Eerste Presidensie-boodskap, Januarie 2018
Die Gawe van Bekering
President Thomas S. Monson het geleer: “Ons verantwoordelikheid is om van middelmatigheid tot bevoegdheid te vorder, van mislukking tot sukses.” “Ons taak is om ons beste self te word. Een van God se grootste gawes aan ons is die vreugde van weer probeer, want geen mislukking hoef ooit finaal te wees nie.”1
Ons assosieer die begin van ʼn nuwe jaar met voornemens en doelstellings. Ons besluit om te verbeter, te verander en weer te probeer. Dalk is die belangrikste manier waarop ons weer kan probeer, om wat President Monson “die gawe van bekering” noem, aan te gryp.2
In die volgende uittreksels uit sy leringe sedert hy die President van die Kerk geword het, gee President Monson hierdie raad “en laat die versoenende bloed van Christus geld sodat ons vergifnis van ons sondes mag ontvang, en ons harte gereinig mag word.”3
Die Wonderwerk van Vergifnis
“Ons het almal al verkeerde besluite geneem. Indien ons nog nie sulke keuses reggestel het nie, verseker ek julle dat daar wel ʼn manier is om dit te doen. Die proses word bekering genoem. Ek pleit met julle om julle foute reg te maak. Ons Verlosser het gesterf om hierdie geseënde gawe aan jou en my beskikbaar te maak. Alhoewel die pad nie maklik is nie, is die belofte eg: ‘Al was jou sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu’ [Jesaja 1:18]. ‘En Ek, die Here, dink nie meer aan hulle nie’ [L&V 58:42]. Moenie jou ewige lewe in gevaar stel nie. Indien jy gesondig het, hoe gouer jy begin om jou pad terug te vind, hoe gouer sal jy die soete vrede en vreugde vind wat saam met die wonderwerk van vergifnis gepaard gaan.”4
Keer Terug na die Pad
“Alhoewel dit noodsaaklik is dat ons reg kies, sal daar tye wees wanneer ons dwase besluite sal neem. Die gawe van bekering wat deur ons Verlosser verskaf is, stel ons in staat om ons koersverstellings reg te stel, sodat ons na daardie pad kan terugkeer wat ons na die selestiale heerlikheid sal lei waarna ons soek.”5
Die Pad Terug
“Indien enige van julle op julle reis gestruikel het, verseker ek julle dat daar ʼn pad terug is. Die proses word bekering genoem. Alhoewel die pad moeilik is, hang jou ewige heil daarvan af. Wat kan meer waardig wees van jou pogings? Ek pleit met julle om hier en nou te besluit om die stappe te neem wat nodig is om volkome te bekeer. Hoe gouer julle dit doen, hoe gouer sal julle die vrede en stilte en versekering kan ondervind waarvan Jesaja gepraat het [sien Jesaja 1:18].”6
Mense Kan Verander
“Ons moet in gedagte hou dat mense wel kan verander. Hulle kan slegte gewoontes oorkom. Hulle kan van oortredinge bekeer. Hulle kan waardige draers van die priesterskap wees. En hulle kan die Here ywerig dien.”7
Word Weer Skoon
“Indien daar enigiets kortkom in jou lewe, is daar ʼn uitkomkans vir jou. Hou op met enige ongeregtigheid. Praat met jou biskop. Wat ook al die probleem, dit kan deur opregte bekering opgelos word. Jy kan weer eens skoon word.”8
Die Verlosser se Noodsaaklike Rol
“Noodsaaklik in hierdie plan [van saligheid] is ons Verlosser, Jesus Christus. Sonder sy versoenende offerande, sou alles verlore wees. Dit is nietemin nie genoeg om slegs in Hom en sy sending te glo nie. Ons moet werk en leer, soek en bid, bekeer en verbeter. Ons moet God se wette ken en hulle lewe. Ons moet sy reddende ordinansies ontvang. Slegs deur dit te doen sal ons ware, ewige vreugde ontvang.”9
© 2018 deur Intellectual Reserve, Inc. Alle regte voorbehou. Gedruk in VSA. Engelse goedkeuring: 6/17. Vertalings goedkeuring: 6/17 Vertaling van die First Presidency Message, January 2018. Afrikaans. 15045 501