Studiehulp
JSV, Génesis 14


JSV, Génesis 14:25–40. Vergelyk Génesis 14:18–20

Melgisédek seën Abram. Melgisédek se grootse bediening en die magte en seëninge van die Melgisédekse Priesterskap word beskryf.

25 En Melgisédek het sy stem verhef en Abram geseën.

26 Nou was Melgisédek ’n man van geloof wat regverdigheid te weeg gebring het; en toe hy ’n kind was, het hy God gevrees en die bekke van leeus toegestop en die geweld van vuur geblus.

27 En dus, nadat hy goedgekeur is deur God, is hy geordineer as hoëpriester na die orde van die verbond wat God met Henog gesluit het.

28 En dit was volgens die orde van die Seun van God; welke orde nie deur die mens gekom het nie, nóg die wil van die mens; nóg deur vader of moeder, nóg deur begin van dae of einde van jare; maar van God;

29 En dit is oorgelewer aan mans deur die roeping van sy eie stem, ooreenkomstig sy eie wil, aan soveel as wat in sy Naam glo.

30 Want God het tot Henog gesweer en tot sy nageslag met ’n eed by Homself gesweer dat elkeen wat geordineer word volgens hierdie orde en roeping, mag sou hê, deur geloof, om berge te verbreek, om die seë te verdeel, om die waters op te droog, om hulle uit hul koers te laat wyk;

31 Om die leërs van nasies te weerstaan, om die aarde te verdeel, om elke band te verbreek, om in die teenwoordigheid van God te staan; om alle dinge te doen volgens sy wil, ooreenkomstig sy bevel, prinsdomme en magte te onderwerp; en dít deur die wil van die Seun van God wat was vanaf voor die grondlegging van die wêreld.

32 En mans wat hierdie geloof gehad het, wat hierdie orde van God bereik het, is getransformeer en na die hemel opgeneem.

33 En nou, Melgisédek was ’n priester volgens hierdie orde; daarom het hy vrede verkry in Salem, en is die Prins van vrede genoem.

34 En sy volk het regverdigheid tot stand gebring, en het die hemel verwerf, en gesoek na die stad van Henog wat God voorheen opgeneem het, en dit van die aarde afgesonder het, wat hy teruggehou het tot die laaste dae, of die einde van die wêreld;

35 En gesê, en met ’n eed gesweer het, dat die hemele en die aarde saam sou kom; en die seuns van God sou beproef word asof deur vuur.

36 En hierdie Melgisédek, nadat hy sodoende regverdigheid gevestig het, is die koning van die hemel genoem, of, met ander woorde, die Koning van vrede.

37 En hy het sy stem verhef en hy het Abram geseën, omdat hy die hoëpriester was, en die bewaarder van die voorraadskuur van God;

38 Hom wat God aangestel het om die tiendes vir die armes te ontvang.

39 Daarom, Abram het aan hom tiendes betaal van alles wat hy gehad het, van al die rykdomme wat hy besit het, wat God hom gegee het, meer as dit wat hy nodig gehad het.

40 En dit het gebeur dat God Abram geseën het, en aan hom rykdomme gegee het, en eer, en land vir ’n ewigdurende besitting; ooreenkomstig die verbond wat hy gesluit het, en ooreenkomstig die seëning waarmee Melgisédek hom geseën het.