“Inleiding,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe: Hulpbronboekie (2020)
“Inleiding,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe
Detail uit Come, Follow Me, deur James T. Harwood
Inleiding
Jy Kan Suksesvol Wees met die Hulp van die Here
As ʼn diens-sendeling is jy geroep om Jesus Christus te verteenwoordig. Jy dien die kinders van Hemelse Vader. Die Saligmaker het jou lief, en Hy sal jou help om vooruit te gaan. Hy het belowe: “Ek sal uitgaan voor julle aangesig. Ek sal aan julle regter- en aan julle linkerhand wees, en my Gees sal in julle harte wees, en my engele rondom julle, om julle te versterk” (Leer en Verbonde 84:88).
Beoefen jou geloof en handel volgens die besluit wat jy geneem het om die Here se werk te doen. Deur jou voortdurende geloof en beste pogings sal jy die vaardighede, gawes en sterk punte wat jy nodig het vinniger ontwikkel. Jy sal die hulp van die Here voel. Jy sal groei in vertroue in jou vermoë om Hom te dien.
Die Here het belowe om sendelinge te help. Maar baie van die grootste sendelinge in die geskiedenis het in hulle sendingarbeid gely en gesukkel. Ammon en sy broers “het baie verdrukkinge gehad; hulle het baie gely, beide na liggaam en na gees, soos honger, dors en uitputting, en ook baie arbeid in die gees” (Alma 17:5). Soms was hulle oorweldig. “Nou toe ons harte bedruk was, en ons wou terugkeer, kyk, die Here het ons vertroos, en gesê: Gaan onder julle broers, die Lamaniete, en verduur met geduld julle verdrukkinge, en Ek sal aan julle welslae gee” (Alma 26:27).
Hierdie belofte is op jou van toepassing in jou toegewysde diens aan die familie van God. Jy kan ʼn nuttige dienaar van die Here word.
Tatsu Ito, wat spinale spieratrofie gehad het, is ʼn voorbeeld van hierdie belofte se vervulling. Toe die Ito-gesin van Japan na Utah verhuis het, het Tatsu besluit om as ʼn diens-sendeling te dien. Tatsu se jonger broer, Dan, “kon sien hoe Tatsu verander het” tydens die sending en het geweet dat Tatsu werklik “voorberei het om terug te keer na die hemel.”
Toe Tatsu oorlede is, het Dan, wat ook spinale spieratrofie het, na die tempel gegaan. Hy was geïnspireer om te vra of hy geroep kan word om dieselfde sendingopdrag te voltooi waarin Tatsu voor sy afsterwe gedien het. Dan was geseënd om dit te kon doen. Hy het op die LDS.org reaksiespan gedien en het “Ek is ʼn Mormoon”-profiele in Japannees hersien.
Dan het gesê dat hy ook “ʼn verteenwoordiger van God in die alledaagse lewe” was. As iemand probleme gehad het, was hy “altyd bly om na hulle te luister en hulle aan te moedig om na hul biskoppe te gaan om ʼn seëning te ontvang.”
Hoewel ouderling Ito se sending nie ʼn proselietroetine gehad het nie, het hy gesê dat hy definitief gevoel het dat hy ʼn sendeling is. Hy het gesê dat sy sending gehelp het om “my bereidwilligheid om elke dag meer te dien, te verhoog.”
Ouderling Tatsu Ito
Hoe om Hierdie Boekie te Gebruik
ʼn Diens-sending kan beide vreugdevol en spanningsvol wees. Harde werk en diens is bewese hulpmiddels in die beheer van bekommernis, wanhoop en moegheid. Dit is noodsaaklik vir enigiemand wat aan die Here se werk deelneem, gedurende sowel as ná sendingdiens. Maar harde werk en diens alleen is nie jou enigste hulpmiddels nie. Ander bronne sluit in professionele hulp, priesterskapseëninge, raad van ervare volwassenes en hierdie boekie. Die Here sal jou help om vaardighede en gesindhede te ontwikkel om jou te help om sukses te behaal. Jy kan bevrediging en sukses vind in jou diens-sending en in die lewe.
Hierdie boekie is nie bedoel om alles op een slag te lees nie. Gebruik die instruksies hieronder. Jy sal gelei word tot voorstelle vir die uitdagings waarvoor jy te staan kom. Hierdie idees sal ook help as jy dien en ander bedien.