Liahona
Blye Tydings van Liefde en Vreugde
Januarie 2025


“Blye Tydings van Liefde en Vreugde,” Liahona, Januarie 2025.

Maandelikse Liahona-boodskap, Januarie 2025

Blye Tydings van Liefde en Vreugde

Die seëninge van die Herstelling behoort ons harte te verbly en ons te vul met dankbaarheid vir God se groot liefde.

standbeeld van engel Moroni teen sonsondergang

Ons boodskap van hoop en vrede aan almal is dat Jesus Christus leef en dat Hy sy evangelie en Kerk in hierdie laaste dae herstel het.

“Hoe onbeskryflik heerlik is hierdie dinge vir die mensdom!” het die Profeet Joseph Smith verklaar. “Dit kan waarlik as tydings van groot blydskap aan alle volke beskou word; en ook tydings wat die aarde behoort te vul en die harte van elkeen verbly wanneer hulle dit hoor.”

Vir eeue ná die aardse bediening van die Saligmaker, het God se kinders Hom gesoek en na meer lig en waarheid gesmag. Nou gaan die blye tydings van die evangelie van Jesus Christus en die voortdurende Herstelling uit om alle volke te seën en die wêreld voor te berei vir die dag wanneer Jesus Christus sal terugkeer om “as Koning van die konings en as Here van die here te heers.” Dit is ʼn diepgaande openbaring van die nimmereindigende liefde van ons Vader in die Hemel en ons Saligmaker. Ek verbly my daarin dat ek my kan uitleef om hierdie waarhede aan die hele wêreld te verkondig.

Die Onwaarskynlike en die Merkwaardige

ʼn Nuwe tydperk het vir die mensdom aangebreek in ʼn boomryke woud, waar God die Vader en sy Seun, Jesus Christus verskyn het en tot Joseph Smith gespreek het in antwoord op die jong Joseph se gebed oor by watter kerk hy moes aansluit (sien Joseph Smith—Geskiedenis 1:14–20). Jesus Christus het vir Joseph Smith gesê om nie by enige kerk aan te sluit nie. Hy het belowe dat die volheid van sy evangelie in die toekoms aan Joseph geopenbaar sou word.

Vir baie het Joseph die onwaarskynlikste gelyk om tot so ʼn belangrike werk geroep te word, en hulle was reg. Hy was ʼn ongeletterde en onbelangrike seun vanaf ʼn kleinerige plaas in ʼn onbekende dorp. Net soos sommige van die Saligmaker in sy tyd gesê het: “Kan daar uit Násaret iets goed wees?” (Johannes 1:47), baie het gewonder of daar iets goed van ʼn ongeleerde 14-jarige in Palmyra, New York kon kom. Maar deur Joseph—so onwaarskynlik soos wat dit mag gelyk het—sou Hemelse Vader en die Here Jesus Christus die waarlik merkwaardige tot stand bring. Dit behoort vir ons hoop te bring dat ons op ons eenvoudige en nederige manier, ook op betekenisvolle wyses tot die werk van die Here kan bydra.

Mettertyd het die Here Joseph aangeroep “en met hom vanuit die hemel gespreek, en hom gebooie gegee” (Leer en Verbonde 1:17). Joseph het kosbare openbarings en lewensnoodsaaklike leerstellings ontvang wat nuwe lig gewerp het op ons begrip van Hemelse Vader se liefdevolle plan en Jesus Christus se verlossende liefde en die krag van sy versoeningsoffer. Wat merkwaardig is, hierdie blye tydings het gekom op die presiese oomblik toe beduidende vooruitgang in vervoer, kommunikasie en ander areas God se lig sou toelaat om voort te skyn om meer en meer van sy kinders te seën.

Moroni wat die goue plate aan Joseph Smith oorhandig

The Angel Moroni Delivering the Plates to Joseph Smith [Die Engel Moroni wat die Plate aan Joseph Smith Oorhandig], deur C. C. A. Christensen

ʼn Kragtige Getuie van God se Liefde

Die verskyning van die engel Moroni aan Joseph Smith was noodsaaklik vir die Herstelling en kragtige bewys van God se liefde. Moroni het Joseph vertel van ʼn rekord wat op goue plate geskryf is en daar naby weggebêre is (sien Joseph Smith—Geskiedenis 1:33–34). Joseph sou uiteindelik “krag van omhoog” gegee word (Leer en Verbonde 20:8) om daardie kroniek te vertaal wat dan die Boek van Mormon sou word, wat naas die Bybel staan en nog ʼn testament van Jesus Christus is.

Regdeur die Boek van Mormon lees ons van mense wat honderde jare voor Christus geweet en voorspel het van sy koms en daarna gesmag het. Ons vind ook die buitengewone kroniek van die herrese Saligmaker se persoonlike verskyning aan en bediening onder die Nefiete, waar hy almal genooi het om na Hom te kom en die merk in sy sy en die merke van die spykers in sy hande en voete te voel (sien 3 Nefi 11:14–15). Hy het die siekes, die verlamdes, die blindes genees—“almal wat gekwel is op enige wyse”—en toe die klein kindertjies geseën en vir hulle gebid (sien 3 Nefi 17:7–9, 21). Ons leer so baie oor die Saligmaker se liefde en deernis uit hierdie heilige kroniek.

Die Boek van Mormon getuig dat “Jesus die Christus is.” Die versekerings in die Boek van Mormon herinner ons herhaaldelik daaraan dat ons Vader in die Hemel en ons Saligmaker ons liefhet bó enigiets wat ons onsself kan voorstel.

Die Seëninge van die Priesterskap en die Kerk

Die Herstelling het voortgegaan met die verskyning van ander hemelse boodskappers aan Joseph Smith. “Die herrese Johannes die Doper het die gesag om te doop deur onderdompeling vir die vergifnis van sonde herstel. Drie van die oorspronklike twaalf Apostels—Petrus, Jakobus en Johannes—het die apostelskap en sleutels van priesterskapsgesag herstel. Andere het ook gekom, insluitend Elía, wat die gesag om families vir ewig in ewige verhoudings te bind wat die dood transendeer.”

Op 6 April 1830, het Jesus Christus deur die Profeet Joseph Smith ʼn kerk gestig ooreenkomstig die kerk wat Hy in die tyd van die Nuwe Testament georganiseer het (sien Geloofsartikels 1:6), volledig met “die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efésiërs 2:20). Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae maak die seëninge van herstelde priesterskapsmag beskikbaar aan al God se kinders wat hulleself voorberei om dit te ontvang.

Soos President Russell M. Nelson ons geleer het, kan ons vreugde vind in daaglikse bekering as ons na Hemelse Vader en ons Saligmaker keer. Aan enigeen wat neerslagtig voel of voel dat hulle nie goed genoeg is of behoort nie: almal word genooi om na Christus en sy Kerk te kom. Die Kerk is nie ʼn klooster vir die volmaaktes nie, maar ʼn hospitaal vir die siekes. Ouderling Dieter F. Uchtdorf van die Kworum van die Twaalf Apostels herinner ons daaraan dat: “ons nie kerk toe kom om ons probleme weg te steek nie, maar om dit te heel.”

By die kerk vind ons vreugde in geleenthede om onsself uitwaarts te draai, om ander met liefde te dien en om ons eie persoonlike ervarings te deel met die oorvloed van Christus se goedheid. Ons kan “gereken [word] onder die volk van die kerk van Christus” en “onthou en gevoed … word deur die goeie woord van God” (Moroni 6:4). Wat ʼn geweldige seëning!

ʼn Rede vir Groot Vreugde

Die Profeet Joseph Smith het eens verklaar: “Nou, wat hoor ons in die evangelie wat ons ontvang het? ʼn Stem van blydskap! ʼn Stem van barmhartigheid vanuit die hemel; en ʼn stem van waarheid uit die aarde; blye tydings vir die dode; ʼn stem van blydskap vir die lewendes en die dode; blye tydings van groot vreugde” (Leer en Verbonde 128:19).

Hierdie blye tydings het gekom omdat Hemelse Vader en sy geliefde Seun, Jesus Christus ons liefhet en verlang—meer as enigiets—om ons terug te verwelkom in Hulle teenwoordigheid, sodat ons die soort lewe wat Hulle lewe, vir ewig mag hê. Die Herstelling openbaar dat Hulle alles gedoen het wat nodig is om hierdie ʼn heerlike moontlikheid vir ons almal te maak. In ons ewige reis sal ons beproewings en moeilikhede ervaar, maar “[ons] is sodat [ons] vreugde mag hê” (2 Nefi 2:25) in hierdie lewe en die volgende. Die Profeet Joseph het dit beter geweet as die meeste mense.

Joseph het gereeld teenstand en vervolging in die gesig gestaar, maar tóg het hy sy “natuurlike opgewekte temperament” behou (Joseph Smith—Geskiedenis 1:28). Hy het blymoedig, sterk en veerkragtig gebly en hy het die uitsonderlike werk volbring wat hy gegee is om te doen. Ek bring hulde aan al die vroeë Heiliges wat die Profeet Joseph Smith geglo, ondersteun en gevolg het en hulleself aan die opbou van die Kerk toegewy het. Ons is aan hulle so baie dank en eer verskuldig.

Dit was moeilik in die vroeë dae van die Kerk en dit kan vandag moeilik wees. Maar die Herstelling gaan voort. Met Jesus Christus aan die hoof van hierdie Kerk, sal lewende profete voortgaan om ons te lei. Huise van die Here sal voortgaan om gebou te word, sodat die seëninge van ewige verbonde met God ons aan Hom kan verbind en aan ons geliefdes aan beide kante van die voorhangsel (sien Matthéüs 16:19). Die liefde van God en Jesus Christus sal na die hele wêreld uitbrei as ons die Saligmaker se bevel volg om sy skape te voed en sy evangelie te deel. Ons sal aanskou hoe die waarhede van die Herstelling voortgaan op maniere en na plekke wat in Joseph se tyd skaars denkbaar sou gewees het.

Ons kan krag en groot vreugde vind—soos die Profeet Joseph gedoen het—as ons hierdie kosbare waarhede aanvaar en uitleef. Die oproep wat Joseph in sy tyd tot die Heiliges gemaak het gaan voort met ons vandag: “Sal ons nie voortgaan vir so ʼn groot saak nie? Gaan voorwaarts en nie terugwaarts nie. Moedhou, … en vorentoe, vorentoe na die oorwinning! Laat julle harte hulle verbly, en wees uitermate bly” (Leer en Verbonde 128:22).

Mag die blye tydings van liefde en vreugde wat die Herstelling bring, ons lewens seën en lei—nou en vir altyd.

Notas

  1. Teachings of Presidents of the Church: Joseph Smith (2007), 152.

  2. Die Lewende Christus: Die Getuienis van die Apostels,” Evangeliese Biblioteek.

  3. Sien Saints: The Story of the Church of Jesus Christ in the Latter Days, vol. 1, The Standard of Truth, 1815–1846 (2018), 16.

  4. Titelbladsy van die Boek van Mormon.

  5. Die Herstelling van die Volheid van die Evangelie van Jesus Christus: ʼn Tweehonderdjarige Proklamasie aan die Wêreld,” Evangeliese Biblioteek.

  6. Sien Russell M. Nelson, “The Power of Spiritual Momentum,” Liahona, Mei 2022, 98.

  7. Dieter F. Uchtdorf, “On Being Genuine,” Liahona, Mei 2015, 83.