2018
Vyf Dinge wat Goeie Luisteraars Doen
Junie 2018


Beeld
Two young women talking

Beginsels van Bediening, Junie 2018

Vyf Dinge wat Goeie Luisteraars Doen

Deur waarlik te luister sal jy gehelp word om te weet hoe om aan die geestelike en daaglikse behoeftes van ander te voldoen soos die Verlosser sou.

Ouderling Jeffrey R. Holland van die Kworum van die Twaalf Apostels het gesê: “Om te luister is moontlik belangriker as om te praat. … As ons in liefde luister, sal ons nie hoef te wonder wat om te sê nie. Dit sal aan ons gegee word—deur die Gees.”1

Om te luister is ʼn vaardigheid wat ons kan aanleer. Deur te luister toon ons ons liefde vir ander, help om sterk bande te bou, en nooi die Gees uit om ons te seën met die gawe van onderskeiding om ons te help om ander se behoeftes te begryp.2 Hier is vyf maniere om jou te help om beter te luister.

1. Gee Hulle Tyd

Baie mense het tyd nodig om hulle gedagtes agter mekaar te kry voordat hulle praat. Gee hulle tyd vóór en nadat hulle iets gesê het (sien Jakobus 1:19). Net omdat hulle klaar gepraat het, beteken nie dat hulle alles gesê het wat hulle moes nie. Moenie bang wees vir stilte nie (sien Job 2:11–3:1 en Alma 18:14–16).

2. Gee Aandag

Ons dink vinniger as wat ander praat. Jy moet die versoeking weerstaan om afleidings te maak en vooruit te dink aan wat jy gaan sê sodra hulle klaar gepraat het (sien Spreuke 18:13). Luister eerder met die doel om te verstaan. Jou antwoord sal beter wees want dit sal geformuleer wees gebaseer op beter begrip.

3. Verduidelik

Moenie bang wees om vrae te vra wat iets duidelik maak wat jy nie begryp het nie (sien Markus 9:32). Toeligting verminder misverstand en toon jou belangstelling in wat gesê word.

4. Besin

Som op wat jy gehoor het en hoe jy verstaan wat die ander persoon voel. Dit help hulle om te weet of jy hulle verstaan het en gee hulle ʼn kans om te verduidelik.

5. Vind Gemeenskaplike Grond

Jy mag dalk nie met alles wat hulle sê ooreenstem nie, maar stem saam met wat jy kán sonder om jou eie gevoelens wan voor te stel. Deur vriendelik te wees kan help om angs en weerstand te ontlont (sien Matthéüs 5:25).

President Russell M. Nelson het geleer dat ons moet “leer om te luister, en luister om van mekaar te leer.”3 Soos wat jy luister met die doel om van ander te leer, sal jy in ʼn beter posisie wees om hulle behoeftes te verstaan en aansporing van die Heilige Gees te hoor oor hoe jy vir diegene rondom jou kan omgee soos wat die Verlosser sou.

Luister Is Om Lief Te Hê

ʼn Storie deur Ouderling Holland illustreer die mag van luister:

“My vriend Troy Russell het sy bakkie stadig uit sy motorhuis getrek. … Hy het gevoel hoe sy agterwiel oor ʼn hobbel rol. … Hy het uitgeklim en sy kosbare nege-jarige seun, Austen, gesig na onder, op die grond sien lê. … Austen was dood.

“Troy kon nie slaap of vrede vind nie, en was ontroosbaar. … … John Manning … het in daardie pynlike tyd ingestap. …

“Ek weet nie volgens watter skedule John en sy junior metgesel die Russell-huis besoek het nie. … Maar wat ek wel weet is dat Broer Manning die vorige lente vir Troy Russell van die tragedie van daardie oprit opgetel het asof hy klein Austen self opgetel het. Soos … die broer in die evangelie wat hy veronderstel was om te wees, het John die priesterskapsorg en onderhouding van Troy Russell oorgeneem. Hy het begin deur te sê: ‘Troy, Austen wil jou op jou voete terug hê—insluitende op die basketbalbaan—ek sal dus elke oggend om 5:15 v.m. hier wees. Wees gereed. …’

“‘Ek wou nie gaan nie,’ het Troy my later vertel, ‘want ek het Austen altyd saam met my geneem. … Maar John het daarop aangedring, en ek het gegaan. Van daardie eerste dag terug, het ons gepraat—of eerder ek het gepraat en John het geluister. … Dit was moeilik in die begin, maar soos die tyd aangestap het, het ek besef dat ek my krag in die vorm van [John Manning] ontvang het, wat my liefgehad het en na my geluister het, totdat die son eindelik weer in my lewe verrys het.’”4

Notas

  1. Jeffrey R. Holland, “Witnesses unto Me,” Liahona, Julie 2001, 16.

  2. Sien David A. Bednar, in “Panel Discussion” (worldwide leadership training meeting, Nov. 2010), broadcasts.lds.org.

  3. Russell M. Nelson, “Listen to Learn,” Ensign, Mei 1991, 23.

  4. Jeffrey R. Holland, “Emissaries to the Church,” Liahona, Nov. 2016, 62, 67.