Studiehulp
JSV, Génesis 50


JSV, Génesis 50:24–38. Vergelyk Génesis 50:24–26; 2 Nefi 3:4–22

Josef in Egipte profeteer dat Moses Israel sal bevry van Egiptiese slawerny; van ’n tak van Josef se nageslag wat gelei sal word na ’n verafgeleë land, waar hulle onthou sal word in die verbonde van die Here; van God wat sy profeet in die laaste dae, genaamd Josef, roep om die kronieke van Juda en van Josef saam te voeg; en van Aäron wat as segsman vir Moses dien.

24 En Josef het vir sy broers gesê, Ek sterwe, en gaan na my vaders; en ek gaan af na my graf met vreugde. Die God van my vader Jakob wees met julle, om julle te verlos van die ellende in die dae van julle slawerny; want die Here het my besoek, en ek het ’n belofte van die Here ontvang dat uit die vrug van my lendene die Here God ’n regverdige tak sal opwek; en aan julle, wat my vader Jakob Israel genoem het, ’n profeet; (nie die Messias wat Silo genoem word nie;) en hierdie profeet sal my volk verlos uit Egipte in die dae van julle slawerny.

25 En dit sal gebeur dat hulle weer verstrooi sal word; en ’n tak sal afgebreek word, en sal na ’n verre land gedra word; nietemin sal hulle onthou word in die verbonde van die Here, wanneer die Messias kom; want Hy sal aan hulle geopenbaar word in die laaste dae, in die Gees van mag; en hulle uit die duisternis na die lig bring; uit verborge duisternis, en uit gevangenskap na vryheid.

26 ’n Siener sal die Here my God opwek wat ’n uitverkore siener vir die vrug van my lendene sal wees.

27 So sê die Here God van my vaders aan my, ’n Uitverkore siener sal Ek opwek uit die vrug van jou lendene; en hy sal hoog geag word onder die vrug van jou lendene en aan hom sal Ek ’n gebod gee dat hy ’n werk vir die vrug van jou lendene, sy broers, sal doen.

28 En hy sal hulle bring tot die kennis van die verbonde wat Ek met jou vaders gesluit het; en hy sal welke werk wat Ek ook al hom gebied het, doen.

29 En Ek sal hom groot maak in my oë, want hy sal my werk doen; en hy sal groot wees soos hom wat Ek gesê het Ek vir julle sou opwek, om my volk te verlos, o huis van Israel, want ’n siener sal Ek opwek om my volk uit die land Egipte te verlos; en hy sal Moses genoem word. En deur hierdie naam sal hy weet dat hy van jou huis is; want hy sal opgevoed word deur die koning se dogter, en sal haar seun genoem word.

30 En verder, Ek sal ’n siener opwek uit die vrug van jou lendene, en aan hom sal Ek die mag gee om my woord na vore te bring na die saad van jou lendene; en nie net om my woord na vore te bring nie, sê die Here, maar tot die oortuiging van hulle van my woord, wat alreeds sal uitgegaan het in die laaste dae;

31 Daarom sal die vrug van jou lendene skryf, en die vrug van die lendene van Juda sal skryf; en dit wat geskryf sal word deur die vrug van jou lendene, en ook dit wat geskryf sal word deur die vrug van die lendene van Juda sal saamgroei tot die weerlegging van valse leerstellings, en die beëindiging van twiste, en om vrede te vestig onder die vrug van jou lendene, en om hulle te bring tot ’n kennis van hul vaders in die laaste dae; en ook tot die kennis van my verbonde, sê die Here.

32 En uit swakheid sal hy sterk gemaak word, in daardie dag wanneer my werk sal uitgaan onder my hele volk, wat hulle sal herstel wat van die huis van Israel is, in die laaste dae.

33 En daardie siener sal Ek seën, en hulle wat soek om hom te vernietig sal beskaam word; want hierdie belofte gee Ek aan jou; want Ek sal jou onthou van geslag tot geslag; en sy naam sal Josef genoem word, en dit sal na die naam van sy vader wees; en hy sal soos jy wees; want die ding wat die Here sal voortbring deur sy hand sal my volk tot heil bring.

34 En die Here het vir Josef gesweer dat Hy sy nageslag vir ewig sou bewaar, en gesê, Ek sal Moses opwek, en ’n staf sal in sy hand wees, en hy sal my volk bymekaarmaak en hy sal hulle soos ’n kudde lei, en hy sal die waters van die Rooi See met sy staf slaan.

35 En hy sal oordeel hê en sal die woord van die Here skryf. En hy sal nie baie woorde spreek nie, want Ek sal vir hom my wet skryf deur die vinger van my eie hand. En Ek sal vir hom ’n woordvoerder maak en sy naam sal Aäron genoem word.

36 En dit sal ook aan jou gedoen word in die laaste dae, net soos Ek gesweer het. Daarom het Josef vir sy broers gesê, God sal julle sekerlik besoek en julle uit hierdie land bring, na die land wat hy tot Abraham, en tot Isak en tot Jakob gesweer het.

37 En Josef het baie ander dinge aan sy broers bevestig, en het die kinders van Israel ’n eed laat aflê, en vir hulle gesê, God sal julle sekerlik besoek, en julle sal my gebeente hiervandaan opdra.

38 So het Josef gesterf toe hy eenhonderd en tien jaar oud was; en hulle het hom gebalsem en hulle het hom in ’n kis in Egipte geplaas; en die kinders van Israel het hom nie begrawe nie, sodat hy opgedra mag word en in die grafkelder saam met sy vader neergelê kon word. En so het hulle die eed onthou wat hulle tot hom gesweer het.