Liahona
Die Saligmaker van Almal, ʼn Evangelie vir Almal
Maart 2024


“Die Saligmaker van Almal, ʼn Evangelie vir Almal,” Liahona, Mrt. 2024.

Maandelikse Liahona-boodskap, Maart 2024

Die Saligmaker van Almal, ʼn Evangelie vir Almal

Die evangelie, Versoening en Opstanding van Jesus Christus seën al God se kinders.

Beeld
Christus en die verlamde man

Christ and the Palsied Man [Christus en die Verlamde Man], deur J. Kirk Richards, mag nie gekopieer word nie

Die herstelde evangelie van Jesus Christus is in die eerste plek en tot in ewigheid die bron van blywende geluk, ware vrede en vreugde vir almal in hierdie laaste dae. Die seëninge wat uit die evangelie en uit Christus se onbeperkte welwillendheid vloei, was nooit vir slegs ʼn paar uitgesoektes bedoel nie, van ouds of in die moderne tyd.

Dit maak nie saak hoe ontoereikend ons mag voel nie, en ten spyte van die sondes wat ons vir ʼn tyd lank van Hom kan distansieer, verseker ons Saligmaker ons dat “Hy sy hande na [ons] uitstrek die hele dag lank (Jakob 6:4), en ons almal uitnooi om na Hom te kom en sy liefde te voel.

Evangeliese Seëninge vir die Hele Wêreld

Die evangelie van Jesus Christus is “in hierdie laaste dae herstel om te voldoen aan die … behoeftes van elke nasie, familie, taal en volk op die aarde.”1 Die evangelie transendeer alle nasionaliteite en kleure terwyl dit alle kulturele lyne oorsteek om te leer dat “almal gelyk is voor God” (2 Nefi 26:33).2 Die Boek van Mormon staan as ʼn merkwaardige getuie van hierdie waarheid.

Hierdie grootse kroniek getuig dat Christus alle nasies onthou (sien 2 Nefi 29:7) en sal Hom “openbaar aan al diegene wat in Hom glo, … [en] magtige wonderwerke, tekens, en wonders verrig onder die kinders van mense” (2 Nefi 26:13). Onder hierdie magtige wonderwerke, tekens en wonders is die verspreiding van die evangelie. Daarom stuur ons sendelinge regoor die wêreld om van die goeie nuus te getuig. Ons deel ook die evangelie met diegene om ons. Die uitoefening van herstelde priesterskapsleutels vir die lewendes en afgestorwenes verseker dat die volheid van die evangelie uiteindelik beskikbaar sal wees vir elke seun en dogter van ons hemelse ouers—verlede, hede of toekoms.

Die hart van hierdie evangelie—die sentrale boodskap van elke profeet en apostel wat ooit tot die werk geroep is—is dat Jesus die Christus is en dat Hy gekom het om almal te seën. As lede van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, verklaar ons dat sy soenoffer vir die hele wêreld is.

Die Behoefte aan ʼn Oneindige en Ewige Versoening

Wanneer ek regoor die wêreld reis, voer ek onderhoude met ʼn wye verskeidenheid van Kerklede. Ek word geïnspireer om te hoor hoe hulle die seëninge van die Versoening van Jesus Christus in hulle lewens ervaar, selfs wanneer hulle een of ander sonde in die verre verlede bely. Hoe wonderlik is dit dat die reinigende troos van sy Versoening altyd vir ons almal beskikbaar is!

“ʼn Versoening moet gedoen word,” het Amulek verklaar: “of anders moet die hele mensdom onvermydelik omkom.” Ons sou vir altyd “gevalle en … verlore [wees], … tensy dit deur die versoening [is],” wat “ʼn oneindige en ewige offerande” vereis het. “Daarom kan daar niks minder wees as ʼn oneindige versoening wat voldoende sal wees vir die sondes van die wêreld nie” (Alma 34:9, 10, 12).

