesien het. (Sien Enos 1:5-19.)

Nie elke gebed sal op só ʼn dramatiese manier beantwoord word nie, maar ons ervarings met gebed kan steeds betekenisvol en lewensveranderend wees. Ons kan ʼn paar belangrike lesse leer uit Enos se ervaring met gebed. Byvoorbeeld:

  • Die strewe om die evangelie ten volle uit te leef, kan ons help om ons geestelike honger aan te voel.

  • Ons geestelike honger kan en moet ons op ons knieë bring om Hemelse Vader se hulp te soek.

  • Om tot Hemelse Vader te bid, kan help om ons geestelike honger te stil—en nog meer.

  • Ons kan enige plek, enige tyd bid.

  • Gebed kan ons help om te bekeer.

  • Hoe kan ons ons geloof in Jesus Christus versterk?

  • Ons kan ʼn persoonlike getuienis ontvang dat ons Hemelse Vader ons hoor en bewus is van ons.

  • Die getuienis en krag wat ons deur gebed ontvang, kan ons help om ander te dien en te versterk.

Beeld
Ouderling Soares as ʼn seun

My Ondervinding met die Krag van Gebed

Soos Enos, het ek dieselfde lesse deur persoonlike ervaring geleer. My ouers het by Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae aangesluit toe ek ʼn jong seun was, en ek is gedoop toe ek agt jaar oud was. Ek het altyd ʼn goeie, warm gevoel in my hart gehad oor my Hemelse Vader en oor Jesus Christus, sy herstelde evangelie en sy Kerk. Maar dit was nie voor ek amper 16 jaar oud was, dat ek gebid het oor die waarheid van hierdie dinge nie.

My geïnspireerde biskop het my gevra om ʼn Sondagskoolklas vir die jeug te gee. Ek was veronderstel om ʼn les te gee oor hoe ons ʼn getuienis van die evangelie deur gebed kan verkry. Hierdie opdrag van my biskop het my dieper laat nadink oor my eie getuienis. Ek het die tyd geneem om die Boek van Mormon te bestudeer en het altyd gevoel dat die Kerk waar is. Ek het altyd in die Saligmaker Jesus Christus geglo, maar ek het nog nooit Moroni se belofte in Moroni 10:4–5 ter harte geneem nie. Ek het nooit gebid oor die waarheid van die evangelie nie.

Ek onthou dat ek in my hart gevoel het dat as ek hierdie jeug gaan leer hoe om ʼn getuienis deur gebed te kry, ek self vir ʼn getuienis moet bid. My siel het gehonger—miskien op ʼn ander manier as Enos, maar ek het nietemin ʼn geestelike behoefte gevoel.

Terwyl ek die les voorberei het, het ek gekniel en die begeerte van my hart aan my Hemelse Vader uitgestort om die waarheid wat ek binne gevoel het, te bevestig. Ek het geen groot manifestasie verwag nie. Maar toe ek die Here vra of die evangelie waar is, het daar ʼn baie heerlike gevoel in my hart gekom—daardie stil sagte stem wat vir my bevestig dat dit waar is en dat ek moet aanhou doen wat ek doen.

Die gevoel was só sterk dat ek nooit daardie antwoord kon verontagsaam en sê ek het nie geweet nie. Ek het die hele dag so gelukkig gevoel. My gedagtes was in die hemel, besig om aan die pragtige gevoel in my hart te dink.

Die volgende Sondag het ek voor my drie of vier klasmaats gestaan, wat almal jonger as ek was. Ek het aan hulle getuig dat Hemelse Vader hulle gebed sou beantwoord as hulle geloof gehad het.

Beeld
Ouderling Soares

ʼn Verhoorde gebed wat ouderling Soares as jong man ontvang het, het hom toegelaat om te getuig—as sendeling (hierbo), pa en man en Apostel—dat Hemelse Vader gebede beantwoord wat in geloof gedoen word.

Van toe af het hierdie getuienis my bygebly. Dit het my gehelp om besluite te neem, veral in oomblikke wanneer ek uitdagings in die gesig gestaar het. Daardie gebed op daardie dag, saam met bykomende getuienisse wat ek deur die jare ontvang het, het my in staat gestel om aan mense met oortuiging te getuig dat hulle antwoorde van Hemelse Vader kan kry as hulle in geloof bid. Dit was waar toe ek getuig het as sendeling, as Kerkleier, as vader en man, en selfs vandag nog as ʼn Apostel.

Die Wanneer en Wat van Gebed

Ons bid natuurlik nie net wanneer ons ʼn besonder sterk geestelike behoefte ervaar nie. Dus, wanneer moet ons bid? En waarvoor moet ons bid? Die kort antwoord is enige tyd en vir enigiets.

God is ons Hemelse Vader. Hierdie wete verander hoe ons bid. Die Profeet Joseph Smith het onderrig: “Met ʼn kennis van God, begin ons weet hoe om Hom te nader, en hoe om te vra om ʼn antwoord te ontvang. … Wanneer ons gereed is om na Hom toe te kom, is Hy gereed om na ons toe te kom.”1

Ons Hemelse Vader is altyd gereed om na ons te luister en wil hê dat ons gereeld en dikwels tot Hom moet bid. Ons moet “met die Here [raadpleeg] in al [ons] dade” (Alma 37:37) en soggens, smiddags en saans bid. Ons moet bid by die huis, by die werk, by die skool—enige plek waar ons mag wees en oor enige van ons pogings (sien Alma 34:17–26).

Ons moet in ons gesinne bid (sien 3 Nefi 18:21). Ons moet “hardop en in [ons] hart, in die openbaar en in die geheim” bid (Leer en Verbonde 81:3). “En as [ons] nie roep tot die Here nie, laat [ons] harte vol wees, uitgestrek in gebed tot Hom gedurigdeur vir [ons] welsyn, en ook vir die welsyn van diegene wat om [ons] is” (Alma 34:27). En ons moet altyd tot die Vader in die Naam van Jesus Christus bid (sien 3 Nefi 18:19–20).

Beeld
Joseph Smith as ʼn jong man

Illustrasie van Joseph Smith deur Walter Rane, mag nie gekopieer word nie

Nader ons Hemelse Vader

Ons Hemelse Vader wil ons seën. En Hy sál—as ons vra. Die profeet Joseph Smith het onderrig: “Onthou dat ons niks kan ontvang sonder om te vra nie; daarom, vra in geloof, en julle sal sulke seëninge ontvang soos God dit goedvind om aan julle te skenk.”2

Ons gereelde en dikwelse gebede is ʼn noodsaaklike deel van ʼn gebalanseerde dieet van geestelike voeding aan ons honger siele. Kommunikasie met Hemelse Vader deur gebed is beskikbaar en orals en altyd welkom.

Een van my gunsteling skriftuurgedeeltes leer hoe ons ons Hemelse Vader moet nader wanneer ons kniel om te bid: “Wees jy nederig; en die Here jou God sal jou aan die hand lei, en jou antwoord gee op jou gebede” (Leer en Verbonde 112:10). Wanneer ons nederig en gehoorsaam is, sal Hemelse Vader met ons wees. Hy sal ons aan die hand lei. Hy sal ons inspireer met waarheen ons moet gaan en wat om te doen. Hy sal ons gebede beantwoord volgens sy wil, manier, tyd en absolute kennis van wat goed is vir ons.

Ons moet dit onthou en geleenthede koester om die troon van God te nader en seëninge van sy hand te ontvang.

Notas

  1. Teachings of Presidents of the Church: Joseph Smith (2011), 40, 41.

  2. Teachings: Joseph Smith, 131.