Studiehulp
JSV, Johannes 1


JSV, Johannes 1:1–34. Vergelyk Johannes 1:1–34

Die evangelie van Jesus Christus was vanaf die begin gepredik. Johannes die Doper is die Elías wat die weg vir Christus voorberei, en Jesus Christus is die Elías wat alle dinge herstel en deur wie heil kom.

1 In die begin is die evangelie gepredik deur die Seun. En die evangelie was die woord, en die woord was met die Seun, en die Seun was by God, en die Seun was van God.

2 Hy was in die begin by God.

3 Alle dinge is deur Hom gemaak; en sonder Hom is niks gemaak wat gemaak is nie.

4 In Hom was die evangelie en die evangelie was die lewe en die lewe was die lig van die mens;

5 En die lig skyn in die wêreld en die wêreld het dit nie bemerk nie.

6 Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes was.

7 Hy het in die wêreld gekom as ’n getuie, om getuienis te lewer van die lig, en getuienis te lewer van die evangelie deur die Seun, aan almal, sodat deur Hom mense mag glo.

8 Hy was nie daardie lig nie, maar het gekom om getuienis te lewer van daardie lig,

9 Wat die ware lig was, wat elke mens verlig wat die wêreld binnekom;

10 Naamlik die Seun van God. Hy wat in die wêreld was en die wêreld was deur Hom gemaak en die wêreld het Hom nie geken nie.

11 Hy het na sy eie gekom en sy eie het Hom nie aanvaar nie.

12 Maar soveel as wat Hom aanvaar het, aan hulle het Hy mag gegee om die seuns van God te word; slegs aan hulle wat in sy Naam glo.

13 Hy is gebore, nie deur bloed nie, nóg deur die wil van die vlees, nóg deur die wil van die mens, maar van God.

14 En dieselfde woord is vlees gemaak, en onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid aanskou, die heerlikheid soos van die Eniggeborene van die Vader, vol genade en waarheid.

15 Johannes het van Hom getuienis gelewer, en uitgeroep, en gesê, Dit is Hy van wie ek gespreek het; Hy wat ná my kom, word bó my verkies; want Hy was voor my.

16 Want in die begin was die Woord, naamlik die Seun, wat vlees gemaak is, en na ons gestuur is deur die wil van die Vader. En soveel as wat in sy Naam glo, sal van sy volheid ontvang. En van sy volheid het ons almal ontvang, naamlik onsterflikheid en die ewige lewe, deur sy genade.

17 Want die wet is deur Moses gegee, maar die lewe en waarheid het deur Jesus Christus gekom.

18 Want die wet was ooreenkomstig ’n vleeslike gebod, wat die dood gebring het; maar die evangelie was ooreenkomstig die mag van ’n eindelose lewe, deur Jesus Christus, die Eniggebore Seun, wat in die boesem van die Vader is.

19 En geen mens het God te eniger tyd gesien nie, tensy Hy getuienis gelewer het van die Seun; want tensy dit deur Hom is, kan geen mens gered word nie.

20 En die is die kroniek van Johannes, toe die Jode die priesters en Leviete van Jerusalem gestuur het om hom te vra; Wie is u?

21 En hy het erken, en nie ontken dat hy Elías was nie; maar erken, en gesê; Ek is nie die Christus nie.

22 En hulle het hom gevra, en gesê; Hoe dan is u Elías? En hy het gesê, Ek is nie daardie Elías wat alle dinge moes herstel nie. En hulle het hom gevra, Is u daardie profeet? En hy het geantwoord, Nee.

23 Toe sê hulle vir hom, Wie is u? sodat ons ’n antwoord mag gee aan hulle wat ons gestuur het? Wat sê u van uself?

24 Hy het gesê, Ek is die stem van een roepende in die wildernis, Maak die weg van die Here reguit, soos die profeet Jesaja gesê het.

25 En hulle wat gestuur is, was van die Fariseërs.

26 En hulle het hom gevra, en vir hom gesê; Waarom doop u dan as u nie die Christus is nie, nóg Elías wat alle dinge moet herstel, nóg daardie profeet?

27 Johannes het hulle geantwoord en gesê; Ek doop met water, maar daar staan een onder julle wat julle nie ken nie;

28 Hy is die een van wie ek getuienis lewer. Hy is daardie profeet, naamlik Elías, wat ná my kom, verkies word bó my, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie, of wie se plek ek nie in staat is om te vul nie; want hy sal doop, nie slegs met water nie, maar met vuur en met die Heilige Gees.

29 Die volgende dag sien Johannes Jesus wat na hom kom en gesê; Kyk die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem!

30 En Johannes het getuienis gelewer aan die volk en gesê, Dit is Hy van wie ek gesê het; ná my kom ’n man wat verkies word bó my; want hy was vóór my, en ek het Hom geken, en dat Hy aan Israel geopenbaar gemaak sou word; daarom kom ek en doop met water.

31 En Johannes het getuienis gelewer, en gesê: Toe Hy deur my gedoop was, het ek die Gees gesien neerdaal van die hemel soos ’n duif, en dit het op Hom gerus.

32 En ek het Hom geken; want Hy het my gestuur om met water te doop, Hy het vir my gesê; Op wie jy die Gees sal sien neerdaal en op hom vertoef, dit is Hy wat doop met die Heilige Gees.

33 En ek het gesien en lewer getuienis dat dit die Seun van God is.

34 Hierdie dinge is in Betábara gedoen, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

JSV, Johannes 1:42. Vergelyk Johannes 1:42

Céfas beteken “siener” of “steen.”

42 En hy het hom na Jesus gebring. En toe Jesus hom sien het Hy gesê, Jy is Simon, die seun van Jona, jy sal Céfas genoem word, wat beteken, deur interpretasie, ’n siener of ’n steen. En hulle was vissermanne. En dadelik het hulle alles gelos en Jesus gevolg.