Die groot profeet Jakob het ook geleer dat aangesien “die dood oor alle mense gekom het, … moet daar noodwendig ʼn krag van opstanding wees” om ons in God se teenwoordigheid te bring (2 Nefi 9:6).

Beide sonde en dood moes oorwin word. Dit was die Saligmaker se sending, wat Hy moedig vir al God se kinders voltooi het.

Beeld
Christus in Getsémané

Gethsemane [Getsémané], deur J. Kirk Richards, mag nie gekopieer word nie

Ons Saligmaker se Offerande

Op sy laaste nag in die sterflikheid het Jesus Christus die tuin van Gétsémane binnegegaan. Daar het Hy tussen die olyfbome gekniel en begin neerdaal in ʼn diepe angs wat ek en jy nooit sal ken nie.

Daar het Hy die sondes van die wêreld op Homself begin neem. Hy het elke pyn, elke hartseer, en smart beleef, en Hy het al die angs en lyding verduur wat jy, ek en elke siel wat ooit geleef het of ooit sal lewe, ervaar. Hierdie groot en oneindige lyding “het Hom, die grootste van almal, laat bewe van pyn, en om te bloei van elke porie” (Leer en Verbonde 19:18). Alleenlik Hy kon dit gedoen het.

There was no other good enough

To pay the price of sin.

He only could unlock the gate

Of heav’n and let us in.3

Jesus is toe na Gólgota geneem, en op die mees tragiese onregverdige oomblik in die geskiedenis van hierdie wêreld, is Hy gekruisig. Niemand kon sy lewe van Hom af weggeneem het nie. As die Eniggebore Seun van God het Hy mag oor die fisiese dood gehad. Hy kon tot sy Vader gebid het, en legioene engele sou gekom het om sy folteraars te oorwin en sy heerskappy oor alle dinge demonstreer. “Hoe sou die Skrifte dan vervul word,” het Jesus gevra tydens sy verraad, “dat dit so moet gebeur?” (Matthéüs 26:54).

Uit volmaakte gehoorsaamheid aan sy Vader—en volmaakte liefde vir ons—het Jesus gewillig sy lewe gegee en sy oneindige en ewige soenoffer voltooi, wat terugstrek in tyd en vorentoe regdeur alle ewigheid.

Ons Saligmaker se Oorwinning

Jesus het sy Apostels beveel om sy werk ná sy dood voort te sit. Hoe sou hulle dit doen? Verskeie van hulle was slegs eenvoudige vissermanne, en nie een is in sinagoges opgelei vir die bediening nie. Op daardie oomblik het dit gelyk asof Christus se Kerk vir uitwissing bestem was. Maar die Apostels het krag gevind om die las van die roeping te aanvaar en die geskiedenis van die wêreld te vorm.

Wat het veroorsaak dat krag uit sulke oënskynlike swakheid gekom het? Die Anglikaanse kerkleier en geleerde Frederic Farrar het gesê: “Daar is een, en slegs een moontlike antwoord—die opstanding uit die dood. Hierdie hele groot rewolusie was te danke aan die krag van Christus se opstanding.”4 As getuies van die herrese Here het die Apostels geweet dat niks hierdie werk kon keer om te vorder nie. Hulle getuienis was ʼn bron van volgehoue krag, aangesien die vroeë Kerk ondanks alles oorwin het.

Hierdie Paasseisoen, as een van sy geordineerde getuies, verklaar ek dat die Here Jesus Christus vroeg een pragtige Sondagoggend uit die dood opgestaan het om ons te versterk en die bande van die dood vir almal te verbreek. Jesus Christus lewe! As gevolg van Hom is die dood nie ons einde nie. Die Opstanding is Christus se gratis en universele geskenk aan almal.

Beeld
Christus en Maria Magdalena by die graf

Christ and Mary at the Tomb [Christus en Maria by die Graf], deur Joseph Brickey

Kom na Christus toe

Die evangelie en Versoening van Jesus Christus is vir almal—dit is elke een. Die enigste manier waarop ons die volle seëninge van die Saligmaker se soenoffer ervaar, is deur sy uitnodiging individueel te aanvaar: “Kom na My toe” (Matthéüs 11:28).

Ons kom na Christus wanneer ons geloof in Hom beoefen en ons bekeer. Ons kom na Hom toe wanneer ons gedoop word in sy Naam en die gawe van die Heilige Gees ontvang. Ons kom na Hom toe wanneer ons die gebooie onderhou, ordinansies ontvang, verbonde eerbiedig, ervarings in die tempel koester en die soort lewe leef wat dissipels van Christus leef.

Soms sal jy moedeloosheid en teleurstelling in die gesig staar. Jou hart kan breek vir jouself of iemand vir wie jy lief is. Jy mag belas word deur die sondes van ander. Die foute wat jy gemaak het—miskien ernstige foute—kan veroorsaak dat jy bang is dat vrede en geluk jou vir ewig verlaat het. Onthou in sulke tye dat die Saligmaker nie net die las van sonde ophef nie, maar ook “pyne verduur en verdrukkinge en versoeking van elke soort [gely het]” (Alma 7:11), insluitend joune! As gevolg van wat Hy vir jou deurgemaak het, weet Hy persoonlik hoe om jou te help wanneer jy sy lewensveranderende uitnodiging aanvaar: “Kom na My toe.”

Almal Is Welkom

Jesus Christus het dit duidelik gemaak dat al Hemelse Vader se kinders gelyke aanspraak op die seëninge van sy evangelie en Versoening het. Hy herinner ons dat “alle mense [is] bevoorreg, die een soos die ander, en niemand word verbied nie” (2 Nefi 26:28).

“Hy nooi hulle almal om na Hom te kom en deel te hê aan sy goedheid; en Hy wys niemand weg wat na Hom kom nie, swart en wit, slaaf en vryman, man en vrou” (2 Nefi 26:33).

“Hy nooi hulle almal uit”—dit beteken almal van ons! Ons moenie oppervlakkige etikette en kunsmatige onderskeidings op onsself of ander plaas nie. Ons moet nooit enige hindernisse vir die Saligmaker se liefde stel of gedagtes koester dat ons of ander buite sy bereik is nie. Soos ek voorheen gesê het: “Dit is nie moontlik vir [enigiemand] om laer te sink as wat die oneindige lig van Christus se Versoening skyn nie.”5

In plaas daarvan, soos suster Holland en ek net ʼn paar maande voor haar afsterwe geleer het, word ons beveel om “naasteliefde te hê, watter naasteliefde die liefde is” (2 Nefi 26:30).6 Dit is die liefde wat die Saligmaker vir ons betoon, want “Hy doen niks tensy dit tot die voordeel van die wêreld is nie; want Hy het die wêreld lief, sodat Hy selfs sy eie lewe neerlê sodat Hy alle mense na Hom kan trek” (2 Nefi 26:24).

Ek getuig dat die evangelie en die Versoening van Jesus Christus vir alle mense is. Ek bid dat julle die seëninge wat Hy bring, met vreugde sal omhels.

Notas

  1. Howard W. Hunter, “The Gospel—A Global Faith,” Ensign, Nov. 1991, 18.

  2. Sien Howard W. Hunter, “All Are Alike unto God” (Brigham Young Universiteitskaggelaand, 4 Feb. 1979), 1–5, speeches.byu.edu.

  3. There Is a Green Hill Far Away,” Hymns [Gesange], no. 194.

  4. Frederic W. Farrar, The Life of Christ (1994), 656.

  5. Jeffrey R. Holland, “The Laborers in the Vineyard,” Liahona, Mei 2012, 33.

  6. Sien Jeffrey R. en Patricia T. Holland, “A Future Filled with Hope” (wêreldwye gewyde byeenkoms vir jong volwassenes, 8 Jan. 2023), broadcasts.ChurchofJesusChrist.org.