Liahona
Vir die Krag van die Jeug: Die Saligmaker se Boodskap vir Jou
Maart 2024


“Vir die Krag van die Jeug: Die Saligmaker se Boodskap vir Jou,” Vir die Krag van die Jeug, Mrt. 2024.

Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Maart 2024

Vir die Krag van die Jeug: Die Saligmaker se Boodskap vir Jou

Hierdie gids help jou om jou keuses aan Jesus Christus en sy leer te verbind.

Beeld
Jesus Christus

I Stand at the Door and Knock [Ek Staan by die Deur en Klop], deur J. Kirk Richards

Stel jou voor dat jy 2 000 jaar gelede in antieke Galilea woon. Jy en jou vriende is uitgenooi na ʼn gewyde diens vir die jeug by die plaaslike sinagoge, met ʼn spesiale gasspreker: Jesus van Nasaret. En op ʼn sekere punt in sy boodskap nooi Jesus die jeug in die gehoor uit om Hom vrae te vra.

Watter soort vrae dink jy sal jy hoor?

Ek veronderstel dat sommige vrae die kultuur en omstandighede van die tyd sou weerspieël. Maar ek glo werklik dat talle daarvan baie sal klink soos vrae wat ons vandag het.

In die Nuwe Testament het mense die Saligmaker byvoorbeeld vrae soos dié gevra:

  • Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?1

  • Word ek aanvaar? Behoort ek?2

  • Hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe?3

  • Wat gaan in die toekoms met hierdie wêreld gebeur? Sal ek veilig wees?4

  • Kan U my geliefde genees?5

  • Wat is waarheid?6

  • Hoe weet ek of ek die regte pad gaan?7

Wonder ons nie almal van tyd tot tyd oor dieselfde ding nie? Deur die eeue het die vrae nie veel verander nie. En ook nie die Saligmaker se medelye met diegene wat dit vra nie. Hy weet hoe ontstellend en verwarrend die lewe kan wees. Hy weet hoe maklik dit is om die pad byster te raak. Hy weet dat ons soms bekommerd is oor die toekoms. En Hy sê vir jou en my, net soos Hy lank gelede vir sy volgelinge gesê het:

  • “Laat julle hart nie ontsteld word nie.”8

  • “Ek is die weg en die waarheid.”9

  • “Volg My.”10

Wanneer jy belangrike keuses het om te maak, is Jesus Christus en sy herstelde evangelie die beste keuse. Wanneer jy vrae het, is Jesus Christus en sy herstelde evangelie die beste antwoord.

Dit is hoekom ek van For the Strength of Youth: A Guide for Making Choices hou. Dit rig ons na Jesus Christus sodat ons sy krag kan ontvang. Ek hou te alle tye ʼn kopie in my sak. Wanneer ek mense regoor die wêreld ontmoet wat wil weet waarom ons as lede van die Kerk van Jesus Christus doen wat ons doen, deel ek hierdie gids met hulle.

For the Strength of Youth leer ewige waarhede oor die Saligmaker en sy Weg. Dit nooi jou uit om keuses te maak op grond van daardie waarhede. En dit deel beloofde seëninge wat Hy betoon aan diegene wat Hom volg. Lees, bepeins en deel asseblief hierdie gids!

Nooi Hom Binne

Jesus Christus wil deel van jou lewe wees—ʼn konstante, daaglikse teenwoordigheid, in goeie en slegte tye. Hy staan nie net aan die einde van die pad en wag vir jou om Hom in te haal nie. Hy sal elke tree van die pad saam met jou stap. Hy is die Weg!

Maar Hy sal nie sy weg in jou lewe forseer nie. Jy nooi Hom binne deur jou keuses. Daarom is ʼn gids vir die maak van keuses, soos For the Strength of Youth, so kosbaar. Elke keer wanneer jy ʼn regverdige keuse maak op grond van die Saligmaker se ewige waarhede, wys jy dat jy Hom in jou lewe wil hê. Daardie keuses ontsluit die poorte van die hemel en sy krag vloei jou lewe binne.11

Maak ʼn Sterk Verbinding

Jy kan dalk onthou dat die Saligmaker diegene wat sy woorde hoor en doen, vergelyk het met die verstandige man wat “sy huis op ʼn rots gebou het.” Hy het verduidelik:

“En die reën het geval, en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.”12

ʼn Huis oorleef nie in ʼn storm omdat die huis sterk is nie. Dit oorleef ook nie net omdat die rots sterk is nie. Die huis oorleef die storm omdat dit stewig aan daardie sterk rots vasgeheg is. Dit is die sterkte van die verbinding met die rots wat saak maak.

Net so, terwyl ons ons lewens bou, is dit belangrik om goeie keuses te maak. En dit is belangrik om die Saligmaker se ewige waarheid te verstaan. Maar die krag wat ons nodig het om die storms van die lewe te weerstaan, kom wanneer ons ons keuses met Jesus Christus en sy leer verbind. Dit is wat For the Strength of Youth ons help om te doen.

Byvoorbeeld, jou vriende weet dalk dat jy probeer om nie aanstootlike of kwetsende taal te gebruik nie. Hulle mag dalk sien dat jy uitreik na die kind in die skool wat die meeste mense net ignoreer of selfs boelie. Maar weet hulle dat jy hierdie keuses maak omdat Jesus Christus geleer het dat “alle mense jou broers en susters is—insluitend … mense wat anders as jy is”?13

Jou vriende weet dalk dat jy elke Sondag kerk toe gaan. Hulle sal dalk agterkom wanneer jy ʼn sekere liedjie afskakel of ʼn uitnodiging van die hand wys om ʼn sekere fliek te kyk. Maar weet hulle dat jy hierdie keuses maak omdat jy “ʼn vreugdevolle verbondsverhouding met Hemelse Vader en Jesus Christus” het, en dat jy as deel van daardie verbintenis om die Saligmaker te volg, dankbaar is “om die Heilige Gees as jou konstante metgesel te hê”?14

Mense weet dalk dat jy nie drink of rook of ander skadelike dwelms gebruik nie. Maar weet hulle dat jy hierdie keuses maak omdat Jesus Christus geleer het dat “jou liggaam heilig is”, “ʼn wonderlike geskenk van jou Hemelse Vader”, gemaak na sy beeld?15

Jou vriende weet dalk dat jy nie sal kul of lieg nie en dat jy opvoeding ernstig opneem. Maar weet hulle dat dit is omdat Jesus Christus geleer het dat “die waarheid jou sal vrymaak”?16

Bowenal, weet jou vriende dat jy hierdie soms ongewilde keuses maak om getrou te bly aan Christus se standaarde omdat jy weet dat “Jesus Christus jou krag is”?17

Hy Is Jou Krag

Ek gee jou my vaste getuienis dat Jesus Christus die Weg is na ʼn blink en glorieryke toekoms—jou toekoms. En Hy is ook die Weg na ʼn helder en wonderlike hede. Wandel op sy weg, en Hy sal saam met jou wandel. Jy kan dit doen!

My liewe jong vriende, Jesus Christus is julle krag. Hou aan om saam met Hom te wandel, en Hy sal jou help om “met vleuels soos arende” te sweef18 na die ewige vreugde wat Hy vir jou voorberei het.