Kerkgeskiedenis
Vind Hoop in die Tempel


Vind Hoop in die Tempel

Tydens hulle troue in 1946 het John Mavimbela en Julia Ngubeni besef hulle het die ringe vergeet. Terwyl Julia en die dominee gewag het, het John uitgehardloop om te kyk vir ʼn oplossing en met ʼn gordynring teruggekom om aan sy bruid se vinger te steek.

Dit was die begin van ʼn pragtige huwelik. Die paartjie het hul in Everton, naby Durban, gevestig waar John ʼn winkel gehad het en hulle het ʼn familie begin. “My pa was ʼn baie liefdevolle man,” het hulle dogter Thoba later onthou. “Hy het haar met die huiswerk gehelp, en dit was in daardie dae taboe. En hy het die kinders se doeke omgeruil.” Maar tragedie het in die somer van 1955 toegeslaan, toe John in ʼn motorongeluk gedood is. “Dit was ʼn emosionele, geestelike slag,” onthou Thoba. Julia is agtergelaat om op haar eie vir die kinders te voorsien en hulle groot te maak.

Sy het haar bes gedoen om hulle te troos. “Sy het vir ons gesê om nie te voel dat ons nie ʼn Vader het nie, want Hemelse Vader het belowe om ʼn vader vir die vaderlose te wees,” het Thoba gesê. Maar Julia het gesukkel om die verlies te verwerk. Rasse vooroordeel in die ondersoek na John se dood het haar met ʼn dieper persoonlike bitterheid teenoor diskriminasie in Suid-Afrika gelaat. Die kerk wat sy op daardie stadium bygewoon het was nie altyd ʼn vertroosting nie: as gevolg van ou vrese oor voorouer-aanbidding was dit nie aangemoedig om oor die dooies te praat nie. “Dit het my baie seergemaak,” onthou Julia. “Ek het gesê, hoe kan ek as ek my ouers so baie liefgehad het, my man so baie?”

Amper 30 jaar later in 1981 het Julia Mavimbela twee jong blanke mans gesien wat gehelp het met ʼn diensprojek in Soweto en geleer dat hulle Laaste Dae Heilige sendelinge was. Sy het hulle in haar huis verwelkom, meer uit nuuskierigheid as godsdienstige belangstelling, maar gou het die sendelinge haar uitgevra oor ʼn foto van John en geïnspireer gevoel om haar van plaasvervangende doop vir die dode te leer. “Toe het ek begin luister, regtig luister, met my hart,” onthou Julia. “Soos die sendelinge my die beginsel van ewige verhoudings geleer het, het ek die gevoel gehad dat hier is die manier om met my ouers en my man te wees.” Sy is ʼn paar maande later gedoop.

ʼn Jaar na Julia se doop is die grond gebreek vir ʼn tempel in Johannesburg—die eerste in Afrika. Die voortgaande stryd teen apartheid het soms reis van haar huis in Soweto na die tempelterrein bemoeilik, maar Julia het voortgegaan om te kyk hoe die tempel vorder, selfs haar pad verby ʼn padblokkade gepraat die dag toe die engel Moroni op die toring geplaas is sodat sy kon kyk hoe die standbeeld opgaan. Na die tempel se toewyding in 1985, was Julia uiteindelik in staat om ordinansies te ontvang en uit te voer. Ten spyte van die onregte buite die tempel, het sy ʼn groot gevoel van vrede binne sy mure ervaar. “Terwyl ek my ordinansies in die tempel gedoen het, het ek die gevoel gekry dat ons almal op aarde as een is,” het sy gesê. “Daar is geen sweem van Afrikaner. Daar is geen Engelse. Daar is geen Sotho of Zoeloe. Jy ken daardie gevoel van eenheid.”

Beeld
Julia Mavimbela

Julia Mavimbela werk as ʼn ordinansie-werker in die Johannesburg Suid-Afrika-tempel, 1991

Julia is aan haar ouers en man geseël. By tye het sy ook vaagweg deur die sluier gesien. “Een dag het sy na die tempel gegaan,” onthou Thoba, “en sy het teruggekom en vir my gesê dat sy my pa gesien het.” Sy het ook gewerk om haar familiegeskiedenis te versamel. “Ma was baie ywerig met die hou van die familierekords,” het Thoba gesê. “Ons het ons familielede besoek. En sy het soveel as moontlik versamel.” Die werk het haar toegelaat om haar aan haar familie se verlede te verbind—en vir die toekoms voor te berei. Thoba het gesê: “Sy het gesê sy wil ons help om families in die ewigheid te wees.”