Jesus Christus
Die Lewende Christus: Die Getuienis van die Apostels


Die Lewende Christus

Die Getuienis van die Apostels

Terwyl ons die geboorte van Jesus Christus twee millennia gelede herdenk, bied ons ons getuienis van die werklikheid van sy onvergelykbare lewe en die oneindige krag van sy groot versoenende offerande. Geeneen het nog ooit so ʼn diepgaande invloed gehad op almal wat al ooit op hierdie aarde geleef het, en wat nog op hierdie aarde sal lewe nie.

Hy was die Groot Jehova van die Ou Testament, die Messias van die Nuwe. Onder die leiding van sy Vader, was Hy die skepper van die aarde. “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:3). Alhoewel Hy sondeloos was, is Hy gedoop om alle geregtigheid te vervul. Hy “het die land deurgegaan, [en] goed gedoen” (Handelinge 10:38), en tog was Hy daarvoor verag. Sy evangelie was ʼn boodskap van vrede en welwillendheid. Hy het almal gesmeek om sy voorbeeld te volg. Hy het die paaie van Palestina bewandel, die siekes genees, die blindes laat sien, en die dode opgewek. Hy het die waarhede van die ewigheid, die werklikheid van ons vooraardse bestaan, die doel van ons lewe op die aarde, en die potensiaal vir die seuns en dogters van God in die komende lewe, geleer.

Hy het die nagmaal ingestel as ʼn herinnering van sy groot versoenende offerande. Hy is gearresteer en veroordeel op valse aanklagte, skuldig bevind om ʼn gepeupel tevrede te stel, en gevonnis om op Gólgota se kruis te sterf. Hy het sy lewe gegee om versoening te doen vir die sondes van die ganse mensdom. Syne was ʼn groot plaasvervangende gawe ten behoewe van almal wat ooit op hierdie aarde sou lewe.

Ons getuig plegtig dat sy lewe, wat sentraal tot die geskiedenis van alle mense is, nie in Bethlehem begin het nie, nóg op Gólgota geëindig het. Hy is die Eersgeborene van die Vader, die Eniggebore Seun in die vlees, die Verlosser van die wêreld.

Hy het uit die graf opgestaan om “die eersteling [te] word van dié wat ontslaap het” (1 Korinthiërs 15:20). As die Verrese Here, het Hy diegene wat Hy in die lewe liefgehad het, besoek. Hy het ook onder sy “ander skape” (Johannes 10:16) in antieke Amerika gedien. In die moderne wêreld het Hy en sy Vader aan die seun Joseph Smith verskyn om die lang-beloofde “[tydvak] van die volheid van tye” in te lui (Efésiërs 1:10).

Aangaande die Lewende Christus het die Profeet Joseph geskryf: Sy oë was soos ’n vuurvlam; die hare van sy hoof was wit soos suiwer sneeu; sy gelaat het geblink bo die helderheid van die son; en sy stem was soos die klank van ruisende groot waters, naamlik die stem van Jehova, wat sê:

“Ek is die eerste en die laaste; Ek is Hy wat leef, Ek is Hy wat gedood was; Ek is julle Voorspraak by die Vader” (L&V 110:3–4).

Van Hom het die Profeet ook verklaar: “En nou, na die vele getuienisse wat van Hom gegee is, dit is die getuienis, laaste van almal, wat ons van Hom gee: Dat Hy leef!

“Want ons het Hom gesien, en wel aan die regterhand van God; en ons het die stem gehoor wat getuienis lewer dat Hy die Eniggeborene van die Vader is—

“Dat deur Hom, en deur middel van Hom, en van Hom die wêrelde geskape word en was, en die inwoners daarvan is gebore seuns en dogters vir God” (L&V 76:22–24).

Ons verklaar in woorde van plegtigheid dat sy priesterskap en sy Kerk herstel is op die aarde—“gebou op die fondament van … apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efésiërs 2:20).

Ons getuig dat Hy eendag sal terugkeer na die aarde. “En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien” (Jesaja 40:5). Hy sal regeer as Koning van Konings, en heers as Heer van alle Here, en elke knie sal buig en elke tong sal in aanbidding voor Hom spreek. Elkeen van ons sal deur Hom geoordeel word volgens ons werke en die begeertes van ons harte.

As sy behoorlik geordineerde Apostels lewer ons getuienis—dat Jesus die Lewende Christus is, die onsterflike Seun van God. Hy is die groot Koning Emmanuel, wat vandag aan die regterhand van sy Vader staan. Hy is die lig, die lewe en die hoop van die wêreld. Sy weg is die pad wat na geluk in hierdie lewe lei en die ewige lewe in die wêreld wat kom. Aan God sy die dank vir die onvergelyklike gawe van sy goddelike Seun.

Die Eerste Presidensie

Beeld
handtekeninge

1 Januarie 2000

Die Kworum van die Twaalf

Beeld
handtekeninge van die twaalf
Beeld
handtekeninge van die twaalf 2