Studiehulp
JSV, Génesis 48


JSV, Génesis 48:5–11. Vergelyk Génesis 48:5–6

Efraim en Manasse word stamme van Israel. Net soos Josef van ouds sy familie fisies gered het, sal sy nageslag Israel geestelik red in die laaste dae.

5 En nou, betreffende jou twee seuns, Efraim en Manasse, wat gebore is vir jou in die land Egipte, voor ek na jou in Egipte gekom het; kyk, hulle is myne, en die God van my vaders sal hulle seën; net soos Ruben en Símeon sal hulle geseën word, want hulle is myne; daarom sal hulle na my naam vernoem word. (Daarom is hulle Israel genoem.)

6 En jou nakomelinge wat jy verwek na hulle, sal joune wees, en sal na die naam van hulle broers genoem word in hulle erfenis, in die stamme, daarom is hulle die stamme van Efraim en Manasse genoem.

7 En Jakob sê vir Josef, Toe die God van my vaders aan my verskyn het in Lus, in die land Kanaän; het Hy vir my gesweer dat Hy aan my en aan my nageslag, die land vir ’n ewigdurende besitting sou gee.

8 Daarom, o my seun, het Hy my geseën deur jou te verwek om ’n dienskneg vir my te wees, deur my huis van die dood te red.

9 Deur my volk te verlos, jou broers, van hongersnood wat swaar was in die land; daarom sal die God van jou vaders jou seën, en die vrug van jou lendene, sodat hulle geseënd sal wees bó jou broers en bó jou vader se huis;

10 Want jy het oorwin, en jou vader se huis het neergebuig voor jou; net soos dit aan jou getoon is, voor jy na Egipte verkoop is deur die hande van jou broers; daarom sal jou broers neerbuig voor jou, van geslag tot geslag, voor die vrug van jou lendene vir ewig;

11 Want jy sal ’n lig vir my volk wees, om hulle in die dae van hul gevangenskap, van slawerny te verlos; en om heil aan hulle te bring, wanneer hulle algeheel neergebuk is onder die sonde.