Liahona
Wend Julle tot Christus
Januarie 2025


Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Januarie 2025

Wend Julle tot Christus

Leer en Verbonde 6:36

Die 2025 Jeugtema sal jou help om vertroue bó twyfel en geloof bó vrees te kies.

2025 Jeugtema-logo

Sewentienjarige Kailey was ʼn lid van ʼn cheerleading-span totdat ʼn ongeluk ʼn traumatiese breinbesering tot gevolg gehad het. Haar herstelproses het haar daarvan weerhou om skool by te woon, en sy het geïsoleerd en alleen begin voel. Sy het emosioneel gesukkel en het nie geweet waar om hulp te soek nie. ʼn Vriendin het voorgestel dat sy na die sendelinge luister. Hulle het haar van die Versoening van Jesus Christus geleer. Om meer van Christus te leer, het vir haar hoop gegee en sy het gevoel asof God self na haar uitreik.

Kailey het vir haar moeder gesê: “Ek het nog nooit gevoel dat God my liefhet nie. Maar nou weet ek Hy is lief vir my.”

Haar moeder, Michelle, was ʼn bietjie verbaas. Sy en haar man, Brock, het Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae verlaat toe Kailey sewe was as gevolg van verskeie vrae, twyfel en bekommernisse. Hulle het aangeneem dat hul dogter gelukkiger sou wees sonder al die vergaderings en gebooie. Hulle het nooit gedink hul keuse sou Kailey van ʼn noue verbintenis met God weerhou nie. Terwyl Michelle en Brock toegekyk het hoe Kailey verander, het hulle besef dat dit lanklaas was sedert hulle naby aan God gevoel het, en hulle wou weer so voel.

Hulle het met hul biskop vergader en kort daarna het die familie, insluitend Kailey se broer Braeden, na die kerk teruggekeer. Om naby aan God te voel en weer met Hom te verbind—veral deur gebed—het hulle geloof herstel. Om na die kerk terug te keer het nie al hulle vrae of bekommernisse opgelos nie, maar hulle het besef dat ʼn persoonlike verbintenis met God meer belangrik as hulle ongeloof is.

Dit alles het begin toe ʼn vriendin—ʼn tiener soos jy—Kailey uitgenooi het om haar tot Christus te wend. En sy het!

Jesus Christus het gesê: “Sien op na My in elke gedagte; twyfel nie, vrees nie” (Leer en Verbonde 6:36). Hierdie is die inspirasie agter die 2025 Jeugtema. Laat ons toe om te deel hoe jy vertroue bó twyfel en geloof bó vrees kan kies terwyl jy jou na Christus wend:

Jongdames Algemene Presidensie

Links na regs: Suster Runia, President Freeman, Suster Spannaus

Tamara W. Runia

As ek sukkel, help dit my altyd om in my verbeelding te sien dat Jesus Christus sy arms uitstrek. Wanneer ek my tot Hom wend, onthou ek die woorde van die lied, “I Will Walk with Jesus [Ek Sal saam met Jesus Wandel]”: “He will never leave me, even when I fall [Hy sal my nooit verlaat nie, selfs as ek val].”

Emily Belle Freeman

Wanneer ek hierdie tema-skriftuur lees, word ek herinner aan Petrus op die See van Galiléa. Sy fokus op die storm het sy vrees en twyfel laat toeneem, wat hom in die stormagtige golwe laat wegsink het. Maar sy fokus op die Saligmaker het hom in staat gestel om iets uit te voer wat hy nog nooit vantevore gedoen het nie: hy het op die water geloop! Dit is werklik merkwaardig. Wat sal julle kan uitvoer as julle jul tot Hom wend?

Andrea Muñoz Spannaus

Wanneer ek bevrees begin voel, ongeag waar ek is of in watter situasie ek myself bevind, dink ek doelbewus aan my verhouding met Hemelse Vader en Jesus Christus. Ek herhaal verskeie kere in my gedagtes: EK IS ʼn DOGTER VAN GOD. Ek hou aan om dit te doen totdat ek beter begin voel. Dit werk altyd!

Jongmans Algemene Presidensie

Links na regs: Broer Wilcox, President Lund, Broer Nelson

Bradley R. Wilcox

Vra jouself af wie vir jou die meeste omgee en jou liefhet. Is dit jou ouers en Kerkleiers? Is dit mense op sosiale media vir wie jy dalk net ʼn nommer is? Wend jou tot Hemelse Vader en Christus. Hulle gee werklik om!

Steven J. Lund

Onthou waaraan jy herinner word wanneer jy die Aäroniese Priesterskapskworum en Jongdames temas voordra: Jy is ʼn geliefde seun of dogter van God. Vertrou dat ons Vader ʼn plan het vir jou. Om jou tot Christus te wend beteken om te besef dat sy Versoening reg in die middel van daardie plan is.

Michael T. Nelson

Om die skrifture te lees is om jou tot Christus te wend! Twyfel en vrese sal natuurlik verdwyn wanneer ons herinner word aan die wonderwerke en leringe van Jesus. Ons is so bevoorreg om toegang tot sy woorde te hê. Dit is van toepassing op elke situasie wat ons in ons lewens ervaar.

Nota

  1. Woorde en musiek deur Stephen P. Schank (sien Vriend, 27 Feb. 2020; sien ook Hymns—For Home and Church, no. 1004).