Studiehulp
JSV, Génesis 9


JSV, Génesis 9:4–6. Vergelyk Génesis 8:20–22

Na die Vloed versoek Noag die Here om nie weer die aarde te vervloek nie.

4 En Noag het ’n altaar vir die Here gebou, en het van elke rein dier, en van elke rein voël geneem en brandoffers op die altaar geoffer, en het dank teenoor die Here betuig, en hom in sy hart verbly.

5 En die Here het met Noag gespreek, en Hy het hom geseën. En Noag het ’n soet geur geruik, en hy het in sy hart gesê;

6 Ek sal die Naam van die Here aanroep, sodat Hy nie weer die aarde sal vervloek vanweë die mens nie, want die verbeelding van die mens se hart is boos vanaf sy jeug; en sodat Hy nie weer enige lewende ding sal tref, soos Hy gedoen het, terwyl die aarde aanhou om te bestaan nie.

JSV, Génesis 9:10–15. Vergelyk Génesis 9:4–9

Die mens is verantwoordbaar vir die vergieting van die bloed van diere en van mense. God vestig dieselfde verbond met Noag en sy seuns as wat hy met Henog gesluit het.

10 Maar, die bloed van alle vlees wat Ek julle gegee het vir voedsel, sal op die grond vergiet word, wat die lewe daarvan neem, en die bloed sal julle nie eet nie.

11 En sekerlik sal bloed nie vergiet word nie, slegs vir voedsel, om julle lewens te red; en die bloed van elke dier sal Ek van julle hande vereis.

12 En wie ook al die bloed van ’n mens vergiet, deur ’n mens sal sy bloed vergiet word; want die mens sal nie die bloed van ’n mens vergiet nie.

13 Want ’n gebod gee Ek, dat elkeen se broer die lewe van die mens moet bewaar, want na my eie beeld het Ek die mens gemaak.

14 En ’n gebod gee Ek aan julle, Wees julle vrugbaar en vermeerder; bring oorvloedig voort op die aarde, en vermeerder daarop.

15 En God het met Noag gespreek, en met sy seuns met hom, en gesê. En Ek, kyk, Ek sal my verbond met julle vestig, wat Ek met julle vader Henog gesluit het, aangaande julle nageslag na julle.

JSV, Génesis 9:21–25. Vergelyk Génesis 9:16–17

God het die reënboog in die hemel gestel as ’n herinnering aan sy verbond met Henog en met Noag. In die laaste dae sal die algemene samekoms van die Kerk van die Eersgeborene by die regverdiges op die aarde aansluit.

21 En die boog sal in die wolk wees; en Ek sal dit aanskou, sodat Ek die ewigdurende verbond mag onthou wat Ek met jou vader Henog gesluit het; sodat, wanneer die mens al my gebooie sal onderhou, Sion weer op die aarde sal wees, die stad van Henog wat Ek na myself opgeneem het.

22 En dit is my ewigdurende verbond dat wanneer jou nageslag die waarheid sal omhels, en opwaarts kyk, dan sal Sion afwaarts kyk, en al die hemele sal skud met blydskap en die aarde sal bewe van vreugde;

23 En die algemene samekoms van die kerk van die eersgeborene sal neerdaal uit die hemel en die aarde besit, en sal plek hê tot die einde kom. En dit is my ewigdurende verbond, wat Ek met jou vader Henog gesluit het.

24 En die boog sal in die wolke wees en Ek sal my verbond met jou vestig wat Ek gesluit het tussen My en jou, vir elke lewende skepsel van alle vlees wat op die aarde sal wees.

25 En God het vir Noag gesê, Dit is die teken van die verbond wat Ek tussen My en jou gevestig het; vir alle vlees wat op die aarde sal wees